Hand 2:44
Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.

Waaraan dink jy as iemand vir jou vra of jy arm is? Ék dink heel eerste aan my (powere) bankbalans, en daarmee verraai ek hoe deeglik die materialisme van ons tyd my ook beet het.

Iemand vertel my dat hy predikant was van ’n gemeente wat finansieel gesukkel het. Daar beland toe ’n brief op hulle tafel wat aan die arm gemeentes in die sinode gerig is, met ’n verduideliking van watter vorms van hulp daar vir hulle beskikbaar is. Die kerkraad het toe oor die brief begin gesels, verontwaardig oor die feit dat daar van bo af vir hulle besluit is hulle is arm. Hulle het lank gedebatteer oor die vraag: “Wanneer is jy arm?”, en uiteindelik tot die slotsom gekom dat jy arm is – as jy niemand het nie.

Is jy dalk arm omdat jy glo jy het ander nie nodig nie? Of miskien kan jy iemand anders ryk maak met jou daar-wees vandag.

Sonder ’n ryk hart is rykdom ’n lelike bedelaar. (Ralph Waldo Emerson)

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.