Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is … daarop moet julle julle gedagtes rig … En God wat vrede gee, sal by julle wees. (Fil. 4:8,9)
’n Goeie vriend kla die anderdag steen en been oor hoe afbrekend ‘n spesifieke realiteitsTV-program is vir ons sedes. Dis ’n leë program, banaal en belaglik, sê hy. Hoekom kyk hy dan? wil ek weet. Sy antwoord: Dit fassineer hom.
Hy het klaar in die strik getrap. Die afbrekende invloed van van die program waaroor hy so besorg is, het al klaar in sy eie gemoed begin werk. Paulus se raad aan hom sou wees: Hou op kyk! Fokus op die goeie en die mooie in die wêreld en in ander mense. Soek doelbewus om jou na dit wat opheffend is; tekens van God se wonderlike liefde in die stukkende wêreld. Want dan sal jy vrede hê. Trouens, die God wat vrede gee, sal self by jou wees.
Dis wat Kersfees wil regkry. Dit wil ons aandag van onsself en ons flenter-wêreld verskuif na God se oneindige goedheid in Christus. Sö lief het God vir jou gehad!
Die rekenaarbedryf het ’n sêding: Garbage in, garbage out. As jy vir die rekenaar nonsens invoer, kry jy nonsens terug ook. Waarmee voer jy jou gedagtes?
Ek het die wondere van God beskryf
en al die monsters uit my hart verdryf.
– DJ Opperman
Views: 28