Ons is almal geneig om op ’n manier ’n greep op God te probeer kry. Ons plaas alles wat ons van God weet, wat ons al van Hom beleef het, wat ons van Hom gehoor het, wat ons van Hom gelees het – al dié dinge plaas ons binne ’n verwysingsraam, sodat ons vir onsself kan sê: Dít is hoe God is.
Dis nie vreemd dat ons dit doen nie; dit is hoe ons gemaak is. Die probleem is net dat hierdie manier van dink oor God dikwels beperkend is en ons nie toelaat om God regtig te sien soos Hy is nie. Ons meet dinge wat met ons gebeur, situasies waarin ons kom, aan dit wat ons van God weet en hoe ons oor Hom dink, en dan besluit ons daarvolgens of God sal (kan) help of nie.
Ek glo wat ons almal nodig het, is om die beperkende rame wat ons om ons kennis van God trek, so ’n bietjie af te breek. Dit gebeur wanneer ons ontdek: God is anders as wat ons dink. God is sterker, Hy klink anders, Hy is nader, Hy werk anders, Hy luister beter, Hy praat anders as wat ek en jy dink. Ons moet leer om nuut te dink oor God, die raam van ons kennis van God wyer te trek, en – hopelik – oop te laat, sodat Hy ons telkens kan verras. God is anders as wat ons dink. Dit is wat Paulus in Rom 12:2 bedoel: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Ek het dit beleef toe ek my preek vir vanoggend gemaak het. Die skrywer van die een kommentaar wat ek gelees het, was nie bereid om God toe te laat om hom te verras nie. Sy rame was klaar netjies opgestel. Hierdie verhaal, het hy besluit, is nie geskiedenis nie, dit is ’n storie. Ek meen, dis tog duidelik. Sulke dinge gebeur net in stories.
Klink bekend, nie waar nie? Mense wat sê hulle aanvaar nie Jesus se maagdelike geboorte nie, want dit is medies onmoontlik. Of hulle glo nie in Jesus se liggaamlike opstanding nie. Dit kon nie gebeur het nie.
Daarmee bevind hierdie mense hulle in dieselfde kamp as Elisa se slaaf, en iemand soos Tomas, wat eers sy vinger in Jesus se wonde wou steek voor hy bereid sou wees om te glo. Want dít is die uitgangspunt van hierdie mense: sien is glo. Dit wat ek sien, dit wat wetenskaplik of empiries bewysbaar is, is my realiteit. En wat die slaaf gesien het, het hom nie juis kalm gemaak nie. Ons lees in vers 15: Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy ’n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?”
Ek herinner my aan ’n ander verhaal in die Bybel, by die uittog, toe die Egiptiese magte die Israeliete teen die Rietsee vasgedruk het, en die mense benoud op Moses begin skel het (Eks 14). Soos ’n Moses van ouds antwoord Elisa sy slaaf (vs 16): Moenie bang wees nie! Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant! Toe bid hy dat sy slaaf se oë moet oopgaan, en toe die slaaf opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.
Die magte van die Here het natuurlik nie eers verskyn toe Elisa gebid het nie; hulle was van die begin af daar. Dit is hoekom Elisa kalm kon wees te midde van die bedreiging. Hy het geweet God is nader aan hulle as wat sy slaaf gedink het. Want die slaaf se raampie van “sien is glo” het hom verhinder om die teenwoordigheid van God, die beskermende hand van God, te sien. Dit was eers toe Elisa vir hom gebid het, dat sy oë oopgegaan het vir die werklikheid van God se beskerming.
Dit hoef natuurlik nie nuus vir ons te wees nie. In Ps 34:8 staan daar: Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. En daardie Engel word met ’n hoofletter geskryf, wat eintlik beteken: God self. Dit het Jakob ook tot sy oorstelping ontdek toe hy op die vlug was vir sy broer Esau en in die nag by Bet-El die droom gehad het van die leer wat tot in die hemel reik, en die engele wat op en afklim. Toe hy wakker skrik, sê hy (Gen 28:16): Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie. Dit is hoekom Dawid in Ps 139:5 kan bely: U omsluit my van alle kante, en in vs 12: … vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag …
Hoor jy hierin die woorde van ons Here Jesus? Hoe het Hy nou weer gesê toe Hy sy dissipels gegroet het? En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. (Matt 28:20)
As ons met Elisa se slaaf se oë na die wêreld kyk, sal ons Hom nie sien nie. Want dit vra ’n ander manier van kyk, ’n geloofskyk. Dit vra dat ons God sal toelaat om ons gedagtes te verander deur ons denke te vernuwe, sodat ons nie met ’n “sien is glo”-ingesteldheid sal leef nie, maar met een van “glo is sien”. Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie, verduidelik die Hebreërskrywer (11:1).
Een van my mentors, dr Coenie Burger, vertel dat hy as jong predikant vir die Here gevra het om vir hom ’n leerbare gees te gee. Ons kan ook sê: dat die Here die beperkende rame van ons denke oor Hom moet afbreek, sodat Hy ons denke kan verruim en ons Hom kan toelaat om ons telkens weer te verras.
Dit was van Elisa waar. Daarom kon hy die Here se beskerming sien, en sy slaaf nie. Mag die Here deur sy Gees ook jou en my oë oopmaak, dat ons Hom elke dag in ons lewens en in ons wêreld sal sien. Want God is nader as wat ons dink!
Amen.