Die hart van die geloof klop in die gemeente. Hier, in die gemeente, waar die gemeente saamkom, hier ontvang ’n mens jou inspirasie en jou aanmoediging. Hier bring ’n mens jou lofoffers, die vrug van jou lippe aan God, en kry jy geleentheid tot liefdadigheid en mededeelsaamheid. Laat ek dit weer sê: Die hart van die Christelike geloof klop in die Christelike gemeente.
Op talle plekke in Hebreërs staan hierdie gedagte, maar veral treffend in ons teksgedeelte, 10:23-25. Hy praat hier daarvan dat Christus, ons groot Hoëpriester, vir ons ’n weg berei tot in die Vaderhart, sodat ons met vrymoedigheid op dié weg kan gaan. En dan noem hy 3 dinge wat die gemeente moet doen terwyl hy op hierdie weg na die stad met vaste fondamente is:
∙ Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely … Letterlik staan hier: die belydenis van wat ons hoop, soos die 2020-vertaling dit vertaal. Laat ons ons belydenis vashou. Laat ons bly vashou wat ons bely en glo, laat dit vir ons kosbaar wees, laat ons dit oordink, dit bestudeer, in die Woord delf om die beloftes beter te verstaan, met vrymoedigheid daaroor te praat.
∙ Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade… Hierdie oproep is so duidelik dat ek eintlik nie eers daaroor iets hoef te sê nie. Enige een wat dit lees, verstaan dit dadelik. Ons moet na mekaar omsien. Maar tog gebeur dit nie! Mense raak weg uit die kerk, mense doen sonde, mense raak verslaaf aan drank, mense bedrieg hulle eggenote, mense leef met selfsug, met geldsug, met haat, met minagting vir hulle naaste, mense pleeg onreg, doen ander leed aan, noem maar op … en dit raak ons skynbaar nie. Ons kyk weg! Ons sê: Is ek my broer se hoeder? Ek het niks met sy of haar sake uit te waai nie. Dis hulle sake. Dis nie my besigheid nie.
Gemeente, dit hoort tog nie so nie! Dis juis die verskriklike prentjie wat Hebreërs vir ons teken: Party wat saam met die volk uit Egipte gered is, het agtergebly in die woestyn! Daarom moet ons op mekaar let, sodat party van ons nie in die genade veragter, en afvallig word nie. Ons is verantwoordelik vir mekaar. Ons geloofsgenote se bloed sal van óns hande geëis word. En kyk mooi wat staan hier: Ons moet nie eers begin vermaan as die naaste klaar op die verkeerde pad is nie, nee, ons moet mekaar ook aanspoor tot liefde en goeie werke! Ons moet ook positiewe, goeie woorde vir mekaar hê. Ons moet ook oor verdienstelike sake met mekaar praat en mekaar aanmoedig om daarin te glo en daarvoor te werk en te gee en te offer.
Dan voeg hy ook nog ’n derde oproep by:
∙ Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan…
Mense sê soms: Kerkgang is ’n gewoonte. Natuurlik! Dis ook reg so! Dis reg dat ’n gesin, pa en ma en kinders Sondag opstaan en voorberei en opgaan na die gemeentelike samekoms, as getuienis vir die wêreld, omdat dit so hoort dat Gods volk vergader. Moenie wegbly nie, sê Hebreërs.
Dis interessant dat hier staan: Party het die gewoonte om nie te gaan nie. Dit is óók ’n gewoonte! Dit is éérs ’n gewoonte! En daarby ’n baie slegte gewoonte, om nie te sê ’n gevaarlike gewoonte nie. Nou is die eredienste natuurlik nie al soort gemeentelike samekoms nie. Dit gaan ook nie hier net om die eredienste self nie. Dit gaan om die hele gemeentelike lewe, oor al die verskillende geleenthede wat die gemeente reël dat sy lidmate bymekaar kan kom, saam kan praat, saam kan werk, saam kan wees.
Ons moenie hierdie geleenthede verwaarloos, soos party die (slegte) gewoonte het nie, want dalk raak ons dan heeltemal weg, verdwaal ons van die weg af, en bly ons agter in die woestyn. Ons het mekaar baie nodig. En ons is verantwoordelik vir mekaar.
Die gemeente, die kerk, is die plek waar die Christelike geloof verkondig, uitgeleef, deurgegee, geglo word. Hier word ons versterk en word ons behou. Dit beteken nou nie dat die kerk volmaak is, sonder gebreke en tekortkominge nie. Maar uiteindelik bly die kerk al wat ons het. Uiteindelik bly die kerk, ten spyte van al die gebreke, die plek waar ons begin glo en hoop het en moet bly glo en hoop.
En daarom moet ons mekaar nie laat los nie, maar vermaan, en aanmoedig, en vashou, en bereid wees om vermaan te word, en aangemoedig te word, en vasgehou te word.
Dit is presies waarmee die Hebreërboek besig is: om ons te inspireer en te waarsku. En die manier waarop dit gedoen word, is juis om die gelowiges te herinner aan Jesus Christus, wat die inhoud van ons belydenis is, en ons te herinner aan mekaar, aan ander gelowiges wat dieselfde worstelinge as ons deurmaak. Ons moet ons oë gevestig hou op Jesus en op ons medegelowiges.
Ons is immers nie alleen, as enkelinge, op pad na die stad met vaste fondamente nie. Ons is deel van die Godsvolk, van die verbondsvolk. Geloof beteken om nie alleen te wil Christen wees nie, maar saam met die gemeente die Here te dien, en verantwoordelikheid vir mekaar te aanvaar. Ons het die Here nodig, en ons het mekaar nodig.
Views: 87