Daar het ongelukkig ‘n fout ingesluip met die klank-opname van vanoggend se diens. Jammer daaroor. 

Met die hewige moeson-reëns in Pakistan, wat sowat ’n derde van die land onder water het, het ek in Netwerk24 gelees mense sê dis ’n vloed van Bybelse proporsies. Dit het my laat dink aan ’n hewige polemiek in die koerant oor Noag en die sondvloed, ’n paar jaar gelede. Een groep het gesê nee, die sondvloed kon nie plaasgevind het nie, want die wetenskaplike gegewens dui nie daarop nie. Hulle het ’n klomp ingewikkelde argumente aangevoer van watter diere dan in die ark sou moes wees ens, van korale wat nie die skielik dieper seevlak sou kon oorleef nie, en al sulke dinge. Dan is daar weer ’n ander groep wat wil flou val net by die gedagte dat iemand dit durf waag om te sê die sondvloed was nie heeltemal so wêreldwyd soos die Bybelse verhaal ons wil laat verstaan nie.

Ek wonder darem wat God van dié gestryery dink. Hy sit seker maar met ’n skewe glimlag na al dié manewales en kyk, want gelukkig het Hy ’n goeie sin vir humor. Hy móét ’n goeie sin vir humor hê, anders sou Hy dit nooit met ons uitgehou het nie!

In elk geval, dié polemiek het my laat dink aan ’n opmerking van wyle prof Johan Heyns. Hy het by geleentheid vertel van die wrang smaak wat ’n hele klomp moderne teoloë se dogmatiek (besinning oor God) by hom gelaat het. Hy sê as jy party teoloë se dogmatiek lees, staan jy verstom oor hoe analities die mense te werk gaan as hulle oor God dink en skryf. Hy sê dit voel vir jou dié skrywers is patoloë, eerder as teoloë, want as hulle God klaar gedissekteer en uitmekaar gehaal het, bly jy met die vermoede dat hulle ’n kadawer van God opgesny het. Van die lewende, heilige God voor wie ons in verwondering leef, sien hy niks in dié teoloë se werk nie.

Ek dink die skrywer van Ps 19 sou dit roerend met prof Heyns eens gewees het. Want in Ps 19 wil die skrywer ons iets laat sien wat ’n mens in die sleur van elke dag dalk mag miskyk: dat alles om ons, saam met die Bybel, ons uitdaag om met verwondering voor God te leef. Dat dit darem baie sinloos is om ure lank te stry oor hoe wyd en diep die sondvloed nou eintlik was en oor hoeveel diere Noag op die ark met hom saamgevat het en waar hy vir almal kos gekry het, of oor hoe lank die dae was waarin God die hemel en die aarde gemaak het, en of Jona régtig in ’n vis se maag kon oorleef, en dit nogal vir drie dae lank.

Dit mag dalk baie interessant wees om oor dié goed te stry, maar ongelukkig mis jy dan die punt, en dit is dat die Bybel ons oë daarvoor wil oopmaak dat God ongelooflik wonderlik is; dat Hy ’n God is wat ’n fantastiese skepping daargestel het, só fantasties dat die hemelruim, die sterre, die son, dag en nag dit eenvoudig uitjubel, al kan hulle nie ’n enkele woord praat nie. Ps 19 sê hulle stem is onhoorbaar, maar as jy jouself toelaat om daarna te luister, oorweldig hulle boodskap jou.

Dís wat die Bybel ons wil leer: om in verwondering voor God te leef. Ja, vra maar jou vrae. Ja, wonder maar jou wonders. Ja, dink gerus ’n bietjie dieper oor dié dinge, maar moenie toelaat dat dit jou vertrekpunt, jou verwondering, jou respek, jou heilige eerbied voor die almag misterie en liefde van die lewende God, verweer nie.

Daarom is dit as ’t ware met bewende vingers dat die skrywer van Ps 19 die Bybel optel en vir ons wys, want in die Bybel het hy die Lewe (met ’n hoofletter) ontdek. Kom ons lees weer saam hoe hy dit prewel:

• Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe.
• Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
• Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap.
• Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.
• Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas.
• Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.
• Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.

Ps 19 wil ons laat verstaan dat God se Woord nie in die eerste plek daar is om ons nuuskierigheid oor die skepping te bevredig nie – daarvoor moet jy na die wetenskap gaan – maar om ons te help om in vreugde voor God te lewe as heel mense. Dit wil ons wysheid gee, koers gee, insig gee, bewaar van dwaling en sonde. Daarom is die Bybel ’n kosbare boek, soet op die tong vir dié wat die moeite doen om dit in te neem.

In die laaste deel van die psalm druk die digter sy vinger op die hele probleem waarom mense so oor die sondvloed en sulke soort vrae stry: arrogansie. Mense dink te veel van hulleself, te veel van hulle eie vermoëns en insigte. Daarom dat hulle dit waag om hulleself teen God en teen sy Woord op te stel.

Dis ’n gevaar waaraan ons almal blootgestel is. Selfs die digter van hierdie psalm is nie gevrywaar van dié versoeking nie, en daarom bid hy aan die einde: Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Daar is mense wat na God se skepping kyk en sê: Wat ’n mooi wêreld. Daar is mense wat die Bybel lees en sê: Dis interessant, maar dis darem ’n bietjie dik vir ’n daalder. En dan is daar mense, soos die digter van Ps 19, wat na God se wêreld kyk, en God se Woord lees, en in nederige verwondering voor die God van die wêreld en die Bybel kniel en bely: Wat ’n wonderlike God!

Amen

image_pdfimage_print

Views: 65

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.