Van ons Ou Testament redaksie
GILGAL. – Die bekende profeet Elisa het selfs sy profete-leerlinge verstom toe hy ’n byl wat in die Jordaan geval het, na boontoe laat dryf het sodat hulle dit kon uithaal.
Die profete was besig om bome op die rivieroewer af te kap vir ’n groter skoolgebou toe die voorval plaasgevind het. Een se byl – nogal ’n geleende een – het in die rivier geval. Die man het sy lot by die man van God gaan bekla. Dié het toe ’n stuk hout op die plek waar die byl gesink het, in die water gegooi, en tot almal se verbasing het die byl opgekom!
- Lees hierdie merkwaardige verhaal in 2 Kon. 6:1-7.
KORTLIKS • KORTLIKS • KORTLIKS
Israeliete bereik oase veilig
ELIM. – Die pas vrygestelde slawevolk Israel het gister hier aangekom na hulle reis deur die Etamwoestyn. Kenners van die plaaslike omstandighede is verbaas dat hulle die reis van Egipte hierheen oorleef het, aangesien water uiters skaars is. Die enigste noemenswaardige water is by Mara te kry, maar dit is ondrinkbaar.
- Lees hoe God voorsien het in Eks. 15:22-27.
Skip strand op eiland na twee weke in verwoestende storm
Van ons Nuwe Testament redaksie
MALTA. – Die berugte stormsterk noordoostewind, die Eurakilon, het opnuut toegeslaan. Sy jongste slagoffer is ’n Aleksandrynse vragskip met twee honderd ses en sewentig mense aan boord. Wonderbaarlik het almal die eiland ongedeerd bereik. Die boot en sy vrag is egter tot niet.
Die skip wou van Mooi Hawens op die eiland Kreta al met die kus langs na Feniks, ook op Kreta, vaar om daar te skuil vir die winter. ’n Storm het die skip egter baie gou na sy vertrek in die moeilikheid gehad, sodat hulle veertien dae lank hulpeloos en hopeloos verdwaal op die woedende Adriatiese See rondgedobber het. Gister het die skip hier op ’n sandbank geloop. Die reusegolwe het die agterstewe stukkend geslaan, en die mense het aan die wrakstukke geklou om die strand te kon bereik.
Verhale van ontbering, wanhoop en ellende, maar ook van uiterste heldemoed, het stuk-stuk ontvou toe Bybelkoerant met die skipbreukelinge gesels het. Die held van die drama is ongetwyfeld Paulus van Tarsus, ’n Romeinse gevangene wat onder soldatebegeleiding op pad is na Rome. Toe almal gewanhoop het, het hy hulle moed ingepraat. “Was dit nie vir Paulus nie, sou ons beslis nie almal die ramp oorleef het nie,” het een van die skipbreukelinge gesê.
Die burgemeester van die eiland, Publius, huisves tans die gehawende mense op sy plaas totdat ander reëlings getref kan word.
- Lees van die storm in Hand. 27.
ALEXANDRIË BOOTREISE
Kom ervaar die romantiese bekoring van die Middellandse See op een van ons luukse seilskepe.
Vir ’n onvergeetlike vakansie, skakel ons vandag nog.
Ons het ’n agent naby u!

Wonderwerke gebeur nog
God is ’n God wat wonders doen – groot wonders, soos om ál die mense op ’n gedoemde skip te red, só te red dat niemand eens ’n haar van sy kop verloor het nie (Hand. 27:34).
Eintlik is ons almal met dié soort wonders goed bekend. Bybelkoerant het nogal oor heelwat van hierdie wonders berig: die wonderbaarlike redding by die Rietsee, die waters van Mara wat drinkbaar word, die mure van Jerigo wat intuimel, Lasarus wat uit die dood opstaan, en talle ander. As ’n mens hiervan lees, verstaan jy iets van dit wat God vir Abraham gesê het in Gen. 18:14: “Is iets te buitengewoon vir die Here?”
Wanneer jy egter deur die Bybel blaai, begin jy ook gaandeweg agterkom dat God nie net ’n God vir groot wonders is nie, maar ook ’n God vir klein wonders. Hy stel immers in ons hele lewe belang. Vir Hom is selfs ’n verlore byl nie onbelangrik nie! Daarom dat Elisa sy student-profeet help om sy geleende byl terug te kry.
Ken jy God só? As ’n God wat ook in die kleinste detail van jou lewe belangstel? ’n God vir wie jy selfs met die geringste dingetjie kan vertrou?
Wanneer Jesus sy dissipels leer wat gebed is, gebruik Hy ’n merkwaardige voorbeeld om juis hierdie punt te beklemtoon. Hy vergelyk ons gebede met die versoeke van ’n seuntjie aan sy pa (Luk. 11:11, 12). En wat vra ’n kind nie alles vir sy pa nie! Van sy toon wat ’n pleister moet kry, tot raad met die keuse van ’n beroep.
Vir hom wat in ’n liefdevolle verhouding met ons hemelse Vader lewe, word gebed inderdaad ’n gesprek waarin jy met vrymoedigheid jou hart voor God ontbloot.
Views: 400