Lukas 21:28
As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.

Here, dankie dat U ons daaraan herinner dat U aan die kom is; dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer U op die wolke van die hemel sal verskyn om alles te kom nuut maak. Ons sien die tekens dat die vyeboom se takke al begin sagword, Here: die misdaad en korrupsie in ons land, die geweld, die ekonomie wat druk, die weer wat onderstebo is, die oorloë en hongersnode en siekte in die wêreld – en ons word opgewonde as ons daarin u voetstappe hoor. Ons wil ook regop kom staan voor U, Here, en ons koppe oplig, want ons weet die verlossing is naby. Kom, Here Jesus, ja, kom haastig!

O Here Jesus, U wat gekom het en weer sal kom in heerlikheid op die wolke van die hemel: Hoor ons gebed!

Ons wil intree vir hulle wat platgedruk word deur die lewe, Here: die armes en hulle wat in geldelike nood verkeer. Ons bid vir die mense wat hulle werk verloor het en vir hulle wat onseker is oor of hulle volgende jaar nog werk sal hê. Wees U tog in hierdie dae die Rots by Wie hulle kan skuil!
Ons bid vir hulle wat pas uit die skool is en nog nie werk het nie. Wil U tog in U liefde ook vir hulle voorsien.
Ons bid vir hulle wat in hierdie Adventstyd van verwagting en uitsien na Kersfees so min het om na uit te sien omdat hulle niemand het nie, of omdat hulle siek is. Ons bid vir hulle vir wie die Kerstyd ’n hartseer tyd is, omdat een van die gesinslede vanjaar nie meer by is nie.
Ons bid vir hulle wie se huwelike vasgeloop het, stukkend gebreek in hierdie stukkende wêreld.

O Vader van Ontferming vir hulle in nood: Hoor ons gebed!

Ons bid vir almal wat in hierdie dae met vakansie is of gereed maak vir vakansie ná ’n lang en uitputtende jaar. Ons bid dat dit ’n tyd van verkwikking en herstel sal wees, maar ook ’n tyd van verinniging in hulle geloofsverbondenheid aan U. Gee Here dat hierdie vakansietyd ’n tyd van vernuwing sal wees na liggaam en gees.

O Gees van God, herskepper van ons harte: Hoor ons gebed!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 44

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.