Hand 15:37-39
Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het.
As daar één gelowige in die Nuwe Testament is vir wie ek die grootste bewondering het, is dit Paulus, vir wie die liefde van Christus gedring het na die uithoeke van die wêreld (2 Kor 5:14). Niemand het meer as hy gedoen om die evangelie uit te dra nie; niemand het met groter insig as hy die waarheid van die evangelie verstaan en vertolk en aan ons nagelaat in sy briewe nie.
Maar Paulus kon ook foute maak. Hy het Markus afgeskryf nadat Markus hom op die eerste sendingreis in die steek gelaat het. En tog het Markus later ’n wonderlike werktuig in Gods hand geword. Ons het onder ander die Evangelie volgens Markus uit sy pen. As Barnabas hom nie oor Markus ontferm het toe Paulus hom weggestoot het nie, was die kerk baie armer.
Laat mens dink, nè? Enige een kan ’n fout maak, selfs jy ook.
Ons probleem is dat ons liewer deur lofuitinge geruïneer wil word as om gered te word deur kritiek. (Noman Vincent Peale)
Views: 38