Ons is die afgelope paar dae geskud deur gebeure by die Kweekskool op Stellenbosch. Een van die NG dosente daar het deur sy navorsing tot die insig gekom dat die eerste Christene nie oor Jesus as God (Θεός) gedink het nie.

Dis nogal ’n uitdagende stelling, nie waar nie? As jy dit lees, skreeu dit teen alles wat ons van kindsbeen af glo oor Jesus. Natúúrlik is Hy God. Soos die Belydenis van Nicea dit verwoord: “Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.” En die Heidelbergse Kategismus gebruik nie minder nie as vier vrae (Vraag 15-18) om te verduidelik dat Jesus, om ons Middelaar te kan wees, ware God én ware regverdige mens moes wees.

 

Nie so eenvoudig nie

Dis geloofskennis wat ons in die katkisasieklas al (hopelik) geleer het. Daarom is die navorsing oor of die vroeë kerk oor Jesus as God gedink het, vir ons onnodig. Tog, as ons baie eerlik wil wees, wás die eerste Christene onseker presies hoe hulle oor Jesus moes dink. Hy was (is) immers anders as enige ander persoon wat al geleef het. Hy het nie in ons aardse kategorieë ingepas nie. Daarom het daar heelwat verduidelikings ontstaan oor hoe ons oor Hom moet dink. Party het gemeen Hy was God wat wel ’n menslike gedaante aangeneem het, maar nie ’n mens geword het nie. Ander het gedink Hy was ’n soort super-profeet wat deur God begenadig was met uitsonderlike gawes, sodat Hy mense kon genees ens. Eers later het teoloë by die begrip “twee nature” uitgekom: Jesus het ’n Goddelike natuur gehad, en ook ’n menslike natuur. Hy is regtig God, én regtig mens. Dit maak Hom uniek.

Met dié insig het die begrip “Drie-eenheid” ook gekom – ons aanbid net een God, maar in dié een Wese wat ons God noem, is daar drie Persone: Vader, Seun en Heilige Gees. Die hele Geloofsbelydenis van Athanasius bely dit.

 

God is die Gans Andere

As jou kop nou draai, moenie bekommerd wees nie. Dié begrippe oor God en Jesus is nie eenvoudig of selfs maklik verstaanbaar nie. Dit is waar wat die Switserse teoloog Karl Barth gesê het: God is die Gans Andere. In Jes 45:18 staan: “Ek is die Here; daar is geen ander nie.” Daarom, as ons oor Hom dink, moet dit altyd met die grootste ontsag en huiwering wees. “Om vir die Here ontsag te hê, is die fondament van kennis,” sê Spreuke 1:7 (Die Boodskap). Die Prediker (5:1) het gesê God is in die hemel en jy is op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.

 

Die misterie wat God omhul

As ’n mens dus oor Jesus se Godheid dink, moet jy dit met die grootste huiwering en piëteit doen. Daar is ’n grens aan ons denke en navorsing oor God. Hy bewoon immers ontoeganklik lig (1 Tim 6:16). Ons durf nie die misterie wat God omhul, deurbreek nie. Ons hoef ook nie. Ons kan dit net kinderlik-gelowig glo. Soos Dawid in Ps 131:1 getuig: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat by my vermoë is.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.