Hierdie gedeelte is redelik omstrede. Volgens die beste manuskripte was dit nie deel van die oorspronklike evangelie nie. Ek het nie probleme met die feit dat dit tog deel van ons Bybel is nie. Dit pas goed in by die res van die evangelie, en kon net sowel deel van die oorspronklike teks gewees het. Waarmee ek wel ’n probleem het, is die hele situasie waarin die skrifgeleerdes en Fariseërs die vrou wat op owerspel betrap is, voor ’n soort boendoehof daag. My vraag is: waar is die man? As die vrou in owerspel betrap is, moes daar tog ’n man ook gewees het? Sy kon tog nie op haar eie, alleen, owerspel gepleeg het nie? Tog word net sy voor die hof gedaag. Skeef, nè?
Maar hoe dit ook al sy, die vrou was self nie ’n engeltjie uit die hemel nie. Sy was immers met owerspel besig, en dit kan ek nie goedpraat nie …
Sy weet haar laaste dag het aangebreek, en sy is hartseer daaroor. Sy is nog jonk genoeg om drome te droom van ’n nuwe, beter lewe. Haar huwelik het nie uitgewerk nie, en dit het vir haar gevoel sy en haar man is besig om mekaar te verstik. Toe kom Natanja in haar lewe, en skielik het alles weer begin kleur kry.
Sy wou nie haar man seermaak nie. Sy het nie die verhouding met Natanja gesoek nie. Om die waarheid te sê, sy wou weghardloop, maar haar bene wou nie saamspeel nie. Haar voete het ál na Natanja se huis gedwaal, sonder dat sy kon keer. Sy weet nie mooi wat oor haar gekom het nie. Sy weet dis verkeerd. Sy het geweet so ’n verhouding kan net op ’n hartseer noot eindig. Maar sy het nooit kon droom dat dit só sal eindig nie.
Haar hart klop woes toe hulle haar tussen die kring mans instamp. Sy sien hoe hulle haar smalend aangluur. Verleë probeer sy die flenters van haar kleed bymekaar hou, maar sy kry dit nie reg nie. Hulle het die klere omtrent heeltemal van haar lyf geskeur in hulle woede. Net ’n stukkie lap is oor waarmee sy haar voorlangs probeer toehou.
Sy wonder hoe dit moet wees om dood te gaan. Die klippe sal seker seer wees as dit haar tref. Hopelik tref ’n groot klip haar redelik gou teen die kop dat sy haar bewussyn kan verloor.
Sy wens sy kon haar dogter vir oulaas groet. Die arme kind is nog maar net veertien. Sy het eintlik nog ’n ma baie nodig, veral noudat sy verloof is. Daar is so baie dinge wat sy graag nog vir haar wou sê. Maar dit sal nou nooit kan nie. Die arme kind, om nog met die skande saam te leef dat haar eie ma ’n slet is! Hopelik sal dit nie haar komende huwelik verongeluk nie. ’n Mens weet nooit hoe ander mense op haar misdaad sal reageer nie.
Sy kyk af grond toe, maar uit die hoek van haar oog sien sy ’n rabbi na haar kyk. Dis seker die een wat die uitspraak moet lewer, dink sy wrang. Die rabbi’s speel graag met woorde en kom maklik met uitsprake. Net: hierdie keer is dit haar lewe wat op die spel is. Sy wil nie nou al doodgaan nie! Nie net omdat sy ’n ander man liefgekry het nie!
“Rabbi,” hoor sy hulle praat, “hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig. Maar u, wat sê u?”
Dan gebeur ’n snaakse ding. Die rabbi antwoord hulle nie. Hy kyk nie eens na haar nie; hy buk vooroor en skryf met sy vinger op die grond.
“Is jy bang om ’n uitspraak te lewer? Is jy bang ons vind uit jy is glad nie so ’n watwonderse rabbi soos jy voorgee nie? Hoekom sê jy niks?” hou hulle aan.
Hier is iets nie reg nie. Dit voel vir haar dis nie sý wat verhoor word nie, maar die rabbi! Wat is aan die gang?
Uiteindelik kyk die rabbi op en sê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” Toe buk hy weer vooroor en skryf verder met sy vinger op die grond.
Die skare om haar raak stil. Hier en daar hoor sy hoe een die klip in sy hand laat val. Een vir een sluip haar aanklaers weg, totdat daar nie een van hulle oor is nie; net die rabbi wat so op sy hurke op die grond sit en skryf met sy vinger, en ’n paar ander. Seker die rabbi se dissipels, want hulle lyk nie kwaai nie.
Toe kyk die rabbi op, reg in haar oë. Daardie oë! Hulle is soos poele lig, helder en vol deernis. Hy vra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
Hierdie man is sowaar nie sommer ’n gewone rabbi nie! Hy is iemand met gesag, iemand na wie ’n mens kan opsien. “Niemand nie, Here,” stotter sy.
“Ek doen dit ook nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
Sy huiwer half verdwaas. Is sy regtig vry om te gaan? Sy moes dan dood gewees het! Hierdie rabbi het met ’n enkele sin haar lewe vir haar teruggegee.
God is ’n God van nuwe kanse. Kyk nou maar net wat gebeur met hierdie vrou. Sy kry ’n nuwe kans om die stukkende drade van haar lewe weer op te tel. Sy kon maar gaan. Maar nie terug na haar ou lewe nie. Sy kon gaan, maar sy moes ook haar sonde los.
As jy na God toe gaan, vat Hy jou net soos jy is. Hy vra nie vrae nie; Hy verwyt nie; Hy krap nie in jou verlede rond nie; Hy neem jou net soos jy is, met jou foute en sondes en al. Dis die wonderlike versekering van die evangelie. Hy nooi ons tog in Matt. 11:28 uit: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Maar as jy eers by Hom uitgekom het, soos hierdie vrou, moet jy een ding goed verstaan: Jy gaan nooit weer dieselfde wees nie, want Hy gaan jou nie los soos jy is nie. Hy sal met jou besig bly, aan jou skaaf en snoei totdat jy die vrugte begin dra wat by die bekering pas. Jesus waarsku ons immers in Joh. 15:2: “Elke loot aan My wat … vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.”
Views: 572