Vooraf
Die brief aan die Hebreërs is geskryf vir mense soos ons; mense wat in Christelike huise grootgeword het. Hulle het moeg geword om te glo. Die vreugde, die vonk, was weg. Hulle het nog in die kerk gesit, maar hulle harte was nie altyd daar nie. Dis nou vir sulke mense wat hierdie brief geskryf is, om hulle aan te spoor, om te sê: dit ís die moeite werd! Moenie die geloof los nie! Moenie uit die kerk wegraak nie!

Lees Heb 10:19-25
Sien jy hoe moedig hy hulle aan om te bly glo? Hy vertel hulle hoe groot God is, en watter wonderlike voorreg dit is om aan God te behoort. In ons teksvers herinner hy ons daaraan dat ons die voorreg van vrye toegang tot God het. Die Griekse woord wat hier met vrye toegang vertaal word, is parrêsia. Hierdie woord parrêsia kan ’n mens ook met vrymoedigheid vertaal, soos in die 2020-vertaling.

Parrêsia was die praat- en stemreg wat die vrye burgers van die ou Griekse stadstate gehad het (in teenstelling met die vreemdelinge en slawe). Wanneer iemand parrêsia gehad het, het dit beteken hy het die reg om deel te neem aan die openbare gesprekke en besluite in die stadsamekomste. Dit was dus iets wat ’n mens besit, iets wat tot jou beskikking was, iets wat aan jou behoort het – baie soos stemreg in ons land. Dit is iets wat ons het, wat ons nie hoef te vra nie.

Maar parrêsia het ook ’n ander kant: die moed wat ’n mens aan die dag lê om hierdie reg van jou uit te oefen, te gebruik. ’n Mens wat parrêsia het, het dus die reg om te praat, maar ook die moed om daardie reg te gebruik. In die ou Griekse vertaling van die Ou Testament word hierdie woord parrêsia gebruik in ’n vers waaruit die betekenis nogal baie duidelik na vore kom, nl Lev 26:13: “Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipteland laat wegtrek het, sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die skeie van julle jukke gebreek en julle regop laat loop.” Die Good News Bible vertaal: “I broke the power that held you down and I let you walk with your head held high.”

Dít is parrêsia! Die vryheid om regop te mag loop! Voor God en voor die mense! Heeltemal vry! Nie langer ’n slaaf nie, nie langer skaam, bang, of wat ook al nie, maar regop, fier voor God en die mense. Daardie reg, en terselfdertyd die moed, die durf, om dit te doen, is parrêsia.

En hier in ons teksvers gee hy die rede waarom ons vrymoedigheid voor God kan hê. Hy sê hier ons het die vryheid om na God te gaan, in die heiligdom in; ons het nou parrêsia, vrye toegang. En die rede daarvoor? Omdat die Here Jesus, deur sy bloed, vir ons die weg gebaan het tot in die hart van God! Ons is welkom daar, God se hart staan vir ons oop, omdat die bloed van Jesus ons sondeskuld weggeneem het wat ons onaanvaarbaar vir God gemaak het. Daarom het die voorhangsel (vs 20) wat die heiligste deel van die tempel afgeskort het sodat net die hoëpriester na God kon ingaan, geskeur toe Jesus gesterf het – sy offer het die pad na God oopgemaak. 

Nou sê die skrywer: Ons het hierdie vrye toegang. Kom, laat ons dan met vrymoedigheid daarvan gebruik maak. Laat ons dit benut! Laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid! (v.22)

Dit is baie belangrik om een ding goed te verstaan: hierdie parrêsia of vrymoedigheid om in God se teenwoordigheid te mag lewe, is nie iets wat ’n gelowige elke keer weer moet vra of verdien nie, dis iets wat ons reeds het en net moet aanvaar, gebruik. ’n Mens moet daaruit leef. So dikwels hoor jy mense sê: “Nee, ek sal nooit so-iets vir God vra nie!” So asof God ons nie goedgesind is nie, asof God teen sy sin na ons luister, asof ons eintlik nie die reg het om voor God te gaan staan om ons hart voor Hom uit te stort nie. Nee! Deur Jesus Christus se offer hét ons die reg, ís God aan ons kant!

Hierdie vrymoedigheid voor God kan ’n mens vergelyk met iemand wat ’n erfenis van miljoene rande ontvang het. Dis syne. Maar as hy nie die vrymoedigheid het om ooit daarvan te vat nie, hy ry nog in sy ou krok, hy bly in ’n klein ou kamertjie – dan baat dit hom niks hy die geld gekry het nie. As die Here Jesus deur sy bloed vir ons die verlof verdien het om tot by die troon van genade te kom, maar ons gebruik dit nie, en ons kan ons nie daarin verheug nie, ons dank God nooit daarvoor nie en leef ook nie daarvolgens nie … dan baat dit ons niks nie.

Daarom waarsku die skrywer ons in hierdie gedeelte ernstig dat ons nie hierdie wonderlike voorreg wat ons deur Christus ontvang het, moet verwaarloos nie. Hy skryf dit oor en oor:
Ons het dus nou deur die bloed van Christus vrye toegang (parrêsia) … laat ons tot God nader … Laat ons dit styf vashou … Laat ons ook na mekaar omsien … Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie …

Hoe gaan ons die heiligdom binne? Hoe nader ’n mens God? Natuurlik in jou binnekamer, waar jy stil word in gebed voor God. Maar ook waar jy saam met ander bymekaarkom om God te ontmoet, soos vanoggend hier in die erediens, want die kerk, die gemeente, is Christus se liggaam. Waar sy liggaam is, daar is Hy. Daarom sê Hebreërs hier ons moet na mekaar omsien, en ons moenie die samekomste van die gemeente verwaarloos nie, want dít is waar ons tot God nader! In ons saamwees is God op ’n baie besonder manier teenwoordig by ons. Daarom is dit anders om ’n erediens in die kerk by te woon as wanneer ’n mens deur die radio inluister of op die TV of slimfoon ‘n diens kyk: in die kerk ontmoet ons Christus deur sy liggaam, tree ons as ’t ware God se heilige teenwoordigheid binne – nie omdat hierdie gebou heilig is nie, maar omdat God hier teenwoordig is in sy liggaam, in die gemeente.

Liewe gemeente, ons het parrêsia, vrye toegang tot God se aangesig! Kom ons lig dan die kop op en leef as mense wat weet aan wie ons behoort!
Amen.

image_pdfimage_print

Views: 121

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.