Ons is nou in Koninkrykstyd; die tyd in die jaar waarin ons daaroor nadink wat dit beteken dat Jesus ons Koning is, wat ons van Hom kan verwag as ons Koning, en hoe ons Hom as onderdane moet volg. In die verhaal wat ons gelees het, is Lukas besig om vir ons ’n prentjie te teken van Wie Jesus is. As ons met dié verwagting die verhaal lees, is daar ’n paar dinge wat vir my opval oor Jesus:

• Jesus was sy lewe lank in ’n stryd om lewe en dood teen Satan gewikkel
As ons Jesus se lewe wil verstaan, mag ons dit nooit vergeet nie. Dit wat hier in Gerasa gebeur, was nie ’n geïsoleerde voorval nie. Met Jesus se geboorte al het die magte van Satan op Jesus toegeslaan. Dink maar aan koning Herodes se moordbendes wat op Betlehem toegesak het om Jesus dood te maak. Kort ná Jesus se doop, in die woestyn, kom Satan om Hom te versoek, en daarná het die konfrontasie voortgeduur. Oral kry ons mense in die mag van demone, asof Satan al sy troepe monster in sy stryd teen Jesus.

Dié stryd het uiteindelik op Golgota ’n klimaks bereik toe Jesus in ons plek al die houe van Satan gevat het. Daar het Hy gesterf om jou en my te bevry van Satan se wrede houvas op die mensdom.

Wat hier in Gerasa gebeur, is as ’t ware ’n voorafskaduïng van wat later op Golgota sou gebeur. Die besetene, aangedryf deur die demone wat hom beheer het, storm op Jesus af, daag Hom uit tot ’n konfrontasie, en probeer Hom die skrik op die lyf jaag. Ander mense het vir hom met sy demoon-verwronge aggressie gevlug, en Jesus sal ook, want daar is ’n menigte bose demone in hom bymekaar. So het die demone in elk geval gedink.

Maar Jesus is nie soos die ander mense nie. Hy skrik nie vir Satan en sy bose legioene nie. Hy is die Een wat sterker is (vgl Luk 11:22), die Opperheer, die Koning van gans die skepping!

Ek dink dit is ’n prentjie wat ons goed in ons moet laat inbrand: Jesus skrik nie vir die magte van die hel nie. Ook wanneer dit vir jou voel of die duiwel los is in jou lewe en of die magte van die hel jou wil oorweldig, kan jy dít weet: Jesus is sterker as Satan. Jy kan by Hom beskerming kry!

• Jesus stel in mense belang, nie in gevalle nie
Die eerste ding wat Jesus vir die man vra, is wat sy naam is. Dis hoe Jesus is. Hy werk met mense, Hy werk nie met nommers nie. En Hy maak tyd om met mense in nood te praat, hulle storie te hoor.

Hoor jy dit vanoggend? Jy is nie ’n nommer vir God nie! Jy is iemand met ’n naam; dís hoe Hy oor jou dink! Hy het tyd vir jou en jou storie. Hy het jou naam in sy handpalms gegraveer sodat Hy jou nooit kan vergeet nie (vgl. Jes 49:16); Hy ken jou op jou naam, want jy is Syne (Jes 43:1).

• Jesus maak heel, nie stukkend nie
Daar is ’n skrille kontras tussen die gevolge van die mense se behandeling, en Jesus s’n. Kom ek lees dit weer.
Vers 27 en 29b: Toe Jesus daar aan wal gaan, het ’n man van ’n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het ’n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in ’n huis gebly nie, maar tussen grafte … Al het hulle hom met hand en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.
En dan kom Jesus in sy lewe in, en ons lees in vers 35:
Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand …

Sê my, het jy al vir Jesus die kans gegee om die storms in jou lewe stil te maak? Soos Dawid in Psalm 4 dit bely (Ps 4:4,9):
Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep …
Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.

• Jesus dring Hom nie aan mense op nie
Dit was vir my nogal erg om te lees. Ná die genesing vra die mense Jesus om weg te gaan omdat hulle vir Hom bang was. Dit was waarskynlik omdat die klomp varke in die see in gestorm het. En dan klim Jesus in die skuit en verlaat hulle sonder om teë te stribbel.

(Terloops, daar is mense wat vra hoekom Jesus die varke laat versuip het. Daar is mense wat sê dit was nodig sodat die man met sy eie oë kon sien die geeste is uit hom uit. Dis dalk ’n verklaring? Ek weet nie. Ek dink wel ons moet twee dinge hieroor sê. Die eerste is dat die lewe van een mens by God baie meer tel as honderde varke, en as Hy moet kies tussen een mens en ’n trop varke, sal Hy elke keer die mens kies; vir jóú kies. Tweedens moet ons bely dat ons nie alles verstaan nie, maar dat ons onvoorwaardelik glo dat Jesus presies geweet het hoekom Hy dit laat gebeur het. Daar ís dinge in die lewe wat ons nooit sal verstaan nie, en dan mag en moet ons rus in die wete dat God beter weet as ons.)

Maar om terug te keer na die punt: Jesus dring Hom nie aan mense op nie. As jy Hom uit jou lewe wegdryf, loop Hy. Hy gaan nie sommer aan iemand wat besluit het om nie in Hom te glo nie, verskyn net omdat hy of sy dit as voorwaarde vir geloof stel nie. Jesus respekteer mense, selfs al beteken dit dat Hy uit hulle lewens moet padgee. Dit was vir my baie ontstellend toe ek dit gelees het, want ons ken almal mense wat iewers langs die pad die rug op God gedraai het en dan sê as God regtig is, sal Hy iets doen om hulle te laat glo.

Dit werk nie so nie. God werk nie so, met bonatuurlike verskynings en dinge nie. Maar dit beteken ook nie dat Hy mense wat Hom wegjaag, uitlos nie. Daarom dat Jesus vir die man wat bevry is, nie toelaat om by Hom te bly soos hy soebat om te doen nie, maar terugstuur na sy mense toe om te gaan vertel wat God vir hom gedoen het (vers 39). Want dís hoe God werk: deur jou en my wat Hom ken en volg en vir Hom leef en dien en getuig. Deur óns versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur (2 Kor 2:14).

Dis die prent wat Lukas vir ons vanoggend teken: van Jesus wat sterker is as Satan, en daarom is ons veilig by Hom; van Jesus wat met mense op die naam werk, ook met jou; van Jesus wat heel maak, nie stukkend nie; en van Jesus wat Hom nie aan mense opdring nie, maar deur jou en my by hulle wil uitkom.

Is dít die Jesus wat jy ken? By Wie jy skuil? En toelaat om die storms in jou lewe te laat bedaar? Kom ons lewe dan vir Hom, sodat Hy deur ons die kennis van Christus kan versprei soos ’n aangename geur.

image_pdfimage_print

Views: 76

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.