Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker. (Ps 130:7)
Nie eintlik ’n gewilde woord deesdae nie: lojaliteit. Want in ’n verbruikers-gedrewe wêreld is die hoogste en heiligste vraag: Wat is daarin vir my? As die antwoord nie ’n oortuigende positief is nie, los jy die instansie of persoon net daar. In só ’n wêreld val lojaliteit vreemd op. Want dit vra dat jy getrou moet bly, ook, verál ook wanneer daar nie voordeel vir jou in is nie. Dit vra dat jy jou beloftes hou, dat jy bly staan by jou vriende, en dat jy met dieselfde vrou getroud bly jou hele lewe lank. Want jy het jou woord gegee.
Dit is hoe God is: lojaal. Die Bybel noem dit: héséd, troue liefde. Daarom het Hy nie die mense gelos toe hulle die rug op Hom gedraai het daar in Eden nie. Daarom het Hy uiteindelik sy Seun gestuur: omdat Hy getrou bly aan sy wêreld.
Moet ek en jy, wat onsself kinders van God noem, dan nie ook dié karaktertrek vertoon nie?
Ek het geleer wie van my vriende is opreg en wie is vals, noudat ek nie meer in staat is om hulle te beloon of te straf nie.
– Cicero