Wat beteken dit om ’n Christen te wees? Wat verwag God van jou as sy kind?

Ek moet bely dat daar in my eie verstaan van hierdie saak ’n geleidelike skuif gekom het. Daar was ’n tyd toe ek gedink het ’n goeie Christen is iemand wat glo dat Jesus sy of haar Verlosser is wat aan die kruis op Golgota sy sonde weggewas het. As jy dít glo, is jou saak reg, het ek gedink. Ja, natuurlik is dit verskriklik belangrik dat jy kerk toe gaan om jou te help om beter te glo. En jy moet stiltetyd hou en dankoffer gee. En natuurlik moet jy in jou daaglikse lewe teen die sonde en versoekings stry.

Ek dink nie ek het op daardie stadium mooi gehoor wat Jesus ons leer oor gelowige wees nie. Hy doen dit op baie maniere, onder andere ook in Matt 25:14-30, in die Gelykenis van die goue muntstukke.

Jesus sê in hierdie gelykenis: God gee sy liefde en genade aan elkeen van ons. Dit is soos ’n skat wat Hy aan ons toevertrou, Ons moet daarmee werk, sodat dit meer kan word; meer mense kan bereik, sy liefde meer mense kan verander. Ons het elkeen hierdie gawe gekry. Elkeen van ons, al het ons dit nie almal in dieselfde mate gekry nie, en al verwag God nie van ons almal dieselfde opbrengs nie. Maar Hy verwag van elkeen om met die liefde en guns wat Hy ons gee, toe woeker. Dis nie onderhandelbaar nie.

Dis op dié punt dat ek in die laaste tyd anders begin dink oor geloof en Christen-wees. God het ons sy kinders gemaak sodat ons ’n verskil kan maak in die wêreld. Ons is hier, nie net om te ontvang nie, maar veral om dit wat ons ontvang het, aan te gee. Deel-wees van God se koninkryk is nie net om in die ry te staan om God se genade en liefde te ontvang nie. Deel-wees van God se koninkryk beteken om jouself vir God te gee en te werk in die koninkryk.

Dis harde werk om gelowige te wees. Dit kós jou, want jy moet rekenskap van jou tyd en kragte en goed aan God gee. Die koninkryk van God is nie ’n luilekker land nie. Dis ’n wêreld waarin God rekenskap van sy mense eis. Maar – en dit sê Jesus tog ook in die gelykenis: God is nie ’n harde meester nie. Daarvan kan die eerste twee slawe mos vir ons vertel.

image_pdfimage_print

Views: 22

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.