Van ons Ou Testament redaksie

SITTIM – Josua seun van Nun het vanmiddag hier op sy eerste nuuskonferensie as die nuwe leier van die Israelitiese stamme bekend gemaak dat hy voornemens is om oor drie dae die Jordaan oor te steek.

Josua het die leisels by Moses seun van Amram oorgeneem. Vanoggend het hy al die beamptes van die volk ontmoet om sy planne vir die inname van Kanaän bekend te maak. By dié geleentheid het hulle almal opnuut aan hom trou gesweer en hom van die volk se absolute lojaliteit verseker.

Dié mosie van vertroue moet baie vir die nuwe volksleier beteken. Dit is algemeen bekend dat hy onbevoeg voel vir sy nuwe amp, veral omdat sy voorganger allerweë as een van die grootste staatsmanne van alle tye beskou word.

’n Reusetaak wag op Josua as hy sy voorneme om die land Kanaän in te neem, suksesvol wil deurvoer. Militêre kenners hier is redelik skepties oor sy kanse om te slaag. Die Israeliete het immers feitlik geen ervaring van oorlogvoering nie. Feitlik al hulle vorige gevegte was teen ander nomadiese stamme. In teenstelling hiermee gaan hulle in Kanaän te staan kom teen goed opgeleide leërmagte en versterkte stede. As die Kanaänitiese konings ’n bondgenootskap sluit om ’n verenigde front teen die Israeliete te vorm, is dit haas ondenkbaar dat Josua kan slaag.

Politieke waarnemers wys verder daarop dat Josua se voorganger, Moses, veertig jaar gelede ook probeer het om Kanaän in te val. Na ’n deeglike verkenning van die land was die gevolgtrekking destyds dat dit ’n onmoontlike taak is. Intussen het die situasie nie veel verander nie.

Bybelkoerant wou by Josua weet waarom hy meen hy kan slaag waar sy voorganger misluk het. “Die vraag is nie of ék kan slaag nie. Die vraag is of Gód kan slaag. En oor die antwoord op hierdie vraag het ek en my voorganger veertig jaar gelede reeds saamgestem, maar ons was ongelukkig toe in die minderheid. God veg vir ons, en daarom sál ons die land inneem,” het hy gesê.

 

DIGTER-KONING SKRYF NOG ’N TREFFER

JERUSALEM. – Kedron-uitgewers het vanoggend hier op ’n glansontbyt ’n splinternuwe psalm van koning Dawid bekend gestel. Die titel van dié jongste toevoeging tot sy bundel geestelike liedere is “Die Here is my herder”. Te oordeel na die entoesiastiese reaksie van die gaste gaan hierdie psalm ’n groot treffer wees.

Die verrigtinge is begin met ’n paar opmerkings deur Serebja ben Jesua, die besturende direkteur van Kedron-uitgewers. Hy het gesê die skoonheid van die psalm lê in die treffende eenvoud waarmee koning Dawid God se sorg beskryf aan die hand van die beeld van ’n herder wat na sy skape omsien. Daarna het ’n groep Levitiese tempel sangers die psalm vir die gaste gesing.

Koning Dawid het in sy reaksie gesê hy glo die psalm sal tot mense se harte spreek omdat dit gebore is uit die onvergeetlike ervaring dat God in alle omstandighede teenwoordig is in ons lewe. “Ek het my inspirasie vir die psalm gekry toe ek tydens ’n veldslag in ’n hoek vasgekeer is, en ontdek het dat God my ook dáár vashou. Dis dié geborgenheid wat ek in die psalm probeer verwoord het. As ander mense deur die psalm getroos en versterk word in hulle vertroue op God, is ek dankbaar,” het die koning gesê.

Koning Dawid het reeds meer as vyftig psalms gedig. Bybelkoerant hoop van harte daar sal nog baie volg.

  • Lees hierdie psalm in Ps. 23.

 

KEDRON-UITGEWERS

Publikasiestraat, Jerusalem

vir boeke van gehalte

Ons publiseer:
LITURGIESE MUSIEK
GEESTELIKE BOEKE
SKOOLHANDBOEKE

ONS GEE OM!

 


Die Here is by jou

Hoe op aarde kon Josua kans sien vir die onmoontlike taak wat op hom gewag het? Hoekom kon Dawid vreesloos op die reus Goliat afstap? Daar is net een verklaring. Hulle het verstaan: as God by jou is, is jy al klaar aan die wenkant. Dít was immers die versekering wat God self vir Josua gegee het aan die begin van sy loopbaan: “Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou ook wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie …” (Jos. 1:5). Dit het Dawid ook bely in Ps. 23:4: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Ook jý kan met moed elke nuwe dag aandurf, want God belowe sy bystand vir elke gelowige. Jesus Christus word nie verniet Immanuel (“God by ons”) genoem nie. Hy self het in Matt. 28:20 gesê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Wat ’n voorreg om so geborge te leef!

image_pdfimage_print

Views: 33

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.