Die evangelie, die goeie nuus wat die Bybel aan ons oordra, is dat God met ons praat en wil praat. Van die begin af was dit so, en reg deur die Bybel hoor ons dit telkens: God is ’n sprekende God. God praat, want Hy is nie in Homself gekeer nie. Hy kommunikeer in Sigself, en met ons.
Dit is waaroor die evangelie gaan, wil Johannes vir ons onderstreep: Met Jesus se menswording het God aarde toe gekom om met ons te kom praat. Daarom noem Johannes die Seun van God die Woord, want dit is wat Hy kom doen het – deur Jesus het God sy boodskap van genade en waarheid aan ons kom oordra (vgl vers 17). Die Hebreërskrywer (1:1-3a) stel dit só: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun […] Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. In Johannes 14:9b sê Jesus dit self ook: Wie My sien, sien die Vader.
Kom ek sê dit nog ’n keer: in Jesus kom God aan die woord; hoor ons God praat. Wat ons nou by die groot vraag bring: Waar staan jy met Jesus? Sal jy sy stem herken? Jesus het mos in Joh 10 vertel dat sy skape na hulle herder se stem luister en nie ’n vreemde sal volg nie, omdat hulle sy stem nie ken nie (10:3-5).
So dís die eerste uitdaging: dat ons Jesus só goed sal ken dat ons sy stem sal herken; dat ons Hom sal hoor praat te midde van al die ander stemme om ons. Want in die moderne wêreld word ons oordonder deur die media-geraas en deur ander stemme wat meeding om ons aandag: TV, koerant, Facebook, WhatsApp … Dit raak later so ’n groot gedruis dat ons God nie meer goed kan hoor nie. En ons gaan nou die Kersseisoen in waarin die geraas nóg groter word, want al wat ’n sake-onderneming is, probeer jou aandag van Jesus aftrek en maak asof die Kerstyd eintlik maar om geskenke gaan.
Ek sê nie al dié ander stemme wat om ons opklink en meeding om ons aandag is noodwendig uit die bose nie, maar as ons dit nie soms doelbewus uitdoof nie, gaan ons sukkel om God se stem tussen al die ander te hoor. Want God praat nie hard nie. Hy oordonder ons nie. Hy skree nie. Hy praat sag, en net dié wat hulle op sy stem instel, sal Hom hoor.
Dit was nog altyd so. Daarom, toe God sy Woord na die wêreld gestuur het, skreeu Hy dit nie uit op die pleine van Jerusalem nie. Nee, Hy begin sy bediening in Galilea, weg van die geraas, en die mense moes moeite doen om Hom te gaan soek. Hulle moes hulle gewone besig-wees los sodat hulle God se Woord kon hoor.
So, kom ek vra jou: Wat is die hardste stem in jou ore? Of anders gestel: Is Jesus se stem die hardste stem in jou lewe? Dís die vraag. Hoor jy God nog praat?
Wat is jou antwoord? As jou antwoord nee is, het jy ’n baie groot probleem. Want dan het die Woord tevergeefs vir jou mens geword!
Dalk dink jy nou: Dis waar. Ek sukkel om die geraas van ander stemme in my lewe af te skakel. En ek weet goed, dit ís nie so eenvoudig nie. Dit vra groot selfdissipline. Dit vra dat jy tyd moet maak om God te hoor. Dit vra dat jy ’n plek moet kry waar jy stil kan word, sodat al die ander geraas uitgedoof kan word – jou binnekamer, of iewers in die natuur, sodat jy sonder steurings die Woord kan hoor praat. Sit af jou selfoon. Skakel die radio of TV of rekenaar af. En neem dan God se Woord in jou hand, en lees dit luisterend, met gespitste ore. Laat God toe om met jou te praat. Maar wees gewaarsku: moenie haastig wees nie, want dan gaan jy lankal weer met die geraas in jou ore sit voordat God aan die woord gekom het.
God se Woord word mens. Dit is die hart van die evangelie, sê Johannes 1. Hy het aarde toe gekom, want Hy wil met ons praat. Maar as ons nie stil word en die geraas van die lewe om ons afskakel nie, gaan ons Hom nie hoor nie.
En van hoor gepraat: Ons kan nie kies wat ons wil hoor as ons God se stem toelaat in ons lewe nie. As ons na God luister, moet ons na alles wat Hy sê, luister. As jy nie na alles luister wat Hy vir jou sê nie, gaan jy uiteindelik niks hoor wat Hy sê nie. Want God se Woord bring nie net troos en genade nie. Dit bring ook die waarheid (vs 17). God se Woord is nie net vol wonderlike genade-beloftes nie, dit stel sonde en verkeerdhede aan die kaak. As jy van sy genade wil hoor, sal jy ook na sy waarheid moet luister. En dikwels is dit wat ons die minste wil hoor, juis dit wat ons die nodigste het om te hoor.
Dis my laaste preek hier in Ons Woning, en dít is my gebed vir julle elkeen: dat julle steeds genoeg tyd sal maak om God se stem in sy geskrewe Woord, die Bybel, te hoor. Net dan sal die lewende Woord, Jesus Christus, by jou inwoon. En dan sal jy ook uit sy oorvloed genade op genade ontvang.
Amen.
Views: 94