Vir solank ek kan onthou, was die VSA vir my die voorbeeld van ’n land wat op die voorpunt is. Dit was immers hulle wat eerste ’n man op die maan geplaas het. Hulle is die grootste ekonomie. Hulle is die land waar drome waar word.
Ek was onlangs weer op besoek aan dié groot land. In die woorde van ’n vriend van my dogter: “America is a vast country”. Inderdaad. Alles is groot, selfs die bakkies en woonwaens of, soos hulle daarvan praat, Recreational Vehicles, wat niks anders is nie as huise op wiele.
Natuurlik is alles van die VSA nie fantasties nie. Hulle sukkel met groot rasse-konflik, veral met polisiegeweld teenoor African Americans. Hulle kry nie die massa-skietery op onskuldiges hokgeslaan nie. Die leiers van die twee grootste politieke partye is ook maar nie watwonders nie. Baie van hulle het enorme ego’s. Maar dan – hulle hét veel om oor te spog. Ek hou nie van die klank van Amerikaans nie. Hulle gebruik hulle stem anders as ons en dit klink kras in my ore. Hulle eet nie skaapvleis nie, en drink min wyn.
Maar daar is dinge wat ’n mens nie kan miskyk as jy daar kom nie.
- Die padgebruikers is besonder hoflik, veral ook teenoor voetgangers. My kind sê dit kan nie anders nie, want daar is ernstige gevolge as jy iemand raakry.
- Die land (in elk geval die dele wat ons besoek het) is grootliks misdaad-vry. Die erwe het nie omheinings nie. Amazon los jou pakkie sommer by jou voordeur nadat die afleweraar die klokkie gedruk het.
- Dienslewering is fantasties. ’n Water-probleem kry byvoorbeeld binne minute nadat dit aangemeld is, aandag.
- Alles werk daar.
- Dis ’n welvarende gemeenskap. Ek het nie plakkerskampe gesien nie.
- Daar is nie bedelaars op straathoeke nie, of karwagte in die parkeerterreine nie.
- Ek het nie juis rommel langs die pad of in die parke of op die strande gesien nie. Die mense ruim agter hulle op.
- Die Amerikaners wat ons ontmoet het, is kerkmense, en aktief betrokke by die gemeente, waar hulle omsien na mekaar.
Ek sou nogal daar kon woon, dink ek, veral omdat een van my dogters daar woon. Maar terwyl een rand van my maar ses Amerikaanse sent werd is, is dit natuurlik buite die kwessie. Daarom moes ek met ons tuiskoms weer na ons eie, dierbare land kyk om redes te kry hoekom ons hier bly. En daar is genoeg, die politieke chaos, swak dienslewering en misdaad ten spyt.
- My oudste dogter is nog hier.
- Ons praat Afrikaans, en al die dialekte daarvan klink soet in my ore (oukei, nie álmal nie).
- Die natuur en klimaat is wonderlik.
- Op grondvlak beleef ek baie welwillendheid.
- Daar is tekens dat die gety teen korrupsie aan die momentum opbou is.
- Die houvas wat die regerende party op die land het, is aan die kwyn, wat opwindende nuwe moontlikhede bring.
- Die Here is hier ook. En waar Hy is, kan ek leef in die ruimte van sy goedheid en sorg.
Views: 14