Genesis 2 tot 4
Eva was nie net verantwoordelik daarvoor dat die mensdom die paradys kwyt is nie; sy het ook die diskriminasie en onderdrukking van geslagte en geslagte vroue deur die eeue op haar gewete. Ek wonder partykeer of sy besef presies hóéveel ellende daardie fatale hap veroorsaak het. Miskien tog. Miskien juis sy, wat beter as enige een van ons besef wat die mensdom en veral die vrouegeslag verloor het toe hulle uit die Tuin van Eden geskop is – sy was tog daar! Miskien het sy haar dade terdeë berou …
Haar hart hamer waarskuwend in haar keel toe sy haar hand uitsteek en aan die vrug raak. Die vrug se skil is blink en glad; die rooi wang vol belofte van heerlike soet sappigheid wat binne-in skuil. Sy sluk die oormaat speeksel wat in haar mond versamel, moeisaam weg en kyk rond, maar niemand sien haar nie. Sy kyk weer, en ruik die soet geur wat om die boom hang. Ja-nee, dis beslis die lekkerste vrug wat sy nog gesien het. Sy kan dit byna proe.
Sy kyk nog ’n keer om en pluk dan die vrug. Dit lê swaar en koel in haar handpalm, vol belofte van heerlikheid en van kennis in hom opgesluit. Een ou happie, net een. Dit kan tog nie so erg wees nie. As God dit gemaak het, moet dit mos goed wees. En om soos God te wees! Hulle sal alles kan ken, hulle eie besluite kan neem … Die moontlikhede verbyster haar.
Die vrug kraak onder haar tande, en sy sap oorweldig haar tong met sy verruklike geure. Dis die lekkerste vrug wat sy nóg geproe het. Gulsig vat sy nog ’n hap, en nog een, totdat sy later met net die stronk in haar hand staan. Sy wens Adam was hier om dit ook te proe. Gelukkig is daar nog ’n ryp vrug vir hom ook. Sonder om verder te dink, pluk sy dit vir Adam en loop af na die rivier waar sy weet hy sal wees.
Adam lyk eers skepties. “Ons mag dit nie eet nie, en jy weet dit,” sê hy streng. “God het gesê die dag as ons dit eet, is ons dood.” Hy kyk agterdogtig na die vrug en raak nie daaraan nie.
“Wel, ek is nie dood nie, is ek?” antwoord sy kordaat. “Jy móét dit net proe. Dis die lekkerste van al die vrugte.” Sy hou weer die vrug na hom toe uit. “Toe, vat ’n hap. Jy sal nie spyt wees nie.”
Hy vat die vrug by haar en bekyk dit versigtig. Sy vinger gly oor die gladde skil.
“Ruik net hoe geurig is dit,” por Eva hom aan.
Hy ruik eers, en dan vat hy sy eerste hap. Sy oë gaan onwillekeurig toe van die behaaglikheid. “Is nogal lekker!” sê hy al kouende, en vat nog ’n hap. Die sap loop in sy baard af. Hy vee dit met sy hande weg, en vee dan sy hande aan sy boude af.
Eva hou hom dop terwyl hy sy hande afvee, en haar gesig trek op ’n verontwaardigde plooi. “Sies, maar jy eet morsig. En skaam jy jou nie om so … so onbedek rond te loop nie, Adam?”
Hy is eers half verbaas, en dan vervies hy hom op die plek. “Waarvan praat jy, Eva? Ek het nog nooit anders rondgeloop nie. Hoekom pla dit jou nou ewe skielik? En in elk geval, jy is net so onbedek soos ek. Hoekom moet ék dit nou skielik ontgeld?”
Eva se mond val oop. Só het Adam nog nooit met haar gepraat nie! Sy wou hom tog net reghelp. Dit was nou regtig nie nodig dat hy so … Sy soek na ’n woord vir Adam se houding, maar sy kry nie een nie. Sy het hom nog nooit kwaad gesien nie, en self was sy dit ook nog nie, altans nie voor vandag nie. Maar dis nie nou die tyd om daaroor te wonder nie. Hulle het ’n probleem wat opgelos moet word. Sy dwing haarself om te glimlag en sê: “Ek weet nie hoekom dit my ewe skielik pla nie, maar ek dink nie ons behoort so te loop nie. Ons moet ’n plan maak om ons te bedek.”
Adam sug, en knik dan. “Goed. Ek dink ons moet blare gebruik. Die vyeboom daar anderkant het lekker groot blare. Ons kan grashalms vleg om die blare om ons lywe vas te bind.”
Daardie aand, toe God soos gewoonlik in die tuin kom wandel, kruip hulle weg, bang om verslag te doen van die dag se gebeure.
***
Eva skud haar kop treurig toe sy aan dié dag terugdink. Sy sal nooit die teleurstelling en woede in God se stem vergeet nie. Vervloekte slang! Hoekom het sy ooit na hom geluister?
Na sy die vrug geëet het was daar soveel nuwe emosies wat sy skielik begin ervaar het, emosies waarvoor hulle aanvanklik nie eens name gehad het nie: woede, agterdog, skaamte, skuldgevoelens, teleurstelling … In haar gedagtes herleef sy dit nog asof dit gister was: Adam wat ewe skynheilig die vinger na haar wys en vir God sê: “Dis die vrou wat U my gegee het. Dis haar skuld. Sý het die vrug na my toe gebring en gesê ek moet dit eet, dit smaak lekker.” Asof hy nie ook soos sy daarvan geëet het nie!
Die vrug hét lekker gesmaak. Maar die nasmaak is bitter, galbitter. As sy dit maar net geweet het, as sy maar net haar ore toegedruk het toe die slang met haar begin praat het, dan was hulle nou nog in die Tuin van Eden.
Sy trek die velmantel wat God vir haar gegee het, stywer om haar skouers. Die wind sny vandag gevaarlik koud oor die vlakte, en selfs in die grot is dit ysig. Waar sou Adam bly? Hy is nou al wie weet wanneer weg om te kyk of hy nie in die veld iets te ete kan kry nie. Vandat hulle uit die Tuin van Eden geskop is, moet hulle elke dag verder en verder na kos soek en vat dit al langer en langer, want die vrugtebome en bessies is maar skaars. Hulle het later selfs in die grond begin krap om te kyk of daar nie ’n knol of ’n eetbare wortel of iets is nie, maar dié is net so skaars. Sy wil-wil hom jammer kry, maar dan skop die ongebore kind woes in haar sodat die pyn momenteel deur haar ruk, en haar jammerte is weg. Hý het haar swanger gemaak, en nou kan hý vir hulle kos soek. Sy wonder hoe lank dit nog sal wees voordat die kleintjie kom. Die maan het nou al nege keer vol geword sedert sy laas bloed gesien het, en dit voel die laaste dag of so of die kleintjie al laer in haar maag afsak. Sy hoop nie hy val uit nie!
Sy wonder hoe die kleintjie gaan uitkom. Sy is baie bang, want God het gesê haar swangerskap gaan swaar wees, en sy sal met pyn kinders in die wêreld bring. Die swangerskap ís swaar, die hemel weet. Eers elke oggend so naar dat sy wou dood, en later die ongemak. Sy weet nie hoe om te slaap nie, want die kleintjie in haar maag is al in die pad. En sy bly kortasem. Sy wens die kind wil kom dat sy weer haar lyf vir haarself kan hê.
’n Kramppyn trek deur haar onderlyf sodat sy onwillekeurig na haar asem snak. Sou dit die begin van die geboorte wees? Waar is daardie vervlakste mansmens as sy hom nodig het?
Berou kom mos altyd te laat. Dit was toe so, en vandag is dit nog steeds die geval. Jy weet voor jou siel dit is verkeerd, en jy weet ook jy gaan agterna spyt wees, maar jy doen dit in elk geval. Dis die misterie van die sonde. Ons verbeel ons die kortstondige genot van die oomblik weeg swaarder as die slegte nagevolge. Of is ons jou werklik waar so onnosel om te glo daar sal nie nagevolge wees nie? Sou Eva regtig die slang geglo het toe hy God se doodsvonnis oor ongehoorsaamheid weggepraat het?
Views: 95