“Johannes?”
Johannes sug innerlik, effens ergerlik. Sy ma kan tog so aan hom karring. Veral as dit oor Jesus gaan. Sy het ’n ding oor Jesus. Van die môre tot die aand moet hy dit hoor: Jesus dit, Jesus dat. Jesus het só gesê, of sus gedoen. Dis om van gek te word. Hy het gehoop dit gaan ophou toe Jesus gekruisig is, maar ná haar aanvanklike getreur het sy maar net weer met haar stories begin, vas oortuig dat Jesus uit die dood opgestaan het. Uit die dood, nogal.
“Johannes, kom jy nie saam nie?” roep sy weer, dié keer dringender.
Hy is nie lus om saam te gaan nie. Dit sal net weer op ’n teleurstelling uitloop, hierdie keer boonop met ’n spook. Hy het al vir Jesus ’n kans gegee. Om die waarheid te sê, hy het Jesus ’n groter kans gegee as wat hy verdien. Hy het na hom toe gegaan, sy trots in sy sak gesteek en gesê hy wil ook ’n volgeling van hom wees, soos Johannes en Jakobus en Simon en die ander. Wat húlle het wat hy nie het nie, weet hy nie. Hulle is agterlike vissers, en hy is tog ’n edelman, uit een van die voorste families in Jerusalem! Hy het lank daaroor gewroeg of hy by Jesus se volgelinge moet aansluit, en wat kry hy toe hy uiteindelik sy moed bymekaar geskraap het? ’n Afjak. Dis wat hy gekry het. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes. Kom dan en volg my.” Dít was Jesus se antwoord. ’n Klap in sy gesig, dis wat dit was. Jesus hou natuurlik nie van ryk mense nie. Seker omdat hyself niks gehad het nie. ’n Armsalige Galileër.
Wel, hy kan nie help hý is ryk nie. Hy kan nie help sy pa het ’n kop vir besigheid gehad nie. Dis jammer dat sy pa nie meer met hulle is nie, want dan sou dinge baie anders gewees het. Sy ma sou nie so met Jesus weggehol het nie.
“Johannes Markus!”
“Goed, Ma, ek kom,” antwoord hy en staan met ’n sug op. As sy ma hom eers Johannes Markus noem, is daar moeilikheid. Hoekom kan sy Jesus nie los en vergeet nie? Hy is dood. Hy weet; hy was op Golgota toe hy dood is. Hy het gesien hoe steek die soldaat ’n spies in Jesus se liggaam in. Daar was geen teken van lewe nie. Hy is dood, soos enige ander mens wat gekruisig word, sal wees. En hy het nie eers lank gehou nie. Die ander twee gekruisigdes was nog ver van op, toe is Jesus al weg. Ook maar pieperig, het hy gedink. Van almal se groot verwagtings oor hom het daar net mooi niks gekom nie. Hy het dit al besef in die Tuin van Getsemane, toe die soldate hom gevang het. Hy het hom nie eers teëgesit nie, en vir Simon uitgeskel toe dié ’n swaard uitgepluk het om sy rabbi te verdedig. Hy het nog gedink, as Jesus regtig die Messias was soos almal gehoop het, dat hy minstens sou probeer om homself te verdedig, of sy dissipels opgeroep het tot die stryd. Maar hy het soos ’n lam gelei ter slagting ewe gedwee sy hande uitgesteek dat hulle hom kan boei.
Nee wat, Jesus is ’n yslike teleurstelling.
Hy weet daar is allerhande stories dat Jesus uit die dood opgestaan het, maar dis mos pure bog. Net vroumense en Galileërs sal sulke twak glo. Hy is teleurgesteld dat sy ma ook daarvoor geval het. Goed, die mense het dalk iets gesien, maar hulle erken ook dat dit vreemd is. As hulle weer hulle oë uitvee, is dit glo weg. Hulle sê dis Jesus, maar hoe kan dit wees? Hoe kan hy net weer weg wees, en dit boonop in ’n kamer waarvan die deur gesluit was? En daar is nie geheime deure in daardie kamer nie. Hy weet. Dit is dan in hulle eie huis waar dit kamma gebeur het! Dieselfde met oom Kleopas-hulle wat glo met Jesus gesels het toe hulle op pad Emmaus toe was. Die een oomblik was Jesus glo nog by hulle, en toe is hy weg.
’n Spook, dis wat dit is. En nou is hy sowaar saam met sy ma op pad teen die Olyfberg op omdat die spook gesê het hulle moet hom daar ontmoet. Dit kon ’n lekker uitstappie gewees het, want die uitsig van die Olyfberg oor die stad is iets besonders. Maar nou babbel sy ma onbedaarlik oor haar wonderlike Jesus.
“Jy sal sien, my kind. Ek weet jy glo my nie, maar wag tot jy Hom met jou eie oë sien. Dan sal jy ’n ander storie praat,” babbel sy ma voort, salig in haar eie gekkeparadys.
Sy asem jaag effens toe hulle bo kom. Pleks hy sy donkie opgesaal het soos sy ma, maar nouja.
“Welkom, Maria, welkom Johannes,” groet Simon hulle asof dit sý plek is. En dan is hy die man wat die aand met Jesus se verhoor te lafhartig was om selfs te erken dat hy Jesus ken! Wys jou net.
Daar is meer as ’n honderd mense op die berg; meer as wat hy verwag het, moet hy teësinnig erken. Dit beteken meer as ’n honderd mense is net soos sy ma onder die waan dat Jesus leef. Of dalk is daar nog ander soos hy wat saamgesleep is en daar is, nie uit oortuiging nie, maar uit dwang. Wie sal weet?
’n Geruis klink onder die mense op, en dan begin hulle kniel. Sy oë volg die rigting waarin almal kyk, en dan sien hy dit ook: Jesus se spook. ’n Koue rilling loop teen sy ruggraat af en hy sluk onwillekeurig om die droogheid in sy mond te verlig.
“Kniel, Johannes!” fluister sy ma dringend en pluk aan sy kleed, maar hy bly staan. Hy sal sowaar nie voor ’n spook kniel nie!
“Sjalom, Johannes,” glimlag die spook toe hy vlak voor hom kom staan. “Ek is bly jy is ook hier, al het jy nog nie al jou goed verkoop en aan die armes gegee nie.”
Daar is ’n vonkel in die spook se oë terwyl hy met hom praat. Vreemd. Hy het nie gedink ’n spook se oë kan só lewendig lyk nie. Hy het altyd gedink ’n spook is meer wasig, maar Jesus se spook lyk régtig.
Johannes trek sy skouers traak-my-nie-agtig op, en sê uitdagend: “Ja, my ma het my gedwing, toe dag ek ek sal maar die spook kom kyk van wie almal praat.”
Hy hoor hoe die mense om hom die asem geskok intrek, en hy kan sy tong afbyt, want die bravade het hom verlaat. Dalk is dit nie ’n spook nie? Wat dan? As dit regtig Jesus is, kan hy mos nie só met hom praat nie?
Hy kyk onseker in die spook se oë. Hulle blits nie; die vonkel is steeds daar, en ’n warmte; ’n liefdevolle warmte. Dan knip hy sy oë en staal homself. Dit kan tog nie wees nie! Hy wéét Jesus is dood; hy het self die graf gesien. Dis nou sy kans om die hele klugspul te ontbloot. “Gaan jy nou die koninkryk vir Israel weer oprig, Rabbi? Is dít hoekom ons almal hier is?”
Jesus sit sy hande op Johannes se skouers en glimlag. “Jy wil maar net nie aanvaar dat Ek nie ’n spook is nie, nè. Maar jy is hier, en dis wat saak maak.” Dan praat Hy harder, sodat almal kan hoor: “Ek weet julle almal wonder net soos Johannes oor hoe dinge vorentoe gaan werk. Maar dis nie my taak om vir julle die toekoms in detail uit te klaar nie. Dit sal die Vader op sy goeie tyd doen soos Hy bepaal het. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en dan sal julle my getuies wees; hier in Jerusalem en Judea, en ook verder, in Samaria en Galilea en tot aan die einde van die aarde. En onthou: Ek is altyd by julle!”
Johannes se bene word lam. Hier is iets vreemds aan die gebeur. ’n Spook kan tog nie met warm hande aan jou vat nie? Of met warm, liefdevolle oë na jou kyk nie? Sal ’n spook sy hande seënend oplig? Is Jesus dan regtig? Het hy opgestaan uit die dood? Dit kan tog nie! Maar tog …
Hy kniel onwillekeurig voor Jesus, soos al die ander, terwyl die geruis van sy hartklop deur sy ore suis.
Dit word newelrig om hom, amper soos ’n digte mis, maar tog ook anders. Daar is ’n heiligheid in die mistigheid. Terwyl hy probeer vasstel wat dit is, begin die mis opklaar, en … Jesus is weg! Waarheen sou hy verdwyn het? Die blou lug in?
“En as julle so na die hemel staar?” hoor hy ’n man praat, en toe sien hy hulle: twee vreemde mans in spierwit klere, witter klere as wat hy nog aan ’n mens gesien het. Kan dit dalk engele wees?
“Hierdie Jesus wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom in die hemel sien weggaan het,” vervolg die vreemde man. “Maar julle moet in Jerusalem gaan wag totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word, soos Jesus belowe het.” Toe verdwyn die twee vreemdelinge in die niet, net soos hulle verskyn het. Dit wás engele!
Maar dan beteken dit mos dat wat hy hier beleef het, régtig is! Jesus leef, Hy het régtig uit die dood opgestaan! Hy is hemel toe met die belofte dat Hy by hulle sal bly! En dat die Vader hulle sal toerus met die Heilige Gees, sodat hulle sy getuies kan wees.
Johannes skud sy kop, en laat dit dan tot teen die grond sak. “Ek glo, Here Jesus! Ek glo! U is die Here!”
Views: 43