Die Britse flair vir ’n seremonie het my nog altyd gefassineer. Ek het self al by Buckingham Paleis gestaan en wag dat die wagte omruil, net om te laat ontdek dat die seisoen vir dié grootse geleentheid die vorige week al geëindig het. Ons gidsboek was nie duidelik oor presies wanneer dit sou staak nie.
Daarom was al die prag en praal rondom die koningin se heengaan vir my iets om te aanskou. Dit was, om die minste daarvan te sê, indrukwekkend, soos dit waarskynlik bedoel is om te wees. Sowat van interessante klere en togas en pruike en snaakse kepse het ek nog nooit bymekaar gesien nie, om nie eers te praat van die soldate se uniforms en húlle snaakse hoofbedekkings nie.
Ek dink die marsjeer in die strate het iets gekommunikeer van die gewigtigheid van die saak, en niemand wat daar was (of soos ek dit op TV gevolg het) kon ongeraak gebly het nie. Die presiesheid waarmee alles verloop het, tot op die minuut, was oorbluffend. Niemand kan die Engelse dÃt nadoen nie.
Die seremonies by die twee dienste het my ook geraak. Dis so heel anders as ons eie begrafnisse, maar tog ook besonder troosryk. Die musiek en sang, en veral die gebede, het my aangegryp. Ek dink nou nie eintlik die aartsbiskop se preek was watwonders nie, maar tog, die hele diens het waardigheid en gewydheid geadem. Vir my persoonlik was dit ’n hoogtepunt toe al haar koninklike majesteit se simbole van mag en status van haar kis afgehaal is en op die altaar geplaas is, sodat sy as ’n eenvoudige gelowige die ewigheid kon ingaan. Inderdaad sprekend.
Wat my wel gepla het, is dat die kerk, in nabootsing van die staat (of andersom?) net so oordadig geword het. Die ryklik-versierde kerke, die vergulde kruise, en ook die swierige togas het my opgeval. Vanuit die sober kerklike tradisie waaruit ek kom, het dit my gepla dat die kerklikes as ’t ware meegeding het met die staatslui in uitspattigheid. Ek wonder hoe ons Here Jesus, die Dienaar by uitnemendheid, oor dié uiterlike vertoon voel.
Die hele stad (en seker die hele land) het tot stilstand gekom Maandag, om ’n laaste eer aan die ontslape monarg te bewys. Dis vir ons wat nie deel van die Britse Koninkryk is nie, byna onverstaanbaar dat mense só oor hulle koningin kan voel. Sy was hulle almal se ma, kan ’n mens amper sê. Soos een van die aanwesiges gesê het, sy wás Engeland.
Vir my as buitestaander het dit gevaarlik naby aan mense-verering gevoel, maar tog, terwyl ek die spulletjie bekyk het, was ek jaloers. Óns het nie so ’n ikoon nie. Sy was ’n rolmodel vir talle, die simbool van statigheid en waardigheid en standvastigheid. (G’n wonder nie dat haar seun Andrew sy plek in die monargie kwyt is, want hy is juis nié ’n rolmodel nie. Hy pas nie in in die monargie nie. ’n Losbol met bedenklike sedes reflekteer sleg op die edele waardes waarvoor koningin Elizabeth haar lewe lank gestaan het.)
Soos ek sê, ons het nie ’n rolmodel soos die koningin nie. Het ons maar gehad. Maar helaas – na wie kan ons in hierdie verskroeide land van ons opsien? Ons politici het voete van klei. Ons kerkleiers baklei onder mekaar en sê mekaar sleg. Ons polisie akkommodeer net té veel skelms. Ons lees van onderwysers wat kinders misbruik. Meer huise in die land is gebroke as wat daar gesonde gesinne is waar Pa en Ma die liefde van die Here vir hulle kinders uitstraal en voorleef. Daar is haas nie ’n aspek van ons dierbare land wat nié gebreek is nie. Het ons maar ’n koningin gehad wat die hand op die rat kon hou!
Ek huil in my hart by die afsterwe van die koningin. Nie omdat ek vreeslik hartseer oor haar is nie, maar oor alles waarvoor sy gestaan het wat saam met haar graf toe is. En ek huil oor my dierbare land.