Ons ken almal die geskiedenis van Jakob. Die naam Jakob beteken bedrieër, en dit was Jakob by uitnemendheid. Hy was omtrent soos Nazeem van Suidooster– altyd reg vir ’n skelmstreek, altyd reg om ’n ander ou in te loop. Julle onthou mos nog die verhaal van hoe Esau eendag doodmoeg uit die veld gekom het terwyl Jakob juis besig was om lensiesop te kook. Toe Esau vir Jakob van die lensiesop vra, wou hy dit nie vir hom gee voordat hy nie eers afstand gedoen het van sy eersgeboortereg nie. En later, toe Isak, hulle vader, al oud was en vir Esau wou seën as oudste seun, het Jakob sy eie pa bedrieg en gemaak of hy Esau is, sodat Isak aan hom die eersgeboorteseën gegee het. Esau was natuurlik geweldig kwaad, en Jakob moes vir sy lewe vlug. Hy het by sy oom Laban gaan woon. En daar het hy nie sy streke laat staan nie, want hy het sy oom Laban net so lelik ingeloop, sodat hy baie gou ’n buitengewone groot klomp vee gehad het. (Ek moet darem sê, Laban was self net so ’n opperste skelm, en hy het Jakob ook maar lekker ingeloop, soos die keer toe Jakob met sy dogter Ragel sou trou, en toe hy weer sien, is hy met Lea getroud!)
In elk geval, Jakob, die aartsskelm, is nou, na 20 jaar, op pad terug na Kanaän. En ons lees dat hy baie benoud was oor sy herontmoeting met sy broer Esau vir wie hy so lekker uit sy erfporsie gekul het. Sy verlede het hom uiteindelik ingehaal.
Wat vir my so merkwaardig is, is dat juis hierdie man, hierdie aartsskelm, so ’n besondere plek in die Bybelgeskiedenis inneem, as ’t ware ’n hoofkarakter is in die Bybel. Eintlik behoort hy eerloos en verstote iewers as banneling te gesterwe het. Dit is wat hy verdien het. Maar presies die teenoorgestelde gebeur met hom. Want God het ander planne met hom gehad. Want God laat hom nie voorskryf nie. Hy kan selfs ’n man wat ons as ’n opperste skelm en bedrieër afskryf, verander, sodat hy bruikbaar word in sy diens.
Dit begin waar Jakob in sy nood na God vlug. Dit kan toevallig wees, maar die vorige kere wat ons lees dat Jakob met God gepraat het, was by Bet-El, twintig jaar vroeër, toe God in die droom aan hom verskyn het en hy die volgende oggend die klip waarop hy geslaap het, regop gesit het en ’n gelofte daar aan God gemaak het (Gen 28:20-22). En dan weer, kort voor hierdie gebeure, waar dit ook God is wat aan hom verskyn het en beveel het om na sy geboorteland terug te keer (Gen 31:11). Maar hier op die grens van die beloofde land is hy bang, en vir die eerste keer is dit hý wat die gesprek met God begin as hy in sy nood na God roep (vs 9-12).
En dan gebeur daar iets merkwaardigs daar by die Jabbokrivier. God antwoord Jakob se gebed, maar heel anders as wat hy seker gedink het. God keer hom voor, want so vol sonde en bedrog kan Jakob nie die beloofde land ingaan en sy erfgrond ontvang nie. Jakob ontdek dat hy nie in die eerste plek met Esau sal moet regmaak nie, maar met God! Want met al sy bedrog deur die jare heen het hy nie maar net ander mense te na gekom nie; hy het teen God gesondig. Hy het God teleurgestel. En daarom moet hy eers die saak met God regmaak voordat hy die beloofde land kan ingaan.
Dit was waarom dit in daardie nag van worsteling daar by die Jabbok gegaan het: Jakob moes verantwoording doen aan God vir sy dade. Daarom vra God uitdruklik dat Jakob vir Hom moet sê wat sy naam is, en Jakob moet erken en bely: Ek is Jakob. Ek is ’n bedrieër, ’n skelm.
Maar die Here het natuurlik nie vir Jakob voorgekeer net om ’n skulderkenning uit hom te dwing nie – Hy het hom voorgekeer sodat Hy hom kon seën, sodat Hy hom opnuut kon verseker dat Hy sy God is en wil wees. Daarom gee Hy vir Jakob ’n nuwe naam, die naam Israel, wat beteken: “God voer ’n stryd”, sodat Jakob altyd aan dié nag herinner kon word, altyd kon onthou dat God in sy lewe ingegryp het en hom op ’n nuwe pad geplaas het, ten spyte van sy verlede. Met hierdie nuwe naam het God Hom aan Jakob verbind, belowe God vir Jakob dat Hy sy God sal wees, vir hom die stryd sal voer.
God hét Jakob se gebed verhoor, maar heeltemal anders as wat Jakob ooit kon vermoed. Want God se antwoord het by Jakob self begin. Jakob het daardie nag ’n nuwe mens geword. Die aartsskelm het uiteindelik ’n aartsvader geword, iemand wat waardig was om voorvader vir die beloofde Messias te wees. Daarom kry hy ’n nuwe naam, as teken dat hy ’n nuwe mens geword het.
God het nie vir Jakob gelos, dat hy met sy bedrog-lewe kon voortgaan nie. Hy het hom voorgekeer, hom verander, nuut gemaak, en daarom ook sy Naam oor hom uitgeroep. So is God. Hy los nie sy mense nie. Ook nie vir jou en my nie – want Hy het ons lief, so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het tot in die dood aan die kruis, sodat Hy die Bose magte wat ons van Hom wil wegtrek, kon oorwin. Daarom kon Hy ook opstaan uit die dood, om as Oorwinnaar oor ons die wag te hou.
Die Jakob wat teruggekeer het na die beloofde land, was nie dieselfde mens as die een wat 20 jaar vantevore gevlug het nie. Dis wat met ’n mens gebeur as jy God ontmoet. Jy verander. Jy word nuut. Jy word bruikbaar in God se diens.
So, ek dink dís die vraag waarmee hierdie gedeelte ons konfronteer: Is ek, is jy bruikbaar in God se diens?
Amen.