Geloof is die wete dat dit wat ons elke dag om ons sien en beleef, nie die hele verhaal vertel nie. So begin die Hebreërskrywer hierdie hoofstuk (11:1). Geloof, sou ons ook kon sê, is die vermoë om beter as hierdie wêreld te kan sien, om jou nie blind te staar teen die aardse alleen nie, maar vir God in hierdie wêreld raak te sien, met Hom rekening te hou.
Maar geloof is nie net die vermoë om dinge te kan sien nie. Die feit dat ons God kan sien in hierdie wêreld, vra van ons dat ons ook ons lewens daarvolgens moet inrig. Hierdie insig wat ons het, hierdie vermoë om God te kan sien in hierdie wêreld, word eers geloof as ’n mens dit nie net verstaan nie, maar ook daarvolgens begin lewe. Dis eers waarlik geloof as jou visie op God en op God se toekoms daadwerklik jou lewe in die hede vernuwe en verander, as jou insig in God se wil, as jou droom van sy koninkryk, as dit jou lewe van elke dag begin beïnvloed, sodat jy jou waardes daarvolgens bepaal, jou program daarvolgens beplan.
Om hierdie gedagte by ons tuis te bring, gebruik die Hebreërskrywer die beeld dat ons vreemdelinge in hierdie wêreld is (11:13). ’n Christen het geword soos ’n burger van ’n ander koninkryk, die koninkryk van die hemel! Soos wat ’n mens burgers van ’n vreemde land, toeriste, of besoekers, maklik kan uitken tussen ander mense omdat hulle anders lyk en praat en doen as die mense van die land waarin hulle reis, so moet Christene ook uitkenbaar wees aan die manier waarop ons optree en praat; ons vreemde, anderse lewenswyse. As mense na ons kyk, moet hulle kan sien dat ons waardes, ons lewenstyl nie soos die waardes en norme van hierdie wêreld is nie, dat ons vreemdelinge in hierdie wêreld is.
Uit Heb 11 kan ons ’n hele paar voorbeelde haal van mense wat nie net beter en verder gesien het as die gewone mense nie, maar ook daarom anders opgetree het as die aanvaarde aardse gebruike.
Neem nou maar vir Noag (11:7v). Toe hy deur die geloof verstaan en gesien het wat God gaan doen, iets wat nog nie gesien is nie, … het hy God eerbiedig gehoorsaam … en … die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. ’n Mens kan jou nouliks ’n vreemder gedrag voorstel as hierdie. ’n Skip op droë grond, ver van die water af! Uit die woord eerbiedig waarmee Noag se optrede beskryf word, kan ’n mens agterkom dat dit vir hom ook maar ’n stryd was, dat dit nie die vanselfsprekende ding was om te doen nie. En tog gehoorsaam hy God, omdat hy glo.
Van Abraham lees ons in vs.8. Ook hy tree vreemd op, want hy trek weg uit die bekende … sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente (wat beteken tydelike verblyf) het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Omdat hy die beloftes het en glo en die stad verwag, is sy eintlike burgerskap elders, in die toekoms, by God. Daarom bly hy hier tydelik in tente, in die vreemde land, as vreemdeling.
En so sou ’n mens die voorbeelde kon vermenigvuldig. In 11:13-16 vat die skrywer dit self saam en pas dit toe: Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.
Die beloftes wat hulle van ver af gesien en geglo het, het hulle lewens daadwerklik bepaal. Dáárom het hulle bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde is en verklaar dat hulle ’n vaderland soek. Dáárom het hulle verlang na ’n beter, hemelse, vaderland en daarom skaam God Hom nie om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.
Die vraag wat ek en jy vanoggend moet beantwoord, is die volgende: Is dit van ons ook waar? Sal mense wat na jou luister, wat sien wat jy doen en hoe jy leef – sal mense van jou en van my sê ons is vreemdelinge? Dat ons nie eintlik van hier is nie? Dat ons net toeriste is?
Iemand sê in die week, die probleem met moderne Westerse Christene is dat ons só ingesuig is in die materialistiese wêreld waarin ons leef dat ons nie meer ’n boodskap vir die wêreld het nie. Ons lyk net soos die wêreld. Ons jaag net soos hulle na meer, na blinker, na luukser. Ons bou kliphard aan ons aardse koninkrykies in plaas daarvan om iets van die hemelse koninkryk, die Koninkryk van God, hier sigbaar te maak deur wie ons is. Jy moet maar self besluit of dit waar is.
Die ding is: ons, gelowiges, kan iets van God se wêreld en sy teenwoordigheid in die wêreld sien. Ongelowiges kan dit nie sien nie. En dít is waar ons roeping lê: ons moet God vir die wêreld sigbaar maak. My woorde, my keuses, my optrede, alles moet dit verkondig dat Jesus leef en teenwoordig is in my lewe, dat Hý, en nie ek nie, Koning is van my wêreld. Dít is wat die kerk deur die eeue bedoel het met die belydenis: Jesus is die Here. Hý is die Koning van die konings. Hierdie wêreld is Sýne, en al kan die wêreld dit nie sien nie, óns kan dit sien, óns weet dit, en daarom volg ons Hom en dien ons Hom en leef ons soos Hy ons leer en lei.
Vreemdelinge. Dís wat ons is. Dit is ons diepste identiteit.
Kom dan, kom ons leef dit uit wat ons is!
Amen.
Views: 80