Ek onthou nog goed hoe my ma altyd vir my gesê het ek moet my kos opeet, anders gaan ek nie grootword nie. Dit lyk my party dae ek het te goed na haar geluister!

Ja, dis baie belangrik om die regte kos te eet as ’n mens ’n sterk, gesonde liggaam wil hê. Die Bybel sê dit gaan in ons godsdiens net soos met ’n baba. Aan die begin, as ’n mens maar nog net ’n kort rukkie ’n kind van die Here is, of as jy nog maar ’n kind is in die kerk, kan ’n mens nie al die ingewikkelde waarhede van die Bybel verstaan nie. Dan is dit nodig dat jy die eenvoudige dinge wat die Here wil hê ons heel eerste moet weet, moet leer. Die Bybel noem dit in ons teksgedeelte die grondwaarhede van die woord van God (vs 12). Daarsonder kan jy nie ’n kind van die Here wees nie. Dit is nou dinge soos ’n kennis van die Bybel; om te weet dat ons almal sondaars is, en dat ons verlore sal gaan as ons nie al ons sonde laat staan en die Here Jesus vra om ons daarvan te verlos nie; of wat dit beteken om te glo in God en Hom lief te hê; of dat daar ’n hemel en ’n hel is. Ons kan hierdie dinge vergelyk met die melk wat ’n baba drink. Net soos ’n baba eers melk moet drink sodat hy groot genoeg kan word om kos te kan eet, so moet ons almal eers al hierdie basiese dinge leer en baie goed ken voordat ons meer kan leer van alles wat die Here vir ons in die Bybel vertel. As ons nie hierdie dinge weet nie, kan ons nie al die wonderlike dinge wat God verder ook vir ons wil leer, verstaan nie. Dan sal dit te moeilik wees om te begryp, omdat ons dan nie ’n verwysingsraamwerk het waarbinne ons dit kan begryp nie.

Dit was die Hebreërskrywer se frustrasie. Hy het met sy lesers gepraat oor Jesus as Hoëpriester (4:14 e.v.), maar dan besef hy dat hulle dit nie kan verstaan nie, want hulle is nog baba’s in die geloof.

Daarom is dit so nodig dat ouers hulle kinders van die Bybel en die dinge van die Here leer, anders sit die kerk vol baba’s in die geloof. En dis min of meer die situasie waarmee die skrywer van hierdie brief gesit het: hy kon hulle nie inlei in die wonderlike skatte van die Evangelie nie, want sy gemeentelede het nie die basiese dinge geken en verstaan nie! Hoor wat skryf hy in 5:11-12: In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. ’n Mens moet julle met melk voed, en nie met vaste kos nie.

Dit laat my dink aan die man wat by ons huis aangekom het toe ons kinders nog in die laerskool was. Hy wou ’n wiskunde-program aan ons verkoop, en verduidelik toe dat ’n muur nie sal staan as daar bakstene aan die onderkant weg is nie, en daarom móét ons die program aankoop om seker te maak daar is nie bakstene weg nie. Dit was vir my ’n goeie metafoor. Ons geloof werk ook so. As daar bakstene in ons basiese kennis van geloofsake weg is, gaan ons geloof intuimel. As jy nie die verhaal van die uittog uit Egipte ken nie, gaan jy ook nie mooi verstaan wat dit beteken dat Jesus ons Paaslam is nie.

As ek hierdie dinge lees, is ek nogal bekommerd oor die kerk. Weet julle dat goed 90% van ons kinders nie die Bybel ken nie? Nie die basiese Bybelgeskiedenis ken nie? Dit is waar dinge begin verkeerd loop. Die skrikwekkende is dat hulle later volwassenes word in die kerk, maar nie in die geloof nie. Soos die ouderling wat ek gehad het wat gedink het Josef, die man Maria, Jesus se ma, is dieselfde persoon as Josef, Jakob se seun, van Genesis!

Maar geestelike grootword is natuurlik baie meer as net Bybelkennis. Grootword beteken ook verantwoordelikheid begin aanvaar vir jou lewe. Julle kan julle indink hoe dit moet wees as jou kinders nooit begin om vir hulle eie lewe verantwoordelikheid te neem nie. Hulle bly in jou huis, en jy moet hulle bly versorg. Jy moet sorg dat daar kos op die tafel is, dat hulle kamer aan kant is, dat hulle klere het en dat dit gewas word … Hulle doen niks self nie. Hulle sit net en wag dat jy dit vir hulle moet doen.

Dis mos hoe ’n baba is! Dis wat ’n mens van ’n baba verwag, en vir ’n baba is dit normaal. ’n Baba kan nie vir homself sorg nie. Hy kan net huil as hy honger is, of ongemaklik, of nat. Dis die verskil tussen volwasse en baba. Die volwassene hoor die baba huil, staan op en gaan help en versorg die baba.

As ons dit op ons geestelike lewens toepas, beteken dit dat gelowiges wat nog baba’s in die geloof is, soos die Hebreërskrywer hier sê, nie vir ander iets kan beteken nie, want hulle moet self gepamperlang word. Hulle vra aandag, eis dit op, en wil versorg word, sonder om self verantwoordelikheid in die gemeente en die koninkryk te neem.

Dis nie hoe God dit bedoel het nie! Hy het ons sy kinders gemaak sodat ons kan groei op geestelike gebied, volwasse kan word, soos Christus kan word. Natuurlik is kennis van Hom, en daarvoor is ons saamwees by geleenthede soos hierdie, en ons stiltetyd waar ons met God se Woord besig is, verskriklik belangrik. Maar geestelik volwasse wees, soos Christus wees, beteken dat ons ook by ’n punt kom waar ons verantwoordelikheid vir mekaar begin aanvaar, waar ons begin werk in God se wingerd, waar ons vir ander mense iets begin doen.

Paulus praat hiervan in 2 Timoteus 3:16-17: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Dis tog hoe Christus is. Soos Hy in Mark 10:45 sê: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien …

Ek weet nie van julle nie, maar dis hoe ek graag wil wees: soos Jesus!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 38

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.