deur koning Lemuel van Massa

’n Knap vrou is baie meer werd as die kosbaarste diamant.
Sy is vir haar man ’n steunpilaar
en sy bring haar kant in die huis.
Om met só ’n vrou getroud te wees, is louter vreugde en dit hou ’n leeftyd.

Sy doen haar aankope oordeelkundig.
Met fyn beplanning sorg sy daar altyd kos op die tafel is.
Douvoordag staan sy op om die maaltye te beplan;
daar is genoeg vir almal, selfs vir die werksmense.

Sy weet hoe om met geld te werk
en doen haar deel om die huis se boeke te laat klop.
Sy verrig haar dagtaak met entoesiasme,
haar hande staan vir niks verkeerd nie.

As almal al in die bed is, bly sy nog besig:
klere maak, brei, noem maar op – sy blink daarin uit.
Sy lewe nie net vir haarself en haar mense nie;
sy het ’n oop hand en hart vir die armes en behoeftiges.

As die winter kom, is sy gereed,
want haar huismense se klere is reg vir die koue.
Saans kan hulle warm slaap,
komberse is daar genoeg.

Haar man is suksesvol in sy werk,
hy weet hy kan op haar reken
want sy is ’n vrou met karakter.
Sy tob nie oor die toekoms nie.

As sy praat, kan jy maar luister;
as sy leiding gee, doen sy dit met liefde.
Sy hou goeie toesig oor haar huis;
lui is sy nie.

Haar kinders het die hoogste agting vir haar,
sy is haar man se trots:
“Ek wil jou vir niemand verruil nie, my lief,
want jy is die beste!”

Uiterlike skoonheid hou nie,
’n mooi gesiggie is nie alles nie;
die vrou wat die Here dien,
is die een wat geprys moet word.

Dra só ’n vrou op die hande,
want haar soort is skaars.
Jy hoef nie oor haar te loop en spog nie,
want haar handewerk praat vir hulleself.

Jy kan hierdie treffende loflied in sy oorspronklike vorm lees in Spr 31:10-31.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.