Die Hebreërskrywer het een groot punt wat hy in hierdie homilie wil maak, en dit is dat daar in Christus ’n nuwe bedeling aangebreek het in God se besigwees met die mense. Christus, sê hy al in die heel eerste paragraaf van sy preek, is God se finale en volledige woord aan ons (1:2). Christus is die groot Hoëpriester wat ’n nuwe, beter verbond gebring het (hfst 8). Christus is die Middelaar deur wie ons met vrymoedigheid tot God se troon kan nader (10:19).
Daarom, só begin hy hoofstuk 12, moet ons die wedloop van die geloof met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus. Jesus is die Een wat geloof in ons moontlik maak; die Begin van ons geloof. Hy is die een wat by die eindpunt op ons wag. Maar Hy is ook die een wat ons help om klaar te maak; die Voleinder van ons geloof.
Ek is elke keer verbaas as ek met mense oor hulle geloof praat, oor wat hulle glo, want dikwels moet ek rem en trek voordat ons by Jesus uitkom. En dit terwyl ons hele geloof staan en val by Jesus! Paulus skryf aan die Korintiërs (1 Kor 2:2) dat hy hom voorgeneem het om oor niks anders met hulle te praat nie, as oor Jesus as die Christus.
Dit is die Hebreërskrywer se passie ook: Jesus. Jesus, wil hy ons herinner, het alles vir ons gedoen om ons in staat te stel om vir God te leef en enduit vol te hou. Hy het ’n nuwe realiteit vir ons geskep, waardeur ons naby aan God kan kom, waar ons nie vir God bang hoef te wees (soos dit in die ou bedeling die geval was) nie; waarin ons met vrymoedigheid voor God se troon mag staan omdat ons daar hoort as verloste kinders van God, verlos deur die bloed van Jesus.
En nou, in die deel wat ons gelees het, roep hy ons op om te leef vanuit hierdie nuwe realiteit, die realiteit van in God se teenwoordigheid wees; deel van die feestelike samekoms van die verlostes in die hemelse Jerusalem.
Paulus sou gesê het ons moet die dinge wat daarbo is, waar Christus is, bedink (Kol 3:2). Die Hebreërskrywer sê ons moet leef soos mense wat verstaan dat ons eintlik al klaar deel van die hemelse werklikheid is. Ons het klaar ’n onwankelbare koninkryk ontvang. Ons is klaar met Jesus se bloed besprinkel en gereinig. Dis asof ons reeds in die hemel is, tussen die skare verlostes, in God se teenwoordigheid, by Jesus. Dis nie net ’n werklikheid wat eendag waar sal word as die hiernamaals aanbreek nie; dis ’n werklikheid wat nou al, vandag al, aangebreek het in ons lewens. Ons hét daar gekom, verseker hy ons (22).
Vanoggend by die nagmaal sit ons saam met Hom aan tafel! Ons is klaar deel van die hemelse werklikheid, sodat ons hier kan uitstap en gaan leef soos mense wat in God se teenwoordigheid gekom het, mense wat as ’t ware klaar in die Nuwe Jerusalem is.
Want dít moet ons ook in die teks raaksien. Die skrywer herinner ons nie net aan al die wonderlike veranderinge wat met Jesus se koms gekom het nie; hy wil ons nie net verseker dat ons deel daaraan het of deel daarvan is nie, hy wil ons ook oproep om te leef soos mense wat deel van God se nuwe bedeling geword het. Daarom is die teks vol vermanings ook: Beywer julle vir vrede met alles mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie, skryf hy in 12:14. Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie … (12:25). Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur (12:28-29).
Jy sien, die skrywer is bang ons is so gewoond aan die nuwe werklikheid wat in Christus van ons waar geword het, dat ons ons skouers daarvoor optrek; dat dit ons nie meer opgewonde maak nie; dat dit ons nie aanvuur om te leef vanuit die nuwe werklikheid nie, en dat ons nie oor Jesus dink en praat nie, selfs nie eers as ons ons geloof verwoord nie.
Geloof, wil hy vir ons sê, is nie net om sekere goed oor Jesus te weet en te bely nie. Geloof is ’n manier van dink oor jouself, en daarom ook ’n manier van leef in die wêreld, as nuwe mens, as deel van die hemelse vergadering. Geloof is ’n lewenswyse, ’n lewe in en vanuit die teenwoordigheid van Christus.
Geloof is om op te staan met die wete: ek behoort aan die Here. Geloof is om jou kos te eet met die lied in jou hart: dis ’n gawe van God. Geloof is om te werk asof jy dit vir die Here doen. Geloof is om te gesels met die wete dat Jesus ’n stille gespreksgenoot in julle midde is.
Om te lewe as lid van die hemelse vergadering: dit is ons werklikheid in Christus. Ek bid dat ons nie ooit só gewoond daaraan raak dat dit ons nie meer opgewonde en dankbaar maak nie!
Amen.
Views: 70