Koning Salomo veels te slim

Van ons paleisverteenwoordiger

JERUSALEM. – Twee prostitute het regters hier laat kopkrap toe die een die ander van kinderdiefstal beskuldig het. Uiteindelik moes die koning self ’n uitspraak gee.

Dié twee, wat saam in ’n huis woon, het albei pasgebore babaseuntjies gehad. Die aangeklaagde se baba het egter volgens die klaagster laas nag in die bed versmoor. Na bewering het sy toe stilletjies haar dooie seuntjie met dié van die klaagster omgeruil.

Volgens die klaagster het sy vanoggend met ’n skok ontdek dat haar seuntjie dood is, net om daarna te sien dat dit haar “vriendin” se seuntjie is wat in haar bed lê. Haar eie springlewendige seuntjie was toe by die ander vrou in die bed. Sy ontken dié aanklag ten sterkste, en sê die hele storie is ’n versinsel. Ten einde raad het die regter, na raadpleging van sy kollegas, die saak na die koning verwys.

Die jong koning Salomo het op onortodokse wyse met ’n briljante uitspraak vorendag gekom. Nadat hy albei prostitute aangehoor het, het hy beveel dat ’n swaard na hom gebring moet word. Toe gee hy hierdie ongewone bevel: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ’n helfte!”

’n Geskokte stilte het in die troonkamer geheers totdat die een vrou voor die koning se voete geval en begin pleit het: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie!” Die ander vrou was egter doodtevrede met die koning se beslissing, en het gesnou: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!” Te laat het sy besef dat sy hiermee haarself weggegee het.

Koning Salomo het opdrag gegee dat die seuntjie aan sy ma terugbesorg moet word. ’n Saak van kinderdiefstal en dwarsboming van die gereg word nou ondersoek.

 

Twee kerkleiers bots

Is dit dalk die begin van die einde vir jong kerk?

Van ons Nuwe Testament redaksie

ANTIOGIË. – Harde woorde het gister geval toe twee van die voorste leiers van die Christelike Kerk mekaar hier die stryd aangesê het oor beleidsake.

Paulus van Tarsus, een van die plaaslike gemeente se leiers, het dit naamlik gewaag om niemand minder nie as Simon Petrus skerp tereg te wys, en dit nogal in die teenwoordigheid van die hele gemeente. Simon Petrus word allerweë as die leier van die kerk beskou sedert die stigtingsdag. Hy is tans uit Jerusalem op besoek aan die gemeente.

Die botsing was, volgens Paulus, oor dieselfde saak as dié waaroor die onlangse sinode in Jerusalem ’n ondubbelsinnige uitspraak gelewer het, naamlik die plek van die Joodse gebruike in die kerk. Hy het aan Die Bybelkoerant gesê dit is onaanvaarbaar om Christene te wil dwing om soos ’n Jood te lewe. Hy beweer dat Petrus onbewustelik dié indruk geskep het deur nie saam met nie-Joodse Christene te eet nie. “Ek besef dat my optrede ons broer Petrus in die verleentheid gestel het, maar onder omstandighede het ek nie ’n ander keuse gehad nie. Die waarheid van die evangelie van verlossing uit genade alleen is immers op die spel,” het hy gesê.

Pessimistiese lidmate het na die voorval gesê hulle vrees die skrif is aan die muur vir die eenheid van die kerk – ’n saak wat sedert die sinode van Jerusalem baie mooi ontwikkel het. Mense wat Petrus goed ken, is egter vol vertroue dat hy dié klap in die gesig sal verwerk.

 

KOM NA ANTIOGIË

  • die derde grootste stad in die Romeinse Ryk,
  • florerende handelsentrum,
  • speelplek van die rykes,
  • die poort na Arabië en Mesopotamië, en
  • kultuursentrum van Klein-Asië.

Ons stad sal jou betower!

 


Onderskeidingsvermoë

Dis nie aldag maklik om te weet wat reg is en wat verkeerd is nie. Wie egter biddend sy wysheid by God soek, soos die jong koning Salomo, ontdek dat hy nie radeloos bly nie (vgl. 2 Kor. 4:8).

Dit was ook die gebed van Paulus vir die lidmate in Filippi (1:9,10a): “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.” Hierdie onderskeidingsvermoë het hom gehelp om in Antiogië te sien dat die pad waarop Petrus hom begewe, uiteindelik die belydenis dat Christus alleen genoeg is vir ons verlossing, in sy hart aantas.

Jy sal vandag ook hierdie begrip en fyn aanvoeling nodig hê. Hoe wonderlik dat ons die Gees wat wysheid en insig gee (Jes. 11:2) van God ontvang het!

image_pdfimage_print

Views: 14

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.