Lukas is in sy Evangelie besig om vir ons ’n prent te teken van Wie Jesus is. Verlede week het ons gesien hoe Hy ’n man wat in duiwelbesetenheid vasgevang is, genees het. Vroeër in hoofstuk 9 berig hy oor die vermeerdering van die vyf broodjies en twee vissies, sodat almal kos kon hê.
Dís die soort prente waaraan ons graag dink as ons na Jesus kyk: ’n wonderlike, besorgde Jesus wat regmaak wat stukkend is. Dís die Jesus vir Wie ons graag wil volg. Hy is immers die Here wat omgee vir mense, wat dooies opwek, siekes genees, sondes vergewe, duiwels uitdryf en vir mense kos gee! Jy hoef eintlik nie eers daaroor te dink nie, nie waar nie? Soos die mense deesdae sê, dis ’n no brainer.
Dis in elk geval wat die mense wat dié dinge beleef het, gedink het. As jy Jesus volg, raak die lewe een groot fees en is jou probleme op ’n end, want as daar dalk probleme is, sal Jesus dit wegneem. Dis so eenvoudig soos dit.
Daarom kan Jakobus en Johannes dit nie vat dat die Samaritane Jesus nie wil ontvang nie. Sulke optrede is ongehoord in Jesus se teenwoordigheid. Hulle moet verstaan Wie dit is wat hulle aanstoot gee, en daarom wil hulle sommer vuur uit die hemel op hulle afstuur om hulle te vernietig, soos op Sodom en Gomorra van ouds. En dan skryf Lukas: “Maar Jesus het omgedraai en hulle skerp tereggewys.”
Net daarna kom daar iemand na Jesus en sê: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.” Vir hom sê Jesus: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die Mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”
Dís nie wat ons wil hoor nie. Dit pas nie mooi in by die wonderlike prent wat ons van Jesus in ons gedagtes het nie. Want dit klink nie juis of Jesus opgewonde is oor die man se plan om by Hom aan te sluit nie. Vir twee ander vra Hy om Hom te volg, maar hulle het eers ander dinge wat hulle wil gaan afhandel. Vir hulle sê Jesus dan dit kan nie so werk nie.
Dis asof Jesus doelbewus besig is om die mense se entoesiasme te demp. Vir Jakobus en Johannes wys Hy skerp tereg. Vir die voornemende volgelinge sê Hy: wag net ’n bietjie, dit is nie so eenvoudig nie. Dink eers mooi voor jy besluit, want om Hom te volg, is ingrypend. Dis nie ’n soustrein waar al jou probleme wegraak nie. Dis ’n pad van opoffering, van kruisdra, as jy Hom wil volg.
Ek het ’n idee dis presies hier waar ons in ons moderne samelewing en verbruikerskultuur begin sukkel. Ons is nie meer gewoond aan swaarkry nie. Ons wil net ’n knoppie druk of ’n pilletjie drink, dan moet ons probleme op ’n end wees. Mense wil nie meer sukkel om iets wat stukkend is, heel te maak nie. Jy gooi die oue weg en vervang dit eenvoudig. Dis makliker, vinniger, goedkoper. Iemand sê ’n tyd gelede vir my moderne motorwerktuigkundiges is nie meer mechanics nie, hulle is part fitters. Hulle weet nie meer hoe om iets reg te maak nie, net hoe om nuwe onderdele in te sit.
Die probleem is dat dit ons geloofsverwagting ook beïnvloed. Want nou wil ons hê dat Jesus eenvoudig vir alles moet sorg. Dat jy net ’n gebedjie opsê, en dan kan jy maar agteroor sit, want Jesus gaan dit regmaak. So gou soos een twee drie. En dan gebeur dit nie, en voel jy verkul, teleurgesteld, en dat God nie sy kant bring nie. Anders, hoekom sukkel jy so en kom dinge nie reg nie?
Jesus se optrede in ons Skrifgedeelte waarsku ons dat dinge ’n bietjie anders werk as in ons moderne kultuur. Jesus is nie die cool ou wat alles regmaak wat stukkend is nie, wat ons saamneem op ’n triomftog deur die wêreld en ons is die passasiers wat met groot oë sit en toekyk hoe Jesus dinge laat gebeur nie.
Nee, as Jesus in jou lewe is en jy Hom volg, gaan alles nie noodwendig klopdisselboom nie. Hy vernietig nie links en regs alle teenstand met bliksemstrale uit die hemel soos Jakobus en Johannes wil hê nie. Dis nie ’n luilekker land waarin jy aanland as jy Hom volg nie. Hy het Self nie eers ’n holte vir sy voet nie, waarsku Hy. Dis ontbering en swaarkry wat op jou wag as jy agter Hom aangaan. Dan kan jou eie prioriteite nie voorrang geniet nie. Dan kan jy nie vir die Here sê Hy moet eers ’n bietjie wag, jy het nou ander dinge wat jou aandag verg nie. En jy kan nie omkyk-omkyk agter Hom aanloop nie.
Die “Liewe Jesus”-prentjie wat ons in ons kop het van Jesus, die gawe ou met die wit kleed en blink hare en netjiese baard, is presies dit: ’n prentjie wat vir kinders in die Kinderbybel geskets word. Maar dit het min met die werklikheid van navolging en die eis van dissipelskap te make. As dít jou verwagting van Jesus is, gáán jy teleurgesteld wees. Dít is wat Jesus vir die man wat hom by Jesus kom aanmeld het, wou laat verstaan.
Ons het almal op een of ander stadium in ons lewe onsself by Jesus aangemeld; altans, ek hoop so. Party van ons het dit al meer as een keer gedoen. Eintlik is dit iets wat ons min of meer elke dag weer behoort doen: vir Jesus sê dat jy Hom sal volg, waar Hy jou ook al heen lei. Ons sing dit met oorgawe (Lied 528): “Leer my u wil, Heer, u doel met my – U, Pottebakker, met my, die klei.” Waarop Jesus ons aandag vestig, is dat die besluit om Hom te volg, implikasies het; dat jy moet weet waarvoor jy jou inlaat as jy Jesus volg. Want by Hom gaan dit nie om jou gerief en voorkeure nie, maar om Hom – sý plan en wil en eer en koninkryk.
Sien jy kans? Sien jy regtig daarvoor kans? Dís wat die Here vir ons vra.
Maar – en hiermee sluit ek af – daar is natuurlik ’n ander realiteit ook. Die navolg van Jesus is nie nét swaar nie, want om vir Christus te volg, beteken om ryk te word, ryk aan die seëninge wat God gee. God roep ons tog nie om Hom te volg sodat ons lyding, armoede en verwerping deur die mense moet verduur nie, hoewel dit natuurlik kan gebeur. Hy roep ons sodat ons sy kinders kan wees – Koningskinders, mense wat ’n lewende hoop het, ’n verwagting op die komende Ryk van God! Daarom is kind-van-God-wees nie ’n sware las nie, maar vreugde, ’n heerlike voorreg, soos Paulus in Efes 3:16-19 bid.
Dit is die ander kant van die navolging van Jesus. Jesus nooi ons in Matt 11:28: Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee, Die Here se las is lig en sy juk is sag. Jesus se aanspraak op ons lewe is algeheel, maar tog is dit die evangelie, die goeie nuus. Daarom is dit so treffend dat die Here Jesus hier in sy antwoord na die jakkalse en voëls verwys, want daarmee roep Hy sy woorde in die Bergrede in herinnering, waar Hy gesê het (Matt 6:25, 26): Moet julle nie bekommer oor julle lewe … nie. Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; hulle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?
As God ons roep, roep Hy ons nie net en dan los Hy ons net so alleen met ons stryd nie. As Hy ons roep, gee Hy ons ook die genade om te kan antwoord en te kan volg. Daarom sê Paulus in Fil 2:13: Dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Die vraag is dus nie of ons dit sal kan doen nie; of ons die Here heelhartig sal kan volg nie. Die vraag is: is jy, is ek, gewillig?
Amen