Reinhold Niebuhr het ’n baie treffende gebed gebid: “Here, gee my die vrede om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om te verander wat ek kan, en die wysheid om die verskil te ken.”
Dié wysheid is baie nodig om ’n oorvol lewe reg te ruk. Maar voor ’n mens kan besluit wat om aan jou lewe te doen as jy te min tyd het, moet jy eers bestek opneem en vir jouself uitmaak hoekom jy so min tyd het. Wat is die dryfveer agter jou oorvol program? Dit sal natuurlik van mens tot mens verskil, maar enkele dryfvere is:
- jy wil hê almal moet van jou hou, daarom kan jy nie nee sê nie;
- jy wil graag die bopunt van die leer bereik, daarom moet jy harder as jou kollegas werk;
- jy het meer geld nodig om die dinge te koop wat jy graag wil hê …
As een van dié soort dryfvere jou tyd opslurp, sal jy jouself moet afvra of jou gesondheid en jou huwelik en gesin en jou vriende dit werd is, want iewers gaan iets in die slag bly. Die lewe is eenvoudig so dat jy nie alles kan doen wat jy graag wil nie, en jy moet keuses maak.
Oor die algemeen is ons geneig om te veel te gou te wil hê. Daarom gaan ons skuld aan en moet ons die kers aan albei kante brand om kop bo water te hou. Leer om jou verwagtinge en jou smaak effens af te skaal. Ry ’n bietjie langer met jou ouerige motor. Koop minder klere. Eet minder uit. Aanvaar dat jou waarde as mens nie lê in wat jy het nie, maar in wie jy is en wat jy vir ander beteken.
Daar is natuurlik ook faktore wat buite jou beheer is, soos byvoorbeeld ’n werkgewer wat onmenslike en onbillike eise stel. As dít jou probleem is, kan ’n verandering van werk dalk die antwoord wees. Dit is ’n moeilike besluit om te neem, maar wie het gesê die lewe is maklik?
Views: 33