Ef 6:13,17
Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan … Sit verlossing as helm op …

Wanneer Paulus die wapenrusting uitspel waarmee jy jouself teen die listige aanslae van die Bose kan verweer, is dit insiggewend dat hy as helm verlossing kies. Só moet jy jou kop, d.w.s. jou denke, beskerm.

Een van ons groot probleme is dat ons sukkel om nuut te dink oor onsself, en daarom sukkel ons dikwels ook om nuut te lewe. Die duiwel laat ons glo dat ons swak is, weerloos is, nie werklik in staat om te breek met ou (troetel)sondes nie. Dis hier waar die helm van verlossing inkom. Jy moet verstaan dat Christus jou verlos het, nie net van die skuld van sonde nie, maar ook van die mag, die houvas van die sonde in jou lewe. Jy moet jou denke as ’t ware met hierdie wete bedek en beskerm, sodat jy nie terugval na ou patrone waarin die sonde die laaste sê het nie. Só kan jy vandag nuut lewe.

Ware bekering bestaan uit twee dele: die afsterwe van die ou mens, en ook die opstanding van die nuwe mens. (Heidelbergse Kategismus vraag 88)

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.