Ek wil vir julle vertel van Dodo die apie en Koki die krokodil.
▸ Julle weet mos wat is ’n krokodil, nè?
▸ Het julle al gesien hoe groot is ’n krokodil se bek?
Dodo sit op die wal van die groot rivier wat reg deur die hart van die oerwoud loop. Die water vloei sterk en diep en breed. Sy oë bly vasgenael op die oorkant, want dit lyk vir hom baie lekkerder daar as aan hierdie kant van die rivier. Hy kan die goue trosse piesangs aan die oorkant sien, en die rooi-geel van die mango’s blink in die middagson. Dodo lek sy lippe af. As hy maar net aan die anderkant kon kom!
Sy pa Bobo het hom al baie kere gewaarsku om dié droom uit sy kop te sit. “Die rivier is te diep en te gevaarlik, Dodo,” het sy pa gesê. “Jy kan nie anderkant kom nie. Die water vloei te sterk. En buitendien is daar krokodille in die rivier. Hulle sal jou opvreet lank voordat jy aan die anderkant kom. ’n Krokodil se bek is yslik groot. Hy sal jou met een hap sommer heel insluk!” beduie sy pa met sy arms, en sy oë is groot.
Dodo weet nie of hy sy pa kan glo nie. Vir hom lyk die rivier glad nie gevaarlik nie. Dit vloei dan so rustig en saggies by hom verby. En hy het al baie na die krokodille gesit en kyk. Hulle lyk ook nie vir hom gevaarlik nie. Hulle dryf dan so stil deur die water. Eenkeer het hy ’n krokodil glad vir ’n boomstomp aangesien! En ’n boomstomp is mos nie gevaarlik nie.
▸ Was Dodo reg om so te dink, kinders?
So sit Dodo op die wal van die rivier en dink. Hy sluk ’n paar keer, want net die gedagte aan die heerlike piesangs aan die anderkant laat sy mond water. Hy sal sy pa wys, én vir Toekoe, sy maatjie, want dié is net so bang soos sy pa vir die rivier. Maar hy wat Dodo is, laat hom nie so maklik skrik op die lyf jaag nie.
“Wat loer jy so oor die water, Dodo?” vra ’n stem uit die rivier, sommer hier vlak voor hom.
Dodo skrik hom boeglam. Dis Koki die krokodil wat so stilletjies nader geswem het dat Dodo hom nooit eens gesien het nie! Sy hart klop soos hamerhoue in sy ribbekas, maar hy hou hom dapper. “Nee, oom Koki,” sê hy vir die krokodil, “ek kyk sommer na die lekker piesangs daar aan die anderkant van die rivier.”
“Dit sal darem lekker wees om aan daardie kant van die rivier te kom, of wat dink jy?” vra Koki.
Dodo se aapkoppie wip eintlik soos hy knik. “Ja, oom Koki, ek dink ook so. Maar Oom sal mos weet. Oom kan mos maklik daar kom.”
“Dis wonderlik, Dodo, maar hoekom gaan kyk jy nie self nie?”
“Ek wil baie graag, Oom, maar hoe gaan ek daar kom? Die water loop ’n bietjie te sterk, en buitendien sê my pa ek moet oppas, want die krokodille sal my opeet.” Dodo se stemmetjie bewe, want hy is na aan trane.
“Ag, jou pa praat sommer onsin,” gryns Koki. “Het jy al ooit gesien hoe vang ’n krokodil ’n apie?”
Dodo skud sy kop. “Nee, oom Koki, maar my pa sê …”
“Jou pa is sommer net lelik met jou,” onderbreek Koki vir Dodo. “Ons krokodille is eintlik baie gawe kêrels, al dink julle nie so nie. Ek het dan nou spesiaal na jou toe gekom om te kom hoor hoekom jy so treurig lyk. Sou ek dit gedoen het as ek ’n nare ou aapvreter was?”
Dodo skud weer sy kop. “Seker nie, oom Koki.”
▸ Dink julle dis ’n goeie plan om met die krokodil te gesels?
Koki die krokodil grynslag, en sê so liefies soos wat hy kan: “Ek sal jou na die anderkant toe vat as jy wil. Jy sit net op my rug. Jou pote sal nie eers nat word nie.”
Dodo wip so ’n springetjie terug. “Nee, oom Koki! My pa het gesê ek moet wegbly van die krokodille af.”
Koki skud sy kop treurig. “Jou pa is sommer net ’n pretbederwer. Maar ek sê jou wat: ek belowe ek sal vir niemand sê jy het op my rug gery nie.”
Dodo lek sy lippe af. Hy is darem baie lus vir die heerlike piesangs anderkant die rivier. Haastig kyk hy om om te sien of iemand hom sien, maar daar is niemand nie. Dan sê hy: “Belowe vir my Oom sal nie klik nie.”
Koki knik ernstig. “Ek belowe. Toe spring op, dan vat ek jou gou.”
Dodo kyk nog ’n slag rond, en loop dan versigtig nader. Maar dan steek hy weer vas as hy Koki se verskriklike bek sien. Sy hartjie klop woes. “Netnou vreet Oom my op as ek eers op Oom se rug is,” stotter hy.
“Ag nee, ek sal dit nooit as te nimmer doen nie! Ek belowe ek sal jou nie seermaak nie. Toe, klim nou op, voor iemand anders ’n plan maak en al jou piesangs opvreet.”
Dodo klouter haastig op die krokodil se rug. Hy ril effens as hy die klam, koue skubbe van die krokodil onder sy pote voel, maar dan dink hy weer aan die piesangs, en hy glimlag. “Ek is op, oom Koki. Oom kan maar laat waai!”
Koki gly stadig die water in, en daar gaan hulle.
Net toe kom Dodo se beste maatjie Toekoe daar aan. “Dodo, wat maak jy?” gil hy benoud. “Spring af van die krokodil se rug. Hy gaan jou opvreet!”
▸ Wat dink julle moet Dodo doen?
Toekoe hardloop heen en weer op die wal en swaai en beduie woes met sy aap-armpies. “Spring af, Dodo!” skreeu hy oor en oor.
Teen dié tyd is Dodo glad nie meer skrikkerig vir Koki nie, en hy kom kordaat regop op die krokodil se rug. “Jy is net jaloers omdat ek die lekkerste piesangs gaan kry,” skreeu hy terug.
“Nee, Dodo, die krokodil gaan jou opvreet!”
“Is nie. Jy is net jaloers, want ek ry tog lekker op oom Koki se rug en jy nie, whê la kepêla,” koggel Dodo.
“Spring af, Dodo! Kom terug voor dit te laat is,” kerm-huil Toekoe op die wal.
“Ou bangbroek, ou bangbroek,” bly Dodo ewe grootbek koggel.
Toe Koki in die middel van die rivier kom waar die water diep en sterk vloei, hou hy op met swem. Skielik is Dodo nie meer so dapper nie. “W … Wat maak Oom nou?” vra hy versigtig, en hy kruip agtertoe, na die krokodil se stert, weg van daardie vreeslike bek vol skerp tande.
▸ Was dit maklik om op die krokodil se rug te kom?
▸ Kon hy weer daar afklim toe hy eers op was?
Dodo skuif al verder agtertoe, totdat hy later bo-op Koki se stert sit. Sy hele lyfie bewe, so bang is hy. “Oom Koki het belowe,” prewel hy.
Koki maak sy bek oop. Dis net rye tande waar jy kyk. “Ek het belowe, ja, maar het jou pa nie vir jou gesê jy kan ’n krokodil nooit glo nie?”
Toe swiep hy sy stert met Dodo en al, en daar trek Dodo die lug in. Toe hy afkom, gaan Koki se groot bek wyd oop en klap weer toe. Net Dodo se klein armpies steek weerskante by sy bek uit.
Weet julle wat ou Koki se regte naam is? Sy naam is SONDE. Die Here sê in die Bybel vir ons in Gen. 4:7: “Onthou, sonde is soos ’n wilde dier wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet.” (Die Boodskap)
As ons vir die sonde weghardloop en by die Here Jesus wegkruip, is ons veilig, want Hy het die sonde gewen op Golgota. Hy sal julle help. Amen.