Kinders is geskenke van Bo
Ek het ons huwelik met groot verwagtings begin. Ek het nie vir ’n oomblik daaraan getwyfel dat ons huwelik net so gelukkig sal wees soos ons onderskeie ouers s’n nie. Ek het geglo ons kinders sal ordentlik wees.
Ek onthou nog goed hoe verwonderd ek was by elkeen van my drie spruite se geboorte. Ek het iets beleef van die grootsheid van die skepping, en van die voorreg om te mag deel in God se skeppingswerk. Ek het nooit in my wildste drome kon dink hoeveel ons kinders se grootmaak van ons sou verg nie. Hulle het mos die manier om alles op te eis: jou tyd, jou energie, jou geld. Ek het agtergekom dat ons hele lewe, en ons huwelik, met die koms van ons kinders onherroeplik verander het. Aanvanklik het hulle baie fisieke aandag en versorging van ons geverg. Later, namate hulle ouer geword het, het hulle al meer emosionele eise aan ons gestel.
Ek en my vrou het nooit formeel ’n besluit hieroor geneem nie. Soos die kinders groter geword het, het hulle eenvoudig ’n al groter plek in ons gesinslewe ingeneem, en het ons al meer van onsself vir hulle gegee. Ons het geglo dit hoort so. God het hulle aan ons sorg toevertrou, en dit was ons verantwoordelikheid om hulle goed groot te maak.
Nie almal is so nie
In my naïwiteit het ek gedink dit gaan maar so in alle huise. My skoolmaats was goed-opgevoede kinders en het uit gelukkige, stabiele huise gekom, net soos ek. Ja, daar was in my jongdae ook stout kinders en gruwelike studente, maar ek het nie te veel van hulle geweet, of van die soort ouers wat hulle gehad het nie, want hulle was nie my vriende nie. Ek het nooit juis oor die rol wat hulle ouerhuis in hulle wangedrag gespeel het, gedink nie.
Ek het nooit kon vermoed dat dit in so ’n groot persentasie van huise so sleg gaan nie. Toe my kinders op hoërskool was, het hulle vertel dat dit in hulle maats se huise nie gaan soos by ons nie. In heelwat van hulle maats se huise het die gesin min dinge saam gedoen en het hulle min erg aan mekaar gehad. Hulle ouers was óf geskei óf het by mekaar en die kinders verby geleef. Heelwat van my kinders se maats was op skool al seksueel aktief. En dit ten spyte daarvan dat hulle ouers ordentlike en selfs gesiene mense is.
Bybelse voorbeelde
Dat kinders nie noodwendig soos hulle ouers is nie, is natuurlik nie ‘n nuwe verskynsel nie. In die Bybel is talle voorbeelde van mense wie se kinders die pad byster geraak het: Noag, Abraham, Lot, Isak, Jakob, Juda, Aäron, Eli, Samuel, Dawid, Salomo … Goeie, vroom mense met onhebbelike kinders. By verdere nadenke het ek ’n ander ontstellende ontdekking gemaak: daar is min karakters in die Bybel wat as rolmodel vir ’n suksesvolle pa in aanmerking kom! As ek so vinnig dink, is dit omtrent net Sebedeus, die pa van Jakobus en Johannes, en Sagaria, die pa van Johannes die Doper.
Nie so eenvoudig nie
Ek het oor die jare ontnugter geraak oor ouerskap. Ek is lank nie meer so naïef oor die huwelik soos wat ek as jong bruidegom was nie. Daarvoor het ek al te veel huwelike sien sneuwel, en te veel kinders wat onder groepsdruk swig omdat hulle huis nie vir hulle sekuriteit bied nie. Nie almal vaar watwonders in hulle huwelike nie.
Dit is nie te sê stoute kinders het slegte mense vir ouers nie. Dit is ongelukkig ook so dat goeie mense nie noodwendig goeie ouers is nie, en dat kinders van gelowige ouers nie vanselfsprekend gelukkig en goed aangepas en goedgemanierd grootword nie.
My ontnugtering oor die algemene gesondheid van die huwelik as instelling het natuurlik baie te doen met die feit dat so baie huwelike deesdae in die hof eindig. Maar die feit dat ons in die Bybel ook van talle huwelike lees waar die kinders nie soos die ouers is nie, sê tog dat dit nie maar net ’n geval is dat vandag se ouers nie weet hoe om kinders groot te maak nie.
Sukses kom teen ‘n prys
Nie alle Bybelse karakters was swak ouers nie. Ek vermoed die rede hoekom soveel mans in die Bybel so swak as pa’s gevaar het, is omdat die Bybelverhaal hom meestal besig hou met die belangrike figure, die leiers in die kerk en in die politieke wêreld van destyds. Suksesvolle mense. En dié sukses kom teen ’n prys. Jy kan beswaarlik suksesvol wees sonder om baie energie en tyd daarin te belê. Suksesvolle mense werk lang ure, is dikwels weg van die huis, en het ’n besige sosiale kalender. Dis nie bestanddele vir ’n gelukkige huis en goed-opgevoede kinders nie. Vra maar vir koning Dawid, of vir die profeet Samuel.
Harde werk
Iemand het gesê die belangrikste geskenk wat jy ooit aan jou kind kan gee, is om sy ma (op pa) lief te hê. ’n Kind kan nie gelukkig en geborge grootword in ’n huis waarin die pa en ma nie ’n liefdevolle verhouding het nie. En dit kom nie vanself nie. Dis dikwels harde werk. Dit vra offers. Maar daarsonder sal jou huis en jou kinders te gronde gaan.
Besluit of jou kinders vir jou belangrik is. Jy weet mos wat is die antwoord, en daarom móét jy energie en tyd in hulle belê. Jou kinders gaan nie vanself goed grootword nie, en een ouer kan dit nie alleen doen nie. ’n Kind het ’n ma én ’n pa nodig. Jou kind het jóú nodig. Niemand anders kan jou kind se pa of ma wees nie. Net jy. Moenie jouself bluf met die storie dat jy hard werk ter wille van jou gesin nie, want dis nie waar nie. Jy doen dit vir jouself. Maar wat help dit jy wen die hele wêreld, maar jou kind gaan in die proses ten gronde?
Ek wil my haas om te sê daar is natuurlik uitsonderings op die reël. Ek ken enkel-ouers wat uitstekend vaar, en ek ken mense wat uit gebroke huise kom en tog gebalanseerde en gelukkig volwassenes is. God se genade kan enige stukkende situasie oordek. Dis jou troos as jy, ondanks jou beste pogings, iewers langs die pad sleg tweede gekom het. Alles is nie daarmee verby nie.
As jy jonk is
Moenie dat jou vriende se gebrekkige ouerhuise jou afskrik van die huwelik as instelling nie. Onthou, die huwelik is deur God ontwerp, en dit is steeds die beste plek om gelukkige en gebalanseerde kinders groot te maak. Bid elke dag dat jy die regte huweliksmaat sal kry wat bereid sal wees om saam met jou hard aan julle huwelik te werk, want dan sál julle gelukkig wees en oulike kinders hê.
Views: 31