Deur God se genade ’n biddende gemeente wat mekaar in liefde dien en uitreik na die wêreld. Dit is ons gemeente-visie. As ons na die kerk in die boek Handelinge kyk, die eerste gemeente veral, en wat gemaak het dat die vroeë kerk so suksesvol was dat daar daagliks nog mense by die kerk aangesluit het, sien ons presies dit. Hulle was ’n biddende gemeenskap wat in liefde mekaar gedien het en uitgereik het na die wêreld.
Een van die eienskappe, of karaktertrekke, van die vroeë kerk is die besondere manier waarop hulle oop was vir nuwe lede; hulle gasvryheid.
Gasvryheid was van die vroegste tye ’n belangrike beginsel vir die volk van God. Daar word heelwat gesê in die Ou Testament oor die plek van vreemdelinge, en hoe Israel hulle oor vreemdelinge moes ontferm. Die saak van die vreemdelinge kry selfs in die Tien Gebooie wat ons netnou gelees het, aandag (Eks 20:10). Daarom kry ’n mens dadelik as jy van die vroeë kerk lees, die indruk dat daar ’n gees van hartlikheid onder die gemeentelede geleef het.
As ’n mens die beskrywing van die vroeë kerk in Hand 2:42-47 lees, kan jy nie anders nie as om die besondere hartlikheid in die eerste gemeente raak te sien. Hier was ’n buitengewone gemeente, wat naby aan die Here geleef het, hulle toegelê het op sy Woord, en omgegee het vir mekaar. En toe dít gebeur, het mense dit agtergekom. Die buitestanders het hulle geag, en daagliks het daar nog mense by hulle aangesluit.
Die kerkhistorici sê die rede waarom die vroeë kerk so vinnig gegroei het, het presies hier gelê: by die besondere kwaliteit van die gemeente. Mense het gesien en aangevoel dat daar ’n egtheid, ’n hartlikheid, ’n vreugde, in die gemeente was, en dit het hulle aangetrek. Die geheim van die mense wat by die gemeenste aangesluit het, was nie hulle sendingwerk nie, maar hulle gasvryheid, want mense wat nuuskierig was oor wat in die gemeente aan die gang is en kom kyk het, is ingetrek, welkom laat voel, en – hulle het gebly. Daarom staan hier: “Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (2:47).
Maar alles het ongelukkig nie so rooskleurig gebly nie. Die gemeente in Jerusalem was almal Jode, en dié wat by hulle aangesluit het, was óók Jode. Maar toe Petrus se pad met Kornelius kruis, was die vet in die vuur, want sien, Kornelius was nie ’n Jood nie. Hy was ’n Romein, nie een van hulle nie. Vir die eerste gemeente het dit gevoel Petrus het ’n reël gebreek toe hy in die Romein se huis ingaan en selfs saam met hulle geëet. Dit was nie deel van die ooreenkoms nie, het hulle gemeen. Almal is welkom, ja, mits dit Jode was, of dan, mits hulle eers Jode geword het. Dán kon hulle aansluit. Maar as hulle nie Jode was nie, was hulle nie welkom nie. Klaar. Die feit dat Kornelius en sy hele huis gelowig geword het, was nie ter sprake nie. Hoor hoe reageer hulle (11:3): “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”
Dis nogal insiggewend dat Lukas Petrus se hele lang relaas oor wat gebeur het, in sy boek insluit (hoofstuk 11:1-17 is grotendeels ’n herhaling van hoofstuk 10). As ’n mens in ag neem dat Lukas net sóveel plek in sy boek gehad het (’n papirusrol was omtrent 11 meter lank, en klaar), is dit betekenisvol. Hy kon nie álles wat hy wou, vertel nie; hy moes selekteer. En tog besluit hy om die verhaal van Kornelius 2 maal in sy boek op te teken. Hoekom? Omdat dit verskriklik belangrik was dat die kerk die boodskap moes hoor dat mense wat tot geloof kom, welkom is, ongeag hulle herkoms of stand. Want die kerk is vir almal, nie net vir die uitgesoekte gelukkiges nie. As hulle by die Here aanvaar word, moet die gemeente hulle ook aanvaar.
Die probleme in die kerk het ontstaan toe mense wat húlle dink en wil hê, tot die belangrikste maatstaf in die gemeente verhef het. Want as dít eers gebeur, word alles skeefgetrek. Dan word klem op verkeerde plekke gelê. Dan gaan dit nie meer om wat God wil vir sy kerk nie, maar om wat ék wil, en wat mý pas.
Toe die gemeente in Jerusalem dit gesnap het, het hulle houding verander. Hulle het God geprys omdat Hy nuwe mense in die gemeente ingevoeg het (11:18). As ’n mens duidelik kan onderskei tussen wat vir jou persoonlik lekker is, en wat God se wil is, kan die kerk groei.
Dit is dalk die uitdaging vir ons vandag. Ons wil almal hê nuwe mense moet deel van die gemeente word. Maar dalk is daar by ons gesindheid en houding dinge wat dit verhinder. Een van die dinge, dink ek, is dat ons vriendelik is met vreemdelinge, maar nie uit ons pad gaan om mense tuis te laat voel nie. Ek lees iewers van ’n gemeente wat ’n sg. 5 minute reël ingestel het: jy mag vir die eerste 5 minute ná die erediens nie met iemand wat jy ken, gesels nie. Jy moet met mense gesels wat jy nie ken nie, of nog nie ontmoet het nie.
Ek onthou, enkele jare gelede, hoe ’n nuweling by ’n basaarvergadering opgedaag het. Mense het hom vriendelik gegroet, maar niemand het met hom gaan gesels nie, totdat hy later gesê het dit lyk nie vir hom of ons hom nodig het nie.
Die kerk in Handelinge het ook hiermee gesukkel, tot hulle raakgesien het dat God aan die werk is, en toe kon hulle juig oor wat God besig was om te doen. Kom ons maak dit ook vir ons ’n gebedsaak: dat God ons sal help om te sien waar Hy werk, sodat ons ons in sy werk kan verbly en die gemeente kan groei.
Kom ons maak ons harte en arms oop vir mekaar, en vir vreemdelinge.
Amen.