Miskien net eers ’n bietjie agtergrond oor dié twee dames: Herodias was die dogter van ’n halfbroer van Herodes. Herodes die Grote het verskillende vrouens gehad. Die pa van Herodias was die seun van een vrou en hierdie Herodes ’n ander vrou s’n. By ’n derde vrou het hy ’n seun, Filippus, gehad. Hierdie Filippus was Herodias se eerste man, en hulle dogter het die naam Salome gehad. Salome is later getroud met ’n ander halfbroer van haar pa wat ook die naam Filippus gehad het (vgl. Luk. 3:1). Herodias het haar eerste man, Filippus, wat ’n gewone burger in Rome was, gelos om met Herodes te trou. Herodes het ook van sy vrou geskei.
Oor hierdie oor-en-weer getrouery het Johannes die Doper heelwat te sê gehad, en dit kon Herodias nie vat nie. Niemand sal vir haar voorsê wat is reg en wat nie!
Herodes se verjaardagpartye is beroemd in hoë kringe. Elkeen wat iemand in Galilea en Perea is, word daarheen uitgenooi: sy hoofamptenare, die opperbevelhebbers en die hoëlui. Almal het lang feesklede aan, ’n geskenk van Herodes vir die feesgangers, en blomkranse in die hare. Die atmosfeer is feestelik, die kos oorvloedig – daar is disse van vis, vleis, wildsvleis en pluimvee – en die drank vloei in oormaat.
In die hoek sit ’n orkessie en speel agtergrondmusiek op tamboeryne, fluite en siters. Toe, skielik, verander die toon: ’n polsende, meesleurende ritme vul die banketsaal, en op die maat van die musiek sweef die pragtige Salome, dogter van Herodias, die saal in. Sy dans ligvoet, sensueel, uitlokkend. Die mans gryp na haar as sy naby kom, maar sy bly net buite hulle bereik. Uiteindelik is sy voor haar stiefpa se sitplek. Sy tart hom ’n rukkie met haar heupgeswaai, en eindig dan met ’n sierlike draai wat haar op haar stiefpa se skoot laat beland.
Herodes klap met die entoesiasme van ’n dronk man sy hande, en die gaste val ook in. “Nog! Nog!” skree die manne, vrolik van die wyn.
“Hoe kan ek jou beloon vir hierdie wonderlike stukkie bekoring, my klein prinsessie?” vra Herodes. “Enige iets. Sê net, en dis joune, al is dit ook die helfte van my koninkryk.”
Salome soen Herodes op sy neus en sê: “Ek sal nou-nou kom sê,” en trippel uit die saal uit, reguit na haar ma toe.
“Wat moet ek vra?” vra sy haar ma.
Herodias se oë glinster. Sy het Johannes nooit vergewe omdat hy haar en Herodes aangespreek het oor hulle ongeoorloofde huwelik nie. Nou, uiteindelik, het sy haar kans. “Sê jy wil die kop van Johannes die Doper hê.”
Salome trippel weer die banketsaal in en gaan sit op Herodes se skoot. Sy sit haar vinger in haar mond, en sê dan stroperig: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ’n skottel gee … die kop van Johannes die Doper!”
Herodes se gesig val. Hy hou nogal op ’n manier van die vurige prediker. Hulle het al baie keer lekker gesels oor diep dinge, en hy sal dié gesprekke mis. Maar nouja, ’n belofte is ’n belofte. Hy glimlag vir Salome, knyp haar aan die wang en sê: “Jou wens is my bevel.”
Herodes moes dit ook geweet het. ’n Mens maak nie sulke onverantwoordelike beloftes nie, veral nie as jy taamlik ver heen van die wyn is nie. Maar dit verskoon natuurlik nie Herodias en Salome se optrede nie. Van mense soos hulle twee moet jy ver wegbly; sommer baie ver.
Views: 136