Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Psalm 103:14

Ek is seker jy was ook al daar. Dit kan gebeur na aanleiding van ’n gedeelte wat jy in jou stiltetyd bestudeer het, of oor ’n preek waarna jy geluister het, of bloot nadat jy vir die soveelste keer maar wéér in dieselfde slaggat getrap het. Jy voel soos ’n skurk, so totaal onwaardig voor die Here. Hy het so baie vir ons gedoen, sy lewe vir ons gegee, en dis die dankie wat Hy kry: ’n lewe waarin die sonde steeds alte lewendig is.

As ek maar weer aan myself en aan die Here moet erken dat ek gefaal het, troos Psalm 103:14 my. God verstaan my. Hy weet ek is nie volmaak nie; ek is ’n mens wat ook soms (en selfs dikwels!) faal. En as Hy my beoordeel, hou Hy dit in gedagte. Gelukkig doen Hy dit, anders het nie een van ons dit gemaak nie.

Die rede waarom Hy ons swakhede verstaan, is nie net omdat Hy ons gemaak het nie. Dis ook omdat Hy self ’n mens geword het en daarom eerstehands kennis dra van ons swakhede. In Heb. 4:15 stel die Hebreërskrywer dit só: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp …”

As die heilige, vlekkelose God dan só met ons, sondig soos ons is, kan maak, hoekom nie ons ook met mekaar nie? Moet ons dan nie ook vir mekaar se swakhede begrip hê nie? Dis tog wat die Here Jesus ons geleer het: dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal voordat ons so selftevrede die vinger op die ander se foute druk (Matteus 7:5). En op ‘n ander plek waarsku Hy dat ons ons eie vergifnis by God kan verbeur as ons nie ‘n vergewende hart vir mekaar het nie. Lees gerus weer die ontstellende gelykenis in Matteus 18:21-35!

image_pdfimage_print

Views: 28

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.