Kersfees is die hoogtepunt van die jaar … of liewer, wás altyd. Tot Petrus alles opgemors het. Elke jaar het sy weke lank gedroom en beplan aan hulle gesin se Kersfeesvierings, veral die Kersete. Dié was haar spesiale bydrae, want sy kan lekker kook. Sy weet dit. En daarom was die Kersmaal altyd iets besonders, byna so spesiaal soos hulle gesin se saamwees op Oukersaand as Christo uit die Bybel die ou ou verhaal weer lees en hulle Kersliedere sing, die een na die ander, sommer ’n uur aanmekaar. En dan gee hulle geskenke, nie groot nie, en beslis nie duur nie, net om vir die ander ’n stukkie liefde uit die hart te gee.
So was dit altyd. Die Kerstyd was vir haar ’n spesiale tyd van blywees en geborge wees en bewus wees van God se liefde vir haar en haar mense. Maar dié vrede het Petrus gesteel, die dag toe hy besluit het hy glo nie meer in God nie. “Ek het probeer, Ma, maar dit help nie. Ek kan nie myself langer bluf nie. Hoe kan ek in ’n God glo wat niks doen om my te laat besef dat Hy bestaan nie?” het Petrus sy ongeloof aan haar probeer verduidelik. Sy het met hom geredeneer. Sy sien oral om haar elke dag tekens van God se teenwoordigheid en sorg. Hoe kan hy dan sê God doen niks? En Kersfees is een groot bewys van God se liefde. Hy moet net sy oë oopmaak, dis al! Maar dis of daar ’n doek voor sy oë hang wat hom verblind. Hardkoppig, dis wat hy is. En aspris. Seker om haar seer te maak of iets, omdat sy hom iewers in die steek gelaat het.
Hoe vier ’n mens Kersfees met ’n ongelowige in jou gesin? Wat nie saamsing oor Jesus se geboorte nie? Wat nie sy oë toemaak as julle bid nie? Wat weier om saam kerk toe te gaan? Dan sit hulle almal daar, maar hy bly by die huis. Dit ontstig haar so dat die Kersete ook sommer bederf is.
Sy wens hy wil liewer glad nie kom nie. Vir wat wil hy Kersfees huis toe kom? Net om hulle fees te kom opmors. Christo sê sy moenie so kwaad wees nie, sy moet hom met liefde oorlaai, want dit is wat hom uiteindelik weer sal laat glo. Sy probeer, die Here weet, sy probeer, maar sy sukkel.
Sy hou nie meer van Kersfees nie. Kersfees onderstreep die diepste hartseer in haar lewe: Jesus is vir hulle gebore, maar Petrus aanvaar dit nie.
“Wat staan Ma so voor die vrieskas?” onderbreek Sanet haar gedagtegang.
“Ag, ek dink sommer oor môre se ete,” ontwyk sy ’n antwoord en haal die kalkoen uit die vrieskas. Sanet verstaan nie haar wroeging nie.
“Ma dink weer oor Petrus,” beskuldig sy, nie geflous nie.
“Hy is my kind, en ek mag oor hom dink.”
“Ma moet ophou dink en net vir hom lief wees, dís wat Ma moet doen.” Hoe eenvoudig is die lewe nie vir ’n twintigjarige nie!
“Ek ís lief vir hom. Hy’s dan my kind.”
“Nou wys dit dan ’n slag as hy hier aankom, en hou op om te tob en met hom te baklei, Ma,” kap sy terug en loop met ’n stywe rug uit die kombuis uit.
Sedert Petrus opgehou glo het, is die huis nie meer ’n lekker plek nie. Almal baklei met haar, maar hulle verstaan nie ’n ma se hart nie. Hoe kan sy ooit vrede maak met Petrus se ongeloof? Sy wil nie eendag in die hemel sonder hom wees nie!
Toe die deurklokkie lui, kyk sy op haar horlosie. Dis seker Petrus-hulle. Maar sy sal nie voordeur toe storm om hulle te ontvang nie, al brand sy om klein Werner te sien. Sy haal die spyskaartbeplanner van die muur af en kyk wat sy vir die Kersete moet maak, maar haar oë sien niks. Haar gedagtes is by die voordeur, waar sy Christo hoor lag, en Reinette en Sanet se vrolike stemme hoor. Nie Petrus s’n nie. Snaaks dat hy so stil is. Goed so. Hy weet natuurlik dat hy nie welkom is nie.
“Hallo, Ma.”
Haar hart ruk in haar toe haar eersgeborene in die kombuis instap. Sy dwing ’n glimlag op haar gesig. “Hallo, Petrus.”
“Ma lyk nie juis bly om my te sien nie.”
“Ag, ek is sommer ’n bietjie moeg. Die jaar was lank,” jok sy en tap die ketel vol water. “Julle is seker dors.”
Petrus vat die ketel uit haar hande. “Los nou maar eers die tee en kom kyk Ma se kleinseun,” sê hy. Hy wag nie vir ’n antwoord nie en sleep haar saam sitkamer toe, waar die ander om Werner se drasak koer.
“Hallo, Ma,” groet Reinette met ’n breë glimlag en tel haar seun op. “Werner, sê hallo vir jou ouma.”
Dis ’n fraai seuntjie; die familietrekke onmiskenbaar. Petrus het net so gelyk toe hy klein was. Teen haar sin roer iets in haar hart. Sy is nie lus om gemoedelik te wees nie, nie met die heiden Petrus by hulle nie. Maar toe Reinette hom na haar uithou, vat sy hom gretig in haar arms. Sy lyfie is warm teen hare. Hy ruik na babapoeier.
“Hy lyk na Petrus,” hoor sy haarself sê, en ’n vreemde warmte spoel deur haar. “Ouma se ou dingetjie!”
Sy sit met Werner op haar skoot en tee drink, onwillig om die bondeltjie vir sy ma terug te gee. En later, toe dit badtyd is, vra Reinette tot haar groot vreugde of sý hom sal bad. Terwyl sy die klein lyfie was, besef sy half verbaas dat sy sonder die woede van vroeër daar staan. Werner het nie net haar hart gesteel nie; haar gedagtes is ook deur sy teenwoordigheid gevange geneem. Sy buk af en soen die kleinding op sy voorkop. “Jy het vir my ’n groot Kersgeskenk gebring, Werner,” prewel sy saggies, en dank die Here woordeloos vir die rus wat in haar hart kom lê het.
Toe hulle ná aandete in die sitkamer gaan sit om Bybel te lees, kom Petrus saam. Sy wil eers ’n opmerking daaroor maak, maar byt die woorde terug. Sy mag nie die vrede wat sy ontvang het, nou verloor nie. En toe Petrus langs haar op die bank kom sit, is sy nie vies nie. Net verbaas, en tog ook bly. Hy bly haar kind. Sanet se opmerking van vroeër klim ongevraag in haar gedagtes in, en sy wurm haar arm deur Petrus s’n. Sy sál vir hom wys sy is lief vir hom, al glo hy nie.
Christo lees die Kersverhaal en bid lank en innig. Toe skuif Sanet voor die klavier in en hulle begin Kersliedere sing. Petrus sing nie saam nie, soos sy geweet het. Maar hy loop ook nie. Sy doen haar bes om hom in te sluit, en hou die boekie só dat hy die woorde kan sien as hy sou wou.
O die goeie tyding, o die blye tyding –
helder klink dit met Kersfeestyd:
Diep was ons verlore, Christus is gebore.
Juig dan, almal, jubel oor die saligheid!
Langs haar voel sy hoe Petrus begin bewe, en sy loer uit die hoek van haar oog na hom. Tot haar verbasing sien sy trane oor sy wange rol. Sy maak of sy dit nie sien nie, bang om die oomblik te bederf, en sing voort:
O die goeie tyding, o die blye tyding
kom met krag in die Kersfeestyd:
Hy, die Hemelkoning, maak by mense woning –
Hy, gebore in die volheid van die tyd!
Toe spring Petrus op en storm by die sitkamer uit. Hulle hoor hom snikkend in die gang afloop, kamer toe, en kyk onseker na mekaar. Reinette staan op, maar sy keer haar voor sy agter hom kan aangaan. “Wag, ek dink ek moet liewer na hom toe gaan,” sê sy beslis.
Sy kry hom waar hy in die kamer voor die bed kniel, en sy gaan kniel langs hom. Sy skouers ruk, en sy hand is nat toe sy dit in hare neem. “Wat is dit?”
“Ek is verlore, Ma. Ek het die Here verloor,” snik hy.
“Maar Hy het jóú nie verloor nie, Petrus. Hy is vir jou óók gebore.”
“Dink Ma Hy sal my terugvat?” vra hy amper smekend, en haar hart wil breek vir haar kind, maar terselfdertyd wil sy opspring, so bly is sy. Dis die mooiste woorde wat sy nog gehoor het. In haar hart sing sy die woorde van die Kerslied wat hulle nie klaar gesing het nie:
O die goeie tyding, o die blye tyding –
oral hoor ons: Dis Kersfeestyd.
Blye jubelkore loof die Kind gebore.
Juig nou mensdom, prys Hom tot in ewigheid!
Views: 82