Van ons Ou Testament redaksie

HOREB. – Twee broers wat mekaar veertig jaar gelede in Egipte laas gesien het, het mekaar gister hier ontmoet. Hulle is Aäron en Moses, seuns van die Leviet Amram.

Die jonger broer van die twee, Moses, moes destyds inderhaas uit Egipte vlug nadat hy van moord op ’n Egiptiese staatsamptenaar aangekla is. Hy het veertig jaar lank in ballingskap in Midian gaan woon.

Moses het onlangs besluit om na sy volk in Egipte terug te keer, en was uiters verras om sy ouer broer op pad na Egipte teen te kom.

By navraag het Moses gesê hy sien baie daarna uit om weer tussen sy eie mense te wees. Hy wil ook sy suster Mirjam baie graag weer sien. Sy terugkeer uit ballingskap is egter nie bloot om ou familiebande te hernu nie. Hy gaan in opdrag van God terug om sy mense uit die slawerny van Egipte te bevry. “Ek besef dat dit moeilike onderhandelings gaan beteken, maar gelukkig sal Aäron my kan help,” het hy gesê.

 

Sendeling kom in Rome aan

Van ons Nuwe Testament redaksie

ROME. – Daar heers groot opgewondenheid onder die lede van die Christelike kerk hier oor die aankoms gister van een van die bekendste Christelike leiers, Paulus van Tarsus. Hy is by die Appiusmark sowat 43 km van Rome af deur ’n afvaardiging van die Christelike gemeente in Rome ontmoet en verwelkom.

Paulus is in Rome om verhoor te word op ’n aanklag dat hy die Joodse volk en hulle godsdiens ondermyn het. Hy het die vergunning gekry om tot tyd en wyl sy saak voorkom, op sy eie te woon met ’n soldaat om hom te bewaak. Volgens die Romeinse reg het sy aanklaers, die Joodse Raad, twee jaar tyd om hulle saak voor die keiser te kom stel.

Lede van die Christelike gemeente in Rome het aan Bybelkoerant gesê hulle het met groot verwagting na Paulus se koms uitgesien. “Ons gemeente het sommer spontaan ontstaan uit gelowiges wat hier aangekom het, en ons soek nou goeie leiding om die gemeente te organiseer en ons lidmate op te lei. Paulus het besondere gawes van God ontvang om juis dít te kan doen,” het ’n lid van die verwelkomingskomitee gesê.

Paulus verwag nie dat daar veel van die verhoor sal kom nie. “Die Joodse Raad het twee jaar lank in Sesarea gepoog om hulle saak teen my te bewys, maar sonder sukses. Ek twyfel of hulle die moeite sal doen om ’n aanklaer hierheen te stuur, want hulle het geen saak nie,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat hy baie bly is oor die vergunning om in sy eie huis te bly. Dit sal hom die geleentheid gee om met sy groot roeping, die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus, voort te gaan. Hy beoog om eersdaags die leiers van die Joodse gemeenskap in Rome te ontmoet.

 

’n MOET VIR ALMAL SONDER MOED

’n Boekie wat Bybelkoerant baie sterk kan aanbeveel, is Brief aan die Hebreërs, deur ’n onbekende skrywer.

Die boek is in die vorm van ’n brief geskryf, maar dit is eintlik ’n lang preek of homilie. Die skrywer wil in die boek sy lesers aanmoedig om te bly glo en nie moedeloos te word nie. ’n Lewende geloof ís moontlik, sê hy, mits ons elke dag volhardend die Here Jesus volg.

Hy maak ook baie van die verantwoordelikheid van gelowiges om na mekaar om te sien en mekaar aan te help op die geloofspad. “Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade,” skryf hy in die elfde hoofstuk.

Die boekie is eintlik ’n literêre kunswerk, en word beskou as die beste kunsprosa uit die eerste eeu n.C. Lees dit gerus!

 

VIR JOU BOEKRAK

Die Brief aan die Hebreërs

Skrywer: Onbekend 14 bladsye; Italië, ong. 85 n.C.

 


Daar vir mekaar

Min mense het met soveel geesdrif en ywer vir die saak van die evangelie geywer soos Paulus. In die uiterste ellende in die tronk was hy die een wat lofliedere aangehef het (Hand. 16:25); toe almal op die stormsee moed verloor het, het hy hulle moed ingepraat (Hand. 27:22).

En tog lees ons in Hand. 28:15: “Toe Paulus hulle (d.i. die gelowiges wat hom kom verwelkom het) sien, het hy God gedank en moed geskep.” Niemand van ons kan immers sonder die ondersteuning van medegelowiges klaarkom nie. Ons het mekaar nodig, soos die Hebreërboek so dringend onder ons aandag bring.

So het God dit van die begin af bedoel. Daarom stuur Hy ook nie vir Moses alleen na die farao toe nie. Daarom maak Hy ons deel van die liggaam van Christus, die kerk, waar ons sorg vir mekaar dra (1 Kor. 12:25).

Daar is ook mense op jou pad wat jou ondersteuning nodig het. Gee dit met vreugde!

image_pdfimage_print

Views: 20

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.