Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Die rooi tapyt is behoorlik uitgerol vir die hooggeplaaste diplomate van Babel wat vandeesweek op ’n staatsbesoek in die stad aangekom het.
Die gesante het geskenke en die goeie wense van koning Merodak-Baladan van Babel aan koning Hiskia kom oordra na sy onlangse wonderbaarlike herstel van ’n ernstige siekte. Diplomatieke kenners het dié besoek as veelseggend bestempel en gesê dit hou baie belofte in vir toekomstige samewerking tussen die twee lande.
Volgens die koning se perssekretaris het koning Hiskia nie net die gesante gul in sy paleis ontvang nie, maar hulle ook persoonlik op ’n toer deur die stad vergesel. Hulle het onder andere die staatstesourie, die wapenarsenaal en ander militêre instellings besoek. Hy het die belangrikheid van die sending beklemtoon, en gesê Juda is bevoorreg om ’n bondgenoot soos Babel te kan hê.
- Lees meer oor hierdie besoek, asook die profeet Jesaja se kommentaar daarop, in 2 Kon. 20:12-19.
Stadsbestuur met rooi gesigte na groot blaps
Van ons Nuwe Testament redaksie
FILIPPI. – Dit was ’n ongewone gesig toe die hoogwaardige stadsbestuur vanoggend persoonlik na die tronk gegaan het om twee aangehoudenes om verskoning te gaan vra en uit die tronk vry te laat.
Hulle het die twee gister sonder ’n verhoor lyfstraf laat gee en hulle daarna in die tronk laat opsluit met hulle voete in houtblokke. Dit het vanoggend aan die lig gekom dat die mans albei Romeinse burgers is.
Die twee, ene Paulus van Tarsus en sy vriend Silas, is al geruime tyd in die stad om ’n nuwe godsdiens bekend te stel. Gister het daar egter probleme ontstaan toe Paulus ’n waarsêersgees uit ’n slavin gedryf het omdat sy hulle glo al dae lank agtervolg. Haar eienaars het daarop die twee voor die stadsbestuur gesleep op ’n aanklag van oproermakery. Hulle is sonder ’n verdere woord deur die stadsbestuur laat slaan en opgesluit.
Die stadsbestuur het vanoggend die polisie na die tronk gestuur met die opdrag dat die manne losgelaat moet word. Hulle is ook beveel om die stad onverwyld te verlaat. Die twee het egter geweier om soos misdadigers die stad te verlaat. Hulle het hulle op hulle Romeinse burgerskap beroep en aangedring op ’n persoonlike verskoning van die stadsbestuur. Dit het hulle toe vanoggend van ’n verleë stadsbestuur gekry.
- Lees hiervan in Hand. 16:11-40.
AARDBEWING SKUD STAD WAKKER
FILIPPI. – ’n Groot aardbewing het omstreeks middernag verlede nag die stad wakker geskud. Talle berigte van skade is ontvang, maar gelukkig is niemand in die skudding dood nie.
Die gebou wat die ergste deurgeloop het, is die plaaslike tronk. Volgens die hoof van die tronk is die mure só in die aardbewing beskadig dat feitlik al die selle nou onbruikbaar is. “Die seldeure het sommer uit hulle skarniere geval,” het hy gesê. Hy het egter die inwoners van die stad verseker dat hulle steeds veilig kan slaap. Geen misdadiger het ontsnap nie.
- Lees dit in Hand. 16:25-28.

Passie vir God en sy saak
“Verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig …” Só klink die opdrag wat Paulus aan Timoteus oordra (2 Tim. 4:2). En dit was nie maar net ’n vroom opdrag nie; vir Paulus was dit ’n leefwyse, soos ons duidelik in Hand. 16 kan sien. Nadat hulle stukkend gestaan is en in voetboeie in die tronk sit, sing hy en Silas lofliedere! Wat ’n getuienis moes dit nie vir die ander gevangenes gewees het nie! Geen wonder nie dat die bewaarder se eerste woorde aan hulle was: “Wat moet ek doen om gered te word?”
Koning Hiskia steek hierteen maar steg af. Hy wys aan die gesante al sy skatte, maar hy vertel hulle niks van die grootste skat nie! Nie ’n enkele woord oor die wonderlike God wat sy gebed verhoor en hom genees het nie. Dit sou tog die natuurlikste ding ter wêreld wees! Maar hy sê niks.
Hoeveel geleenthede gaan daar nie in ons lewe verby nie, geleenthede wat ons nie hoef te skep nie! En dan mis ons dit, om eers agterna met spyt te dink: nou het ek ’n gulde kans om te getuig, verlore laat gaan.
Waarom? Miskien omdat ons ook, soos Hiskia, só ingestel is op indruk maak, so besig met onsself en ons eie klein koninkrykies, dat ons God en sy koninkryk uit die oog verloor. Of miskien omdat ons nie, soos Paulus en Silas, ’n drang het om mense van hulle verkeerde pad na die Lewe te lei nie. Of miskien is dit doodgewoon omdat ons niks hét om oor te getuig nie, omdat ons godsdiens te leeg is, en daar niks is wat kan uitborrel by ons monde nie?
“Die liefde van Christus dwing ons,” skryf Paulus in 2 Kor. 5:14. Dwing sy liefde jou ook?
Views: 8