Adam roep ons voor ete bymekaar by die altaar. Toe ons in ’n kring om die altaar staan, kyk hy op na die hemel en bid: “Here God, ons dank U dat Eva nog met ons is. Dankie dat U die slang gekeer het en dat Abel betyds was. Dankie dat ons hierin u sorg vir ons kan sien.”
Soos elke keer as ons by die altaar is, spits ek my ore. Miskien kom die Here vandag weer ’n keer met ons praat. Maar dit gebeur nie, en die teleurstelling is wrang in my mond toe ons later terugstap grot toe. Ek het darem gedink die Here kan by ons ’n draai maak ná my geveg met die slang. Ek kon dood gewees het!
God stel natuurlik nie in my belang nie; nie ná ek sy uitdruklike opdrag oor die boom in die middel van Eden verontagsaam het nie. Hy het nou wel vir Adam ook gestraf, maar eintlik is dit ek wat die grootste vonnis gekry het. Adam speel baas oor my en laat my nooit vergeet dat ék die eintlike oorsaak van al ons ellende is nie, en boonop is dit ek wat so verskriklik swaarkry met ’n geboorte. Alles net oor ek na die slang geluister het. Verpestelike ding! As ek nou daaraan dink, kan ek nie glo ek het my ore vir sy stories uitgeleen nie. Maar dis gedane sake, en dit help nie om te tob en te wens dit was anders nie, want dit is nie, en dit sal ook nooit weer anders wees nie. Eden is vir altyd vir ons gesluit.
Ek en Adam het eenkeer probeer teruggaan Eden toe, net om te gaan kyk hoe dit nou daar lyk, maar dit was hopeloos. Ons kon die plek net nie weer kry nie. Dis asof daar nooit so ’n plek was nie. Adam sê hy dink ons het verdwaal, dis dié dat ons dit nie kon kry nie, maar dan sê ek God het met daardie verdwaal iets te doen gehad, want ons weet mos waar ons gebly het, maar ons kon dit net nie weer kry nie. Vreemd. En hartverskeurend. Dit was die plek waar ons so gelukkig was, maar ons kon nie weer daar uitkom nie.
Ai.
“En as jy so diep sug?” vra Adam.
“Ag, ek dink sommer weer terug aan Eden en alles wat ons verloor het oor ek na die slang geluister het.”
“Ja, jou geveg met die slang het baie herinneringe wakker gemaak.”
“Sê eerder: wonde oopgekrap. Sê jy kan nie verstaan hoekom ek na die slang geluister het nie.” En toe hy nie reageer nie: “Toe, sê dit, want dis tog wat jy dink.”
Adam maak ’n moedelose gebaar. “En hoe weet jy miskien wat ek dink?”
Ek gaan staan, arms in die sye, en kyk hom uitdagend aan. Ek is nie lus om gepaai te word nie. Miskien is dit die skok van my geveg met die slang, maar ek is lus vir baklei. “Jy hou jou verniet so onskuldig. Ek weet en jy weet dat jy elke dag nog vir my in jou hart verkwalik oor ons die verbode vrugte geëet het. Stry?”
Adam vat my aan die arm en dwing my om verder te stap. “Hoe het ons hierby uitgekom?” vra hy.
Hy probeer verniet my stelling wegpraat. Ek gaan hom nie toelaat om weg te kom nie. Ek is moeg vir sy alewige verwyte. “Jy is vas, dis dié dat jy nie my vraag beantwoord nie.”
Hy sug. “Wat in Eden gebeur het, het gebeur, en ons kan dit nie verander nie. Ons moet maar net leer om met die gevolge saam te leef. Verwyte gaan dit nie beter maak of verander nie.” Hierdie keer is dit hy wat gaan staan en na my toe draai. “Weet jy wat is jou moeilikheid? Jou moeilikheid is, jy het nog nooit jouself vergewe vir wat gebeur het nie en nou dink jy ek het ook nie. Ek dink nie oor daardie dag as iets wat jy gedoen het nie. Ek dink daaroor as iets wat ons gedoen het. Ek het saam met jou geëet. Óns was ongehoorsaam, nie net jy nie.”
Sy woorde ontwapen my heeltemal en haal die baklei uit my lyf. “Regtig? Is dit regtig soos jy dink?”
Hy knik en vat my arm weer. “Regtig. Dit is regtig hoe ek daaroor dink.”
Ons stap in stilte verder grot toe. Ek hoop ek kan Adam glo; dat hy dit nie net gesê het om my tot bedaring te probeer bring nie.