Hy sien haar dadelik raak toe sy by die vertrek inkom. Sy is nou nie beeldskoon nie, maar daar is iets aan haar; ’n soort beskikbaarheid wat sy aandag vang. Hy kan sy oë nie van haar afhou nie. Haar klere laat jou dadelik verstaan sy is vróú, en nie skaam om dit te wys nie. Die rompie is so kort dat sy liewer nie moet buk nie, en haar bloes is verder oopgeknoop as wat hy dink betaamlik is. Marié kry die apiestuipe as sy dié vrou moet sien, maar vir hom is dit mooi. Sy is nogal goed bedeeld. Toe sy by die tafeltjie langs syne gaan sit, sien hy sy het nie ’n bra aan nie. As sy net ’n bietjie vorentoe buk, sien hy dalk alles.
Sy sien hy kyk onderlangs na haar, maar sy kyk nie weg nie. Sy loer onder haar lang wimpers deur na hom en glimlag koketterig. Sy laat haar tong verleidelik oor haar rooi lippe gly, en knipoog.
As dit nie ’n uitnodiging is nie, weet hy sowaar nie. Hy skuif op sy stoel en kruis sy bene. Hy vat verbouereerd ’n groot sluk aan sy drankie en sien verbaas dat sy hande effens bewe.
“Oppas, Jan,” bevestig Steve sy vermoede. “Ek dink sy het planne met jou.”
“Ek sien,” beaam hy en probeer sy stem kalm hou, maar hy slaag nie heeltemal daarin nie. Sy hart klop te onstuimig in antisipasie van die opwinding en genot wat wag. Hy sal homself nie as ’n rondslaper klassifiseer nie, maar as ’n vrou nou haar attensies so duidelik aan hom opdwing, kan hy die kans darem nie laat glip nie. ’n Man bly darem mos ’n man …
“Ek dink ek moet haar nooi om hier te kom sit. Wat dink jy?” vra hy vir Steve.
Steve skud sy kop. “Liewer nie. Daai vrou is moeilikheid. Jy kan dit mos sien.”
“Wie sê vir jou ek is nie lus vir moeilikheid nie?” kap hy roekeloos terug. Hy kan Steve ook nie aldag verstaan nie. Hier is hulle in ’n vreemde stad vir ’n kongres. So ’n kans kry hy nie gou weer nie.
“Wel, as dit is hoe die wind waai, is ek weg,” sug Steve en staan op.
Steve is skaars weg toe sy langs hom kom sit. “Gee jy om?” Haar knie druk teen syne.
Hoe sal hy nou omgee? “Jy’s welkom,” glimlag hy gretig.
Sy sit haar hand op sy been, hoog op, en salige impulse ruk deur sy lyf. As haar hand net ’n klein entjie hoër wil skuif …
Met een sluk maak hy sy glas leeg. “Kom ons gaan na my kamer toe,” stel hy voor. “Ek het nog iets in die yskas daar wat ons kan drink.”
In die hyser leun sy met haar kop teen sy skouer, haar hand vertroulik by sy bo-arm ingehaak. Hy kan die sagte swelling van haar bors teen sy arm voel, en sy kop draai. Of is dit van haar parfuum? Sy vingers bewe toe hy die kamerdeur oopsluit.
Hulle het toe nooit by die drankie in die yskas uitgekom nie, besef hy later toe hy op die vliegtuig weer die aand onthou. Sjoe, maar sy was ’n wilde enetjie!
***
“Jy lyk sleg,” sê Steve een oggend, ’n paar weke later, toe hy by die kantoor instap. “Is jy siek?”
“Nee,” brom hy kortaf. Hy het hom voorgeneem om nie daaroor te praat nie, want die skande is vir hom net een te veel. Sy eie dogter. Hoe kón sy dit aan hom doen?
Maar Steve laat hom nie van stryk bring deur sy botheid nie. “Het jou vrou die kos verbrand?” probeer hy dit op ’n ligte trant hou.
“Nee.”
“Nou wat is dit dan? Moet net nie vir my sê Lize makeer iets nie.” Lize is sy dogter, sy hart se punt. Of liewer: was. Verlede tyd.
Skielik breek iets in hom, en hy bars uit: “Ja, dis Lize. Ek het haar gisteraand uit die huis gejaag. Sy is nie meer my kind nie. So, nou weet jy ook. Is jy nou tevrede?”
Steve hou sy hande omhoog. “Hey, Jan, vat dit kalm. Ek stel maar net belang.”
Hy kry skaam vir sy uitbarsting. “Jammer, Steve. Verskoon my asseblief. Ek is nie myself nie.”
“Maar wat het Lize dan gedoen?” hou Steve aan.
“Sy het haar soos ’n slet gedra, dis wat. En nou verwag sy. Nogal ’n tweeling! Om te dink hoeveel liefde ek op haar uitgestort het oor die jare, en dis die dankie wat ek kry. My eie kind! Ek skaam my dood.”
“En toe jaag jy haar weg. Sommer net so.”
“Wat anders kon ek doen? Marié het gehuil en probeer wal gooi, maar ek het vir haar gesê dis te laat om nou ’n sagte hart vir die klein flerrie te kry. Sy moes van beter geweet het as om met die eerste die beste kêreltjie in die bed te spring. Ag nee sies. Wat moet die mense van my dink? Ek het haar nie so grootgemaak nie.”
Steve antwoord nie; kyk hom net lank en reguit aan sodat hy later ongemaklik raak en vra: “Wat?”
“Nee, ek wonder maar net wat Marié en Lize sou gesê het as hulle jou nou die anderdag by die kongres gesien het met daardie wulpse vrou, jy weet. Dit het nie tóé gelyk of jy probleme met rondslaap het nie. Of het jy al daarvan vergeet?”
Steve se woorde slaan hom tussen die oë, sodat hy dronkerig terugsteier en op ’n stoel neerval. “Jy is reg,” prewel hy. “Ék is die vark, nie sy nie.”
Jan se verhaal is nie nuut nie; trouens, dit staan in die Bybel. Lees gerus Genesis 38, waar Juda niks daarvan dink om van ’n prostituut se dienste gebruik te maak nie. Maar toe hy later uitvind sy weduwee-skoondogter Tamar is swanger, gee hy opdrag dat sy gestenig moet word. Daardie storie het nog ’n ekstra kinkel, want Juda het lank voor dié voorval al sy plig teenoor haar gruwelik versaak.
Dít alles vergeet hy gerieflikheidshalwe toe hy hoor Tamar is swanger. Dis eers toe die bewys kom dat hý die pa van haar ongebore seuns is, dat hy tot sy sinne kom.
Dubbele standaarde is ’n lelike ding. G’n wonder nie dat Jesus ons vermaan dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal, want dan eers sal ons goed genoeg kan sien om die splinter uit ons broer se oog te verwyder (Matt 7:5).
Views: 31