Hy wat regverdig oor mense heers, wat regeer in eerbied teenoor God, is soos die môrelig as die son opkom op ’n oggend sonder wolke; dit skitter na die reën; die gras skiet op uit die grond. (vers 3-4)
Van ’n koning word twee dinge verwag: om regverdig oor mense te heers en om in eerbied teenoor God te lewe. Indien die koning dit doen, kan sy regering vergelyk word met mooi oomblikke in die natuur: die helder, vroeë oggend, die aarde na die reën en nuwe gras wat uitspruit (vers 4). Daar is lewenskrag en skoonheid in so ’n regering.
Dawid se uitspraak is aan die konings wat uit sy nageslag sou kom, gerig. Hierdie vereistes geld egter nie net ’n koning nie. Dit is die ideaal vir alle mense, klein en groot. Hulle wat regverdig optree en in die vrees van die Here leef, sal geseën word en ’n seën vir ander wees. Goddeloses of skurke (2020-vertaling) het geen blywende nalatenskap nie, en sal verbrand word (vers 6-7).
In die volgende gedeelte is ’n lys van Dawid se helde (vers 8-39). Die lys eindig met Urija die Hetiet, om ons te herinner dat Dawid ’n feilbare mens was.