JERIGO. – Daar heers paniek in die stad sedert dit laat gisteraand bekend geword het dat die Israeliete daarin geslaag het om die Jordaan oor te steek in weerwil van die feit dat die rivier tans in vloed is.
Die hoof van die leër, genl. Logbar, het gisteraand reeds die leër op volle gereedheidsgrondslag geplaas, en alle verlof is met onmiddellike effek gekanselleer. Dringende maatreëls is ook getref om die geledere van die weermag te versterk. Talle inwoners is egter woedend en eis genl. Logbar se bedanking. Hulle beskuldig hom van growwe nalatigheid, aangesien hy niks gedoen het om die Israeliete aan die oostekant van die Jordaan te hou nie. Koning Sefo het tot nog toe egter nie tot die debat toegetree nie, en verwagtinge is dat die gesoute generaal die storm sal oorleef.
Die tien verkenners wat die Israeliete se bewegings moes dophou, vertel ’n ongelooflike verhaal. Volgens hulle het priesters gisteroggend met ’n kis op hulle skouers die Jordaan ingestap. Toe hulle voete die water raak, het die rivier gaan staan asof ’n onsigbare damwal in die rivier gebou is. Die hele volk het toe op droë grond die rivier oorgesteek. Die laaste twaalf man het elkeen ’n klip uit die middel van die rivierbedding op sy skouers getel en ook die rivier oorgesteek. Toe het twaalf ander mans, elkeen ook met ’n klip, terug gestap na die middel van die rivierbedding en dit daar op ’n hopie gepak. Eers daarná het die priesters met die kis deurgestap. Toe hulle die wesoewer uit is, het die Jordaan weer normaal begin loop en soos voorheen sy walle oorstroom.
Oor die betekenis van die twaalf klippe is daar groot meningsverskil. Een verklaring is dat die Israeliete die klippe as ’n soort wapen wil gebruik, moontlik om die stadspoort mee aan te val. Militêre kenners wys daarop dat die rivierklippe rond en glad is, sodat dit dalk as ’n soort projektiel geslinger kan word. Die klippe wat in die rivierbedding teruggeplaas is, is waarskynlik om die riviergode te paai.
Die Israeliete het gisternag by Gilgal kamp opgeslaan.
- Lees hiervan in Jos. 4:1-5:1.
KONING JOSAFAT STEL ONDERRIGSPAN AAN
JERUSALEM. – Koning Josafat het gistermiddag op ’n perskonferensie bekend gemaak dat hy ’n onderrigspan saamgestel het om die volk in die Wet van die Here te onderrig.
Die koning, wat pas van ’n uitgebreide reis deur die land teruggekeer het, het gesê hy is geskok oor die geestelike verval in die land. Oral in die land is daar hoogtes en gewyde pale waar burgers afgode dien, en dit kan nie langer geduld word nie.
Koning Josafat het gesê die geestelike verval is ’n direkte gevolg van die burgers se onkunde oor God se Wet. Daarom het hy besluit om sy beste amptenare uit te stuur om oral in die stede van Juda onderrig te gee. Die span sal gelei word deur Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. Verskeie Leviete, asook die priesters Elisama en Joram, sal deel uitmaak van hierdie taakgroep.
In antwoord op ’n vraag het die leier van die taakgroep, Obadja, gesê hulle gaan as groep van stad tot stad beweeg, totdat hulle al die stede in Juda besoek het en elke burger die nodige onderrig ontvang het. Hy wou nie ’n raaiskoot waag oor hoe lank die opdrag hulle besig sal hou nie.
- Lees hiervan in 2 Kron. 17.
HET JY AL ’N LOOPBAAN
IN DIE WEERMAG OORWEEG?
volop avontuur
buitelewe
bevorderingsgeleenthede
gratis losies
kompeterende salaris
Jerigo het jou nodig!
Doen vandag nog aansoek by:
Die Hoof van die Weermag,
Verdedigingshoofkwartier, Jerigo
Kennis is onontbeerlik
“My volk kom om weens ‘n gebrek aan kennis,” kla die Here in Hos. 4:6 (2020-vertaling). Want sonder kennis van God en van sy groot dade in hierdie wêreld, kan daar ook nie liefde vir Hom en geloof in Hom wees nie. Daarom dat koning Josafat sy beste amptenare afsonder vir die belangrike werk om die volk te onderrig in God se Woord.
Met godsdiensonderrig op formele vlak is die kerk in sy kategeseprogram al vir baie jare besig. Die onderrig op ’n informele vlak, waar ouers hulle kinders van God en van sy groot dade vertel, is egter baie meer werd. Dit is hierdie soort onderrig wat Josua in gedagte gehad het met die gedenkklippe wat hy uit die Jordaan laat dra het. Dit sou ’n aanknopingspunt wees vir ouers om met hulle kinders te praat oor die wonderlike God wat hulle aanbid.
Praat jy nog met jou kinders (of kleinkinders) oor God?
Views: 121