Wanneer ’n mens oor die uitverkiesing begin praat, is dit dikwels asof mense ’n vaalte oor die oë kry. Party sê openlik hulle wil nie daaroor praat nie, want dit maak hulle onseker of selfs bang. Hoe weet jy jy is uitverkies? Hoe moet ons daaroor dink?

’n Mens sou baie dinge oor die uitverkiesing kon sê. In ons gereformeerde belydenis is daar selfs ’n hele belydenisskrif daaroor – die Dordtse Leerreëls. Dit het die lig gesien ná ’n lang stryd in Nederland oor die kwessie. Maar ek wil jou nie doodgooi met ’n opsomming van hierdie belydenis nie. Ek wil net enkele opmerkings maak.

 

Uitverkies vir ‘n doel

Die manier waarop die Bybel oor die uitverkiesing praat, maak dit duidelik dat dit nie ’n losstaande saak is nie. Mense word uitverkies vir ’n bepaalde taak. So is Israel verkies om ’n lig vir die nasies te wees (Jes 42:6). Abraham se hele roeping hang daarmee saam: hy is verkies om tot seën vir ander te wees (Gen 12:2). En dié verkiesing het ook sy nageslag se roeping geword. Dit geld van ons ook. Ons is nie uitverkies sodat ons in die hemel sal kom nie. Ons is uitverkies sodat ons werktuie in God se hand kan wees, kanale deur wie God sy genade na die wêreld wil laat vloei.

 

wie is uitverkies en wie nie

’n Taamlike debat oor die uitverkiesing gaan oor die vraag: wie is uitverkies en wie nie? Daar is teoloë wat sê almal is uitverkies. Uiteindelik, sê hulle, gaan alle mense tog in die hemel kom. Dit lyk my nie heeltemal so eenvoudig nie. Maar as jy nie dit wil sê nie, hoe werk dit? Op grond waarvan word party mense uitverkies? Dis eintlik maklik om te antwoord: dis God se soewereine genade, en geen prestasie van ons kant nie. Ons is immers van voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies (Efes 1:4), lank voordat ons enigsins iets kon doen om dit te regverdig of te verdien. Wat God se beweegredes was, is nie vir ons deursigtig nie, behalwe dat ons dankbaar kan wees vir sy genade.

Die fout wat mense maak, is om oor die uitverkiesing te praat los van die Here se genadewerk in hulle lewe. Die uitverkiesing maak net sin vir iemand wat klaar glo. Wanneer ’n mens die besluit neem om te glo, dink jy dis jy wat so besluit het, maar as jy terugkyk oor jou lewenspad, ontdek jy dat dit God is wat jou by geloof uitgebring het. Dis eintlik waaroor die uitverkiesing gaan: ’n belydenis dat jou geloof en verlossing ’n geskenk van God is en nie jou eie prestasie nie.

Dit beteken dat dit sinloos is om buite die geloof om oor die uitverkiesing te dink. Dit help nie om te vra: “Is dié of daardie persoon uitverkies?” nie. Of om te dink dit help nie om te getuig teenoor iemand wat nie uitverkies is nie, want dan sal hy of sy tog nie tot geloof kom nie. Ons moet God se genade-aanbod ernstig neem: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee,” het Jesus in Matt 11:28 genooi. Party reageer op die uitnodiging, maar party nie. Maar almal word genooi.

 

onherroeplik

’n Laaste opmerking: as die Here jou uitverkies het, sal Hy dit nie weer terugtrek nie. Paulus skryf in Rom 11:29: “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.” Daarom kan ons met hoop leef oor hulle wat deel van die verbondsvolk is maar iewers opgehou glo het. Wie weet? Dalk is daar vir hulle ’n pad terug.

image_pdfimage_print

Views: 71

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.