Het jy al in absolute verwondering gestaan oor hoe groot God is, hoe fantasties wonderlik sy skepping is, hoe netjies Hy sake reël, en dan probeer om ’n ongelowige te help om iets van God se grootheid te sien en te erken? Net om uiteindelik hande in die lug te gooi en te sê jy kan nie verstaan hoe hy/sy dit nie kan insien dat daar ’n God is nie?
Die Hebreër-skrywer wil ons help om te verstaan dat dit nie net met ongelowiges gebeur dat hulle iewers vir God miskyk nie. Dit kan met ons ook gebeur, en dit is baie gevaarlik. Daarom, sê hy, moet ons ons oog doelbewus instel om God te kan sien, sodat ons oor Hom en sy besigwees in die wêreld opgewonde kan raak. As jy nie langer vir God raaksien nie, gaan jou geloof agteruit, soos wat gebeur het met die mense vir wie die Hebreërboek aanvanklik geskryf is. Die Hebreër-boek is geskryf vir mense wat moeg geword het om te glo, om hulle aan te spoor om vas te byt en te volhard. In die boek spel die skrywer op verskillende maniere uit wat dit beteken om te glo. In hoofstuk 11, waaruit ons vanoggend gelees het, neem hy voorbeelde uit die Ou Testament en sê: dís hoe geloof in die praktyk lyk.
’n Gelowige, sê die Hebreërboek, is iemand wat in staat is om God en sy besigwees in die wêreld te kan sien.
Ons teksvers sê: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons (nog) nie sien nie, maar waarop ons hoop. Deur die geloof weet ons dat daar meer dinge is as dit wat ons met ons sintuie kan waarneem; dat daar agter die sienlike ook die Onsienlike is, naamlik God.
Reg deur hierdie pragtige hoofstuk oor die geloof beklemtoon die skrywer dit elke keer dat die geloof van die mense uit die ou tyd daarin gelê het dat hulle ten spyte van die feit dat hulle nie iets met die blote oog kon sien nie, tog opgetree het soos hulle opgetree het omdat hulle die onsienlike gesien het; omdat hulle God gesien het. In vs.7 staan daar: Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Deur die geloof het Noag dus dit wat nog nooit gesien was nie en wat niemand met gewone oë kon sien nie, wat nog sou gebeur, nl. die vloed, gesien … en sy lewe daarvolgens ingerig. In vs.13 sê die skrywer, as hy al die gelowiges se dade saamvat, dat hulle gesterwe het sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig. En in vs.27 sê hy van Moses dat hy volhard het deur die geloof soos iemand wat die onsienlike God sien.
Dít is wat geloof is: Om God te kan sien! Daarom sê die skrywer in 2:8,9: Nou sien ons nog nie … Maar ons sien Jesus… Ons sien nog niks in hierdie wêreld nie – ons sien nog nie vir God nie, ons sien nog nie sy heerskappy nie, ons sien nog so min as ons met die blote oog kyk, maar ons sien Hóm, naamlik Jesus. Ons sien niks … maar tog sien ons iets: ons sien Jesus! Daarom sê die skrywer telkens in die boek dat die gemeente hulle oog op Jesus gevestig moet hou. In 3:1: Daarom … moet julle noukeurig let op Jesus … 12:2,3: … die oog gevestig op Jesus … Hou Hom voor oë …
Martin Luther sê van geloof: Geloof is om dieper te kyk as wat jou oë kan sien en dié dinge raak te sien wat jy nog nie met jou gewone oog kan sien nie en terselfdertyd om die dinge wat jy met jou gewone oë sien, mis te kyk, daarby verby te kyk en dieper te kan sien, tot by God te kan sien. Geloof, kan ’n mens sê, is om met ander oë na hierdie wêreld te kyk, jou nie blind te staar teen wat jy met jou gewone oë kan sien nie, maar te weet: die wêreld is méér as wat jy met jou gewone oë sien. Geloof is om met God se oë na hierdie wêreld te kyk.
As ’n mens na jou eie lewe kyk, jou sondigheid, jou verlorenheid, en vra: Hoe kan ek ’n Christen wees? As Satan jou daarmee versoek en wil laat twyfel, sê die Bybel: Kyk na Jesus! Sien Hom raak! Hý is die Een wat jou sonde weggeneem het, jou gered en nuut gemaak het. As Satan jou beskuldig oor jou gebrek aan heiligheid, jou wys op die sondigheid van jou lewe, kyk dan na Jesus! Moenie na jouself kyk en moedeloos word nie, sien jou soos Jesus jou sien, soos Hy jou beoordeel. God kyk na jou deur die bloed van Jesus, en daarom mag jy na jouself kyk deur die bloed van Jesus. En as God na jou kyk, sien Hy jou, skoon gewas deur die bloed van Jesus, en daarom kan jy ook so na jouself kyk en weet: die duiwel kan niks aan jou doen nie. Hy kan jou nie bang maak en laat twyfel nie, want in Christus is jy heilig, vergewe!
Of ons lewenswaardes – As die hele wêreld vandag so ingestel is dat alles net gaan om eie verryking en selfverwesenliking, en dat ’n mens enige middel moet gebruik tot voordeel van jouself, as mense vir jou sê: Wees tog realisties, dink ’n bietjie aan jouself, hierdie lewe is nou eenmaal so: ’n oog vir ’n oog; baantjies vir boeties; omkoopgeld en twyfelagtige sake-praktyke – dan sien geloof verder, dan onderskei geloof die wil van God, en sê: Nee, ek volg ’n ander pad, ek kan nie anders nie. Ek doen wat reg is, al sê almal wat! Al sê my eie verstand en hart anders! Want Gód rig my lewe en besluite.
As ons na mekaar kyk en net sien wat voor oë is, dan sien ons soms min wat goed is in ander. Die maklikste is om ander af te skryf en te sê: Nee wat, vergeet van hom of haar, daar is geen hoop vir sulke mense nie. Jy mors jou tyd met hom of haar. Maar as ons met God se oë na mekaar kyk en na ander mense en groepe, dan sien ons moontlikhede in mekaar raak, die goeie in mekaar raak, die beeld van God in die ander raak, en dan hanteer ons mekaar soos God ons hanteer, en reken ons met moontlikhede in ander wat die blote oog nie kan sien nie.
Hierdie brief wil dus vir ons sê: Geloof is die vermoë om anders te kyk as wat ander mense kyk. Dit is om ver te kan sien, die toekoms in, tot by God en by Jesus, om die nuwe hemel en die nuwe aarde te kan sien, waar die wil van God sal heers. Geloof is om God se wil te kan raaksien, om nie net vas te kyk en verlei te word deur wat naby is, voor oë is, beskikbaar is – deur dit wat almal sien en deur dit wat almal doen – nie, maar om God se teenwoordigheid te sien en jou lewe daarvolgens in te rig.
Daarom is geloof ’n praktiese saak, ’n saak vir elke dag, ’n lewenswyse. Geloof is die insig om te weet wat saak maak. Daarom moet ’n gelowige altyd weer jou eie lewe beoordeel en vra: Sien ek nog die dinge raak waarop dit aankom? Is die Onsienlike nog belangrik in my lewe? Verstaan ek nog wat belangrik is in die koninkryk van die Here?
Hulle vertel my dat monnike in die klooster elke dag ’n eksamen moes aflê, en hulleself drie vrae moes afvra:
∙ Waar het ek God se genade vandag beleef?
∙ In wie het ek vandag vir Jesus gesien?
∙ Waar het God Hom vandag vir my geskaam?
Dít is wat geloof van ons vra: om God en sy besigwees in die wêreld om ons te herken en daaraan deel te neem. Mag ons in die week wat kom, só besig wees!
Amen.
Views: 177