MACHAERUS (PEREA). – Die alombekende en beminde boeteprediker van die Jordaanvallei, Johannes seun van Sagaria, is gister hier tydens ’n verjaardagfees van die viervors Herodes Antipas onthoof.
Johannes het in die volksmond die bynaam Die Doper gekry na aanleiding van sy praktyk om mense wat op sy boeteprediking reageer, te doop. Hy het etlike jare lank as prediker-profeet in die laer-Jordaanvallei opgetree, en het groot skares mense met sy prediking gelok.
Johannes die Doper was veral bekend vir sy vreeslose veroordeling van dit wat in die samelewing verkeerd is. Dit het uiteindelik ook sy dood gekos, aangesien hy Antipas se tweede vrou, Herodias, die harnas ingejaag het toe hy haar huwelik met Antipas, die halfbroer van haar eerste man, as ongeoorloof veroordeel het. Sy het gister haar kans gekry om wraak te neem toe haar dogter Salome op die fees vir haar stiefpa en sy gaste gedans het. As beloning hiervoor het Antipas haar enige iets wat haar hart begeer, belowe. Op advies van haar moeder het sy Johannes se kop op ’n skinkbord gevra.
Politieke kenners wys daarop dat Johannes se dood baie gerieflik is vir Antipas. Die vors was volgens betroubare bronne bang dat Johannes ’n opstand van die Nabatiërs teen hom kon aanvoer. Na Johannes se kritiek op Antipas het hy oornag ’n volksheld in Nabatea geword.
- Lees hiervan in Mark. 6:17-29.
Stad in oproer; polisie gryp in om man te red
JERUSALEM. – Net die flink optrede van die kommandant van die Romeinse garnisoen het gister hier voorkom dat ’n woedende skare ’n man – nogal ’n Romeinse burger – vlak voor die tempel doodslaan.
Sover vasgestel kan word, het die probleem ontstaan toe party Jode die man, ene Paulus van Tarsus, daarvan beskuldig het dat hy Grieke in die tempel ingeneem het. Verder word beweer dat hy die wet van Moses en die tempel op sy uitgebreide reise in die buiteland in diskrediet bring.
Die skare het gou op loop gesit en Paulus gegryp en uit die tempel gesleep. Die tempel se deure is onmiddellik gesluit. Die histeriese skare sou die man doodgemaak het as ’n boodskap nie die kommandant van die Romeinse polisie betyds bereik het nie. Hy het onmiddellik met ’n polisieafdeling en offisiere na die oproer gehardloop en ingegryp.
Uiteindelik was die kommandant verplig om Paulus geboeid na die kaserne te neem omdat die skare só geskreeu en gejil het dat hy hom nie kon ondervra nie.
Intussen het Bybelkoerant vasgestel dat Paulus tot ’n aantal jare gelede nog ’n hoog aangeskrewe rabbi in die Joodse godsdiens was, en een van die voorste opkomende jong leiers. Hy was destyds ook aan die spits van die hewige vervolging teen die sogenaamde Christen-sekte. Sedertdien het hy hom egter by hierdie einste sekte aangesluit, en hy word nou deur die Joodse owerhede en fanatieke godsdiensleiers as ’n volksverraaier beskou.
Volgens ’n woordvoerder van die Romeinse garnisoen het die kommandant opdrag gegee dat die priester-hoofde en die volle Joodse Raad moet vergader om die saak op ’n ordelike manier te hanteer. Die vergadering is vir vanoggend geskeduleer.
- Lees dit in Hand. 21:17 – 22:30.
Nie soos óns wil nie
Ons ken almal die bittere teleurstelling as jou sake nie uitwerk soos jy gehoop het nie. Soos die teleurstelling van Johannes die Doper, wat uit die tronk vir Christus laat vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Matt. 11:2,3). Want Johannes het met groot entoesiasme verkondig dat mense hulle moet bekeer, want die koninkryk van die hemel het naby gekom: “Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi … Hy wat ná my kom … sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak …” (Matt. 3:10,12). En toe kóm Jesus, en bring nie die oordeel soos Johannes verwag het nie, maar vertel die mense van God se liefde. Want God se oordeel werk anders as wat Johannes verwag het.
Iets hiervan moes Paulus ook beleef het toe hy gevang is in ’n stadium toe hy as vry man soveel mense en lande nog kon bereik met die Evangelieboodskap. Maar God se plan vir hom het anders geloop.
Geloof is om God toe te laat om sy pad met jou te loop, al loop die pad dan heeltemal anders as wat jy dit sou kies. Dit was ook die antwoord van Christus aan Johannes, as Hy die boodskappers wys op die verlossing wat Hy bring, en dan byvoeg: “Gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie” (Matt. 11:6).
Die grootste vreugde vir die gelowige is nie om in alles sy sin te kry nie, maar om in alles God se wil te soek. Kom ons bid dan vandag: “Laat u wil geskied, ook in my lewe en wêreld!”
Views: 13