Generaal Logbar stel inwoners gerus oor moontlike aanval
Van ons Ou Testament redaksie
JERIGO. – Die inwoners van Jerigo het niks te vrees van die Israeliete nie. Só sê generaal Logbar, hoof van die koninklike wag, in reaksie op toenemende onrustigheid en selfs paniek in Jerigo oor die bedreiging van die Israeliete.
Genl. Logbar het gister in ’n toespraak by die uitpasseringsparade van nuwe soldate gesê Jerigo is slaggereed vir enige gebeurlikheid, ook vir ’n moontlike aanval deur die Israeliete. “Hulle sal egter nie gou kan aanval nie, want die Jordaan is in vloed en geen regdenkende mens sal nou met ’n leër daardeur probeer trek nie,” het hy gesê.
Bybelkoerant wou by die generaal weet of hy enige voorkomende maatreëls getref het om die Israeliete voor te keer as hulle tog die Jordaan probeer oorsteek. “Dit is ’n onnodige vermorsing van mannekrag om nou ’n leërafdeling soontoe te stuur,” het hy ons verseker. “Ek het slegs ’n peloton van tien verkenners uitgestuur om die situasie dop te hou. Dit is heeltemal voldoende.”
Intussen bly skeptici bekommerd. Hulle wys daarop dat daar onlangs twee Israelitiese spioene in Jerigo opgemerk is, en dat dié twee ten spyte van ’n grootskaalse soektog nooit opgespoor is nie. Die feit dat die Israeliete die magtige Egiptiese leër kon verpletter toe hulle veertig jaar gelede uit Egipte weg is, is ook nie juis gerusstellend nie. “Dit is myns insiens dwaasheid om nou oorgerus te wees. Ons weet eenvoudig net te min van hulle planne en vermoëns,” het ’n afgetrede offisier van die leër gesê.
- Lees hoe die Israeliete tóg die Jordaan oorgesteek het in Jos. 3.
MOSES KLIM SINAIBERG ’N TWEEDE KEER UIT
Van ons spesiale verslaggewer in die woestyn
SINAIBERG. – Daar was vanoggend uitbundige vreugde in die kamp van die Israeliete toe hulle leier, Moses, vir ’n tweede keer Sinaiberg uitgeklim het om die verbond met God te sluit. Hy het ook twee gekapte klippe by hom gehad waarop God die verbondsvoorwaardes sal skryf.
Dié tweede ontmoeting volg op ’n vorige ontmoeting met God enkele weke gelede. Moses het destyds veertig dae lank op die berg gebly om die verbond met God te sluit. Die volk was later oortuig hy is dood. In sy afwesigheid het hulle toe ’n afgod aanbid, sodat die verbond wat God met Moses op die berg gesluit het, verval het, en God geweier het om langer die Israeliete se God te wees.
Ten einde die gebroke verhouding met God te herstel, het Moses ’n “tent van ontmoeting” buitekant die kamp ingerig waar hy vir die volk by God kon intree. Elke keer dat hy na die tent van ontmoeting gegaan het, het die volk uit respek vir God en as teken van berou oor hulle sonde opgestaan en voor God in aanbidding gebuig.
Gister het Moses met die goeie nuus van die tent af na die kamp teruggekeer: God het hulle vergewe en gaan weer die verbond sluit.
Godsdiensleiers verwag dat Moses hierdie keer weer etlike weke weg sal wees, net soos die vorige keer.
- Lees van die volk se berou en die herstel van hulle verhouding met God in Eks. 33:1-34:2.
KONING BEËDIG VERSKEIE NUWE REGTERS
JERUSALEM. – Koning Josafat het vanoggend hier in die paleis verskeie nuwe regters beëdig in hulle amp. In ’n toespraak daarna het hy die regters sterkte toegewens vir hulle taak, en opgeroep tot eerlike regspraak. Hy het onder andere gesê: “Let goed op wat julle doen, want julle oefen die regspraak uit nie vir mense nie, maar vir die Here. Die verantwoordelikheid vir die reg rus op julle. Mag die vrees vir die Here julle bybly!”
Die meeste nuwe regters kom uit die priester- en Levietekorps. Daar is ook enkele familiehoofde in die groep.
- Lees hiervan in 2 Kron. 19:4-11.
God se eiendom
Dit was ’n les wat die Israeliete telkens weer moes leer: hulle, en die land Kanaän, behoort aan die Here. Daarom pleit Moses in Eks. 33:16 by God om hulle nie te los nie: “Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”
Ook die wyse waarop die volk die beloofde land ingetrek het, het dit onderstreep. Die land behoort aan God. Daarom gaan die ark, simbool van God se teenwoordigheid, eerste die land binne.
Telkens wanneer die volk vergeet het dat hulle God se eiendom is en dat die land nie hulle s’n is om mee te maak wat hulle wil nie, was daar probleme. Daarom herinner Josafat sy regters dat hulle nie vir mense nie, maar vir die Here die regspraak uitoefen. Dit is tog God se mense en God se land.
“Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here,” sê Dawid in Ps. 24:1. En dit sluit jou ook in. Leef dan vir Hom!