In Jesus se sg. hoëpriesterlike gebed in Joh 17 bid Hy vir ons, sy kerk (vers 21): “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
“Ek bid dat hulle almal een mag wees …”
Ek wonder dikwels wat het gebeur dat hierdie gebed van ons Here nie vervul is nie. Want een is die kerk nie, nie onder die kerke wat oor die wêreld versprei is nie, en helaas ook nie (veral nie) in die NG Kerk nie. Lidmate vat die kerk na ’n wêreldse hof, terwyl Paulus baie duidelike uitsprake teen hierdie praktyk gemaak het (1 Kor 6:1-11); op sinodes baklei die verskillende groeperinge met mekaar en raak selfs beledigend, sodat ’n mens hande in die lug wil gooi en weghardloop; leiers van die twee groot faksies (is dit die regte woord?) is stellig daaroor dat daar nie meer ’n moontlikheid bestaan om by mekaar uit te kom nie. Weerskante toe word dié wat van jou verskil, verdag gemaak en name genoem. Dis om van te huil.
Ons ken immers maar net ten dele
In Kerkbode se briewekolom is dit een groot gestry tussen pro- en anti-gay groepe. Onsmaaklik, om die minste daarvan te sê. Dit lyk my baie mense het nog nie die moeilike lewensles onder die knie gekry dat almal nie soos hulle dink nie, en dat almal nie soos hulle hóéf te dink nie. Meer as een standpunt kan reg wees. Ons ken immers maar net ten dele en kyk in ’n dowwe spieël na ’n raaiselagtige beeld (1 Kor 13).
In Rom 14 het Paulus dit ook oor verdeeldheid in die kerk (ja, dis nie ’n nuwe verskynsel nie) en hy help ons m.i. om by die kruks van die saak uit te kom. Ons behoort almal aan die Here, skryf hy (Rom 14:8), en daarom is ons mekaar se broers en susters, of ons daarvan hou of nie. Onder familie behoort daar nie veroordeling of veragting van ander te wees nie (vers 10). “Moenie dat die goeie wat julle het, ’n slegte naam kry nie,” pleit hy in vers 16. Ons moet ons beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (vers 19).
Ons vashou aan ’n bepaalde standpunt mag nie belangriker wees as ons vashou aan mekaar nie.
Hoe gaan ons uit hierdie moeras kom? Hiermee help Rom 14 ons ook. Vers 7-8 sê: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here, en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Over-geset-synde: Dit gaan om die Here Jesus, stupid! Soos Johannes die Doper gesê het (Joh 3:30): “Hy moet meer word en ek minder.”
Views: 43