EVSAMS eis beter beskermingsmaatreëls vir hulle bedryf

Van ons Nuwe Testament redaksie

EFESE. – Die stad se sakesektor is gister hier tot stilstand gedwing toe duisende fanatieke aanhangers van die godin Artemis die stad se amfiteater twee uur lank beset en slagspreuke geskreeu het.

Aan die spits van die oproer was Demetrius, die sekretaris van EVSAMS, Efese se Vakbond vir Silwer- en Ander Metaalsmede. Hulle het geëis dat die stadsklerk hulle persoonlik te woord staan sodat hulle ’n versoekskrif aan hom kan oorhandig.

Die oproer spruit voort uit die vrees van die silwersmede dat die Christelike godsdiens hulle handel in silwerbeeldjies van die tempel van Artemis ’n gevoelige knou kan gee. Dié godsdiens het die afgelope tweejaar sterk gegroei, veral onder die leiding van Paulus van Tarsus. Volgens Demetrius voer die Christene ’n veldtog teen die godin Artemis en bring só die handel in tempelbeeldjies in diskrediet.

Die stadsklerk het eers na twee uur by die amfiteater opgedaag om die versoekskrif in ontvangs te neem. Hy het in ’n kort toespraak die skare tot kalmte gemaan en sy sterk afkeer uitgespreek oor die wyse waarop EVSAMS hulle griewe onder die stadsraad se aandag gebring het. Hy het onder meer gesê hy kan nie toelaat dat ’n onwettige volksvergadering die stadsbestuur dwing om aan hulle eise toe te gee nie. “As julle ’n klag teen iemand het, moet julle die regsproses sy gang laat gaan. Efese se howe en regters is daar om julle belange te beskerm,” het hy gesê.

  • Lees meer hiervan, en van Paulus se bediening in Efese, in Hand. 19.

 

Regum en Simsai se interdik teen Jode slaag; werk aan stadsmuur onbepaald gestaak

Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Die hoofamptenaar van die hervestigde gemeenskap in Samaria, Regum, en die sekretaris Simsai se interdik teen die Jode se bouwerk in Jerusalem het geslaag. Koning Artasasta van Persië het opdrag gegee dat alle restourasiewerk in Jerusalem tot verdere kennisgewing gestaak moet word.

In die dokument wat hulle aansoek om ’n interdik vergesel het, het Regum en Simsai betoog dat die Jode net soos hulle voorvaders sal rebelleer teen die koning sodra die stadsmuur herstel is.

Dié verwikkeling is ’n gevoelige terugslag vir die hervestigde Jode in Jerusalem en Juda, en volg op ’n jare lange stryd tussen hulle en die nie-Joodse bewoners van die omgewing. Sedert die Joodse ballinge deur ’n bevel van koning Kores van Persië toegelaat is om na hulle eie land terug te keer, koester hulle al die ideaal om die stadsmuur van Jerusalem te herbou en die verwoeste tempel te herstel. Na die koninklike bevel lyk dit nou of dit vir die afsienbare toekoms maar net ’n ideaal sal bly.

  • Lees hiervan in Esra 4. Lees ook die dramatiese verwikkelinge in Esra 5 en 6.

 


Die aanslae van Satan

Regdeur die Bybel kry ons dit: die voortdurende pogings van die duiwel om God se werk en God se volk te stuit. Dit was al so in die Tuin van Eden. Dit was so in die veelbewoë lewe van die Godsvolk van die Ou Testament, soos die frustrasies van die Jode in die boek Esra maar alte duidelik illustreer.

Dié teenkanting het in felheid toegeneem sedert Christus se koms. Hoe hard het Satan nie probeer om die opmars van die Evangelie in die tyd van Paulus-hulle te keer nie! En hoeveel gewillige bondgenote kry hy nie op aarde om sy vuil werk vir hom te doen nie.

Die Regums en Demetriusse van die wêreld is ongelukkig nog steeds met ons. Want hulle aanstigter, die duiwel, het nog nie gaan lê nie, al is hy dodelik gewond op Golgota, en al weet hy hy kan onmoontlik die stryd wen. Ook vandag sal Satan en sy trawante alles in die stryd werp om God se werk en God se kinders op aarde lam te lê.

Jesus het gesê (Joh. 16:33): “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Daarom sien ons nie net tekens van Satan en die wêreld se teenkanting teen God en sy kinders nie. Ons sien ook talle bewyse dat God oorwinnaar is: Regum slaag net tydelik, Demetrius se opstand kom tot niks, maar bowenal – op Paassondag was daar ’n leë graf!

God wil ook in jou lewe, en deur jou lewe, oorwinnings behaal – vandag! Soek daarom vandag jou krag in die Here en in sy groot mag … sodat jy op jou pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel (Ef. 6:10,11).

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.