Die hart van die evangelie is dat ons deur Jesus vrygekoop is van ons sondeskuld, sodat ons aan God kan behoort. Of, soos Heb 12:28 dit stel: om ons ’n onwankelbare koninkryk te gee.

Hoe antwoord ons God op sy liefde vir ons? Met dankbaarheid, sê die Hebreërskrywer (lees vs 28). Die hele hoofstuk 13 is eintlik ’n uitspel van hierdie dankbaarheid voor die Here. In 13:15 vat hy dit saam as hy sê: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.”

Let wel: ons bring nie sonde-offers aan God nie, maar lof-offers; offers van lof, van eer, van dank, van liefde; offers waarmee ons erken dat ons ten volle aan God behoort en deur God verlos is. Dit is die offers wat vir God aanneemlik is, aangenaam is. Sonde-offers is nie nodig nie, want dié offer het die Here Jesus reeds vir ons gebring.

In die Ou Testament was die lof van God geweldig belangrik. Die mens se diepste wese bestaan daarin om God te loof, want daar, te midde van sy volk se lofsange, voel God Hom tuis. Psalm 22:4 sê dit reguit: “U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!”

In die Ou Testament beteken om te leef dan ook om te kan loof. Vir die gelowige Israeliet was dít die dood: om God nie langer te kan loof nie. Daarom was dit vir hulle ook so erg om weg van die tempel te wees, waar God saam met die skare van gelowiges geprys word (vgl Ps 84). Dit was so goed as om reeds dood te wees!

Volgens hierdie siening van die Ou Testament sou ’n mens kon sê: ’n Mens wat afgeleer het om God te prys, of wat dit nooit aangeleer het nie, is soos ’n bees wat in die veld loop, wat gras vreet en melk gee, maar g’n mens is nie; so iemand bestaan wel, maar hy lewe nie. Die sin van ’n mens se bestaan is daarin geleë dat jy God loof.

Hier in Heb 13:15,16 praat die skrywer van twee maniere waarop ons so ons lof-offers aan God kan bring, nl offers wat ons direk deur Jesus tot God bring, en offers wat ons via ander mense tot God bring.

Die eerste manier van offer aan God bestaan daarin dat ons die Naam van Jesus bely. Vs 15 sê: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” Deurdat ons Christus se Naam bely, bring ons aan Hom die lof wat Hom toekom. ’n Mens kan dit op verskillende maniere doen, bv deur oor God te praat met ander mense, met ons huisgenote, met ons vriende. So roem ons God, vertel ons van sy groot dade. Maar ons kan ook ’n lof-offer aan God bring deur met God self te praat. Deur ons gebede, maar veral ook in die gemeente, deur ons sang. Die gemeente se sang is veral direkte, wonderbare lof-offers aan God. In sang kan ’n mens dikwels dié dinge sê wat jy nie in spreektaal kan sê nie. Daarom is dit so nodig in die erediens. Gemeentesang is aanbidding en lof op die beste.

Die tweede manier van offer aan God geskied op ’n meer indirekte manier. Dit is offers via ander mense, via ons naaste. Ons teksgedeelte sê: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dt is die offers wat vir God aanneemlik is.” Om wat ’n mens het en is, van harte, maklik en ruim, met ander te deel – dít is aanneemlik vir Hom, aangenaam, kan ons ook sê, vir Hom. God het ’n behae in die naasteliefde, dis die manier om Hom te eer, te loof. Die skrywer spel dit pragtig in vs 1-5 vir ons uit: “As broers (en susters) moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. Dink aan die gevangenis asof julle self ook gevangenis is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word. Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het.”

Ons dankbaarheid, ons lof-offers aan God is ’n baie praktiese saak. Dit gaan om jou lewe, jou optrede elke dag, in die alledaagse situasies. Dáár leef ’n mens jou lof aan God uit. As jy gasvry is, as jy hulle help wat in nood is, as jy in jou huwelik ’n goeie eggenoot is, as jy nie jou hele lewe om geld laat draai nie, maar so leef en bestee dat jy ook nog iets vir die armes en minderbevoorregtes oor het, dan is jy besig met lof aan God!

’n Mens wat ophou om die Here te loof, het opgehou om werklik te leef. Kom ons loof die Here met alles wat ons het!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 219

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.