Hoe het dit gekom dat jy vandag hier is? Dat jy verlos is? Kind van God is? Party van ons het ’n datum waarop ons ons lewe vir die Here gegee het. Ander het vandat ons kan onthou, geweet ons is die Here s’n. Ons het nie almal dieselfde geloofspad tot hier geloop nie. Maar – en dis die belangrikste – hier is ons!

As ons na die Bybel kyk, en veral ook na die gedeelte wat ons vanoggend gelees het, sien ons dat ons verlossing lánk voordat ons nog eers bestaan het, al begin het. Want, so leer die Bybel ons, ons verlossing begin nie by onsself nie. Ons verlossing begin by God. Vers 10 sê: “God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie as sy kinders tot heerlikheid lei.”

God wou! Ons verlossing is sý plan. Ons kindskap het in God se hart begin, nie in ons besluit nie.

Dit is tog wat God al vir ons gesê het toe ons as baba’s gedoop is: dat Hy ons red ten spyte van onsself, dat Hy ons sy kinders maak lank voordat ons glo, lank voordat ons kon reageer op sy genade-aanbod.

Ons redding is God se plan. Hý wil hê dat ons sy kinders moet wees. En daarom het Hy ’n Verlosser gestuur.

Nou sien ons hier in ons teksgedeelte dat dit nie sommer net beteken het dat die Seun van God op ’n goeie dag aarde toe gekom het en gou-gou aan die kruis vir ons sondes kom sterf het nie. Want sonde kan nie met ’n vinnige kitsoplossing reggedokter word nie. Hier staan in vers 10b: “… dit was reg dat Hy (i.e. God die Vader) hulle Leidsman tot die Verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring.” En vs 14 sê: “Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword …” en vs 17: “Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.”

Die Seun van God kon nie gou aarde toe kom om ons te verlos nie. Hy moes ’n mens word. Hy moes ons Verlosser word. Hy moes ’n lang pad loop voordat Hy ons Verlosser kon wees. Want voordat Hy namens ons die sondestraf kon dra, moes Hy eers “in elke opsig” aan ons gelyk word. Voordat Hy ons Verlosser kon word, moes Hy eers self die pad van versoeking en verleiding in volkome gehoorsaamheid aan God loop. Eers tóé was Hy geskik om ons Verlosser te wees, om ons sondeskuld voor God te dra, om ons met God te versoen.

Só een van ons het Hy geword, dat Hy nie skaam is om ons Broer genoem te word nie (vs 11). Is dit nie ongelooflik nie? Ons het ’n Broer in die hemel wat vir ons help! Jesus is ons Broer wat ons saak by die Vader behartig.

Wat vir my so wonderlik van God is, is dat Hy ons nie net halfpad help nie. Christus het nie na die wêreld gekom net om ons Verlosser te wees nie. Hy het ook gekom ons ons Leidsman te wees, om as ons oudste Broer ons voor te gaan in ons lewe as kinders van ons hemelse Vader, om vir ons die pad te wys, om ons te leer hoe ’n verloste kind van God moet lewe. Vers 10 sê God wou baie as sy kinders tot heerlikheid lei, en daarom het Hy ’n Leidsman voorsien – Jesus Christus. Daarom het Hy mens geword en die hele pad geloop, sodat Hy ons daarop kan lei elke dag.

∙ Ons het ’n Leidsman wat ook kind was, en gehoorsaam aan sy ouers
∙ Ons het ’n Leidsman wat geweet het wat dit beteken om te bid
∙ Ons het ’n Leidsman wat ook moeg geword het, en gefrustreerd; wat getart en gespot is omdat Hy God se pad geloop het
∙ Ons het ’n Leidsman wat sy hand uitgesteek het na mense in nood
∙ Ons het ’n Leidsman wat by die graf van ’n dierbare vriend gestaan en huil het …

Ons het ’n Leidsman wat ons verstaan, want Hy was self ’n mens. Hy het deur swaarkry geleer wat dit beteken om te glo. Daarom kan Hy ook vir ons op ons geloofspad help. Hy is ’n barmhartige Hoëpriester wat met ons swakhede medelye het. “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (vs 18).
∙ Ons het ’n Leidsman wat oorwin het.

Jesus verstaan nie net nie; Hy is nie net self deur al die versoekings en lyding nie. Hy het oorwin. Dís waarin Hy ons wil lei, sodat ons ook kan oorwin.

Daarom – as jy end-uit wil bly glo, volg vir Jesus, jou groot Broer. Hý is die Een wat weet hoe, wat jou kan help en bystaan en lei.

Dit is wat ons vanoggend in die nagmaal vier – dat ons ’n groot Broer het wat ons Verlosser is, wat deur sy eie dood heen vir ons die reg gekoop het om kinders van God te kan wees. En ons vier dit dat ons ’n groot Broer het wat ons Leidsman is om ons te help om die geloofspad end-uit te loop.

image_pdfimage_print

Views: 33

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.