Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie … (Heb 12:14,15 OAV)
Het jy dalk ook daardie skelm sonde waarvan niemand anders weet nie, net jy? Daardie sonde wat jy nie eers aan jou vrou sal erken nie? Daardie sonde waaroor jy met niemand praat nie, nie eens met God nie? Veral nie met God nie, want jy weet mos dat Hy sal sê jy moet dit laat staan.
Dalk het jy nie so ’n donker geheim nie. Dalk is jy een van die mense wat openlik ’n sonde vertroetel: ’n kort humeur, ’n swak vir ’n mooi vrou, ’n liefde vir skinder. Dalk weet die ander van dié swakheid van jou. Dalk sê jy vol bravade: Dis nou maar eenmaal soos wat ek is. Ek is so gemaak en so laat staan.
As jy só sê, ken jy God maar sleg. As God jou roep, vat Hy jou net soos jy is. Maar as jy op sy roepstem antwoord, moet jy weet: Jy sal nie bly soos jy is nie.
Ons koninkryk moet die wyk neem voordat God s’n kan kom.
– Aldous Huxley
Views: 30